Samaria se Warriors terug op oefenveld
Samaria se Warriors terug op oefenveld

Samaria se Warriors terug op oefenveld

Volgende maand se Cosafa-toernooi in Durban, asook die CHAN-skouspel in Januarie is die nasionale groep se hoofprioriteite.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – 'n Nasionale oefengroep van 35 sokkerspelers versamel vandag in 'n bio-borrel ter voorbereiding op die Brave Warriors se internasionale verpligtinge in die komende weke.

Die Namibiese afrigter, mnr. Bobby Samaria, het gister die hervatting van die senior nasionale groep se verpligtinge op 'n nuuskonferensie bekend gemaak.

Vanweë die toutrekkery op administratiewe vlak wat Namibiese sokker vir maande sonder 'n aktiewe premierliga gelaat het, gevolg deur die nasionale noodtoestand en inperkings weens Covid-19, het die plaaslik gebaseerde senior spelers vir bykans tien maande geen bal in 'n wedstrydsituasie geskop nie.

“Sokker is hierdie manne se beroep en ek verwag dat hulle gou weer op dreef sal kom. Ons het 'n whatsapp-groep met die plaaslike spelers en hulle het 'n program van driloefeninge gehad waarmee hulle selfs tydens die strengste periode van die hoktyd fiks kon bly.

“Soos ek rondry, sien ek ook die manne in die strate ronddraf, so ek het goeie moed dat ons op die oefenveld weer aan die gang sal kom.”

Die Namibiese Sokkervereniging (NFA) het 'n uitnodiging van sy Suid-Afrikaanse eweknie ontvang dat Bafana Bafana op 8 Oktober 'n vriendskaplike internasionale wedstryd in Windhoek wil kom speel.

Die NFA-woordvoerder en nasionale spanbestuurder mnr. Tim Isaacs het egter gesê die vooruitsigte vir die wedstryd teen Suid-Afrika kan hopelik voor die weekeinde opgeklaar word, insluitend wat die stand van oorgrens reisbeperkings betref.

Dié datum kan ook bots met die Konfederasie van Suider-Afrika Sokkerverenigings (Cosafa) se streektoernooi wat bestem is om tussen 2 en 17 Oktober in Durban aangebied te word.

Gedurende November (op die naweke van die 9de en 17de) moet die Brave Warriors ook tuis en weg teen Mali uitspeel as deel van die Afrika Nasiebeker (Afcon) se kwalifiserende reeks om 24 spanne te bepaal wat in Januarie 2022 in die eindtoernooi in Kameroen sal meeding.

“Ons weet dat ons onder tydsdruk verkeer, met wedstryde wat net om die draai lê. Om dié rede begin ons oefengroep reeds (vanmiddag) en sal dan twee keer per dag op die oefenveld wees,” het Samaria gesê.

Namibië het reeds gekwalifiseer vir die Afrika Nasieskampioenskap (CHAN), wat op 16 Januarie 2021 afskop vir 16 lande wat net die topspelers in hul binnelandse ligas mag gebruik. Vandeesweek se terugkeer na die oefenveld is dus ook die eerste stap ter voorbereiding op dié skou­spel wat in Kameroen voorlê.



NAUSEB AANGESTEL

Samaria het gister ook vir Robert Nauseb as sy nuwe hulpafrigter aan die media bekendgestel.

Nauseb, 'n voormalige nasionale speler, sal op tussentydse grondslag die posisie van Woody Jacobs inneem wat in die afgelope weke sy bedanking ingedien het op grond van agterstallige salarisbetalings deur die NFA.

Nauseb het gesê dit was geen moeilike besluit om ja te sê toe hy deur Samaria hieroor genader is nie.

“Hierdie taak meng nie in met die verpligtinge van die nasionale vrouesokkerspan nie (waarvan Nauseb steeds as hulpafrigter diens doen).

“Ons het 'n rol te vervul vir ons land Namibië. As ek kan bydra om die taak op die hoofafrigter se skouers te help dra, sal ek dit met graagte doen. Ek ploeg graag terug waar ek kan in Namibiese sokker en met Bobby se ondervinding en stamboek weet ek dat ek ook baie kan leer deur met hom saam te werk.”

Op 'n mediavraag oor die prosedure ingeval 'n speler in die oefengroep positief vir die coronavirus sou toets, het Samaria gesê die spelers sal getoets word en positiewe gevalle sal uit die afgesonderde bio-borrel verwyder word.

“Hierdie groep van 35 spelers is in elk geval nie finaal nie en moet gesnoei word in die aanloop tot ons wedstryde.”

Die oefengroep wat vanmiddag om vieruur die eerste keer by die NFA-oefensentrum moet byeenkom, is:



DOELWAGTERS

Ratanda Mbazuvara, Ndisiro Kamai­yanda, Jonas Matheus, Immanuel Immanuel.



VERDEDIGERS

Vitapi Ngaruka, Emilio Martin, Ivan Kamberipa, Pat-Nevin Uanivi, Larry Horaeb, Gregory Aukumeb, Approcius Petrus, Rehabeam Mbango, Tjino­tjiua Tjiuana-Tja, Erasmus Ikeinge, Johannes Mutunga, Denzil Haoseb, Kleopas Nuukushu.



MIDDELVELDSPELERS

Dynamo Fredericks, Immanuel Heita, Ambrosius Amseb, Wendell Rudath, Gustav Isaak, Alfeus Handura, Lewellyn Stanley, Absalom Iimbondi, Wesley Katjiteo, Marcel Papama, Brandon Neibeb, Willy Stephanus.



VOORSPELERS

Elmo Kambindu, Issaskar Gurirab, Panduleni Nekundi, Mapenzi Muwanei, Monis Omseb, Hendrik Somaeb.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!