Samaria: Warriors kan net verbeter

Die waarnemende afrigter reken die senuwees behoort minder te knaag, met hul eerste sukses teen Comore agter die blad.
Die Brave Warriors sal Sondag in die Sam Nujoma-stadion hul balbesit moet beskerm indien hulle die knoop wil deurhaak in hul 2020 Afrika-Nasieskampioenskap (CHAN) teen Comore (afskoptyd 16:00).

Namibië hou 'n betekenisvolle voorsprong van 2-0 ná die eerste wedstryd wat verlede naweek in die eilandstaat se hoofstad Moroni gespeel is.

Dit was 'n briljante wegspring vir die tussentydse nasionale afrigter, Bobby Samaria, en hy sê die ys is nou gebreek.

“Die ouens is so honger om sukses te behaal. Jy kan sê dis nou eers rustyd vir ons – ons verwag dat die Comore sal terugveg, want dit is die situasie waarin hulle is.

“Dit is mos moontlik dat hulle dieselfde kan regkry wat ons gedoen het, dus moet ons die bal van hulle weghou en hierdie sakie afhandel,” het Samaria gisteroggend by die oefenveld gesê.

Die afrigter doen 'n beroep op Namibiese ondersteuners om in groot getalle te kom om die span te ondersteun.

“Dit is 'n nuwe hoofstuk en die manne is vasberade om hul eie geskiedenis te skryf.

“Hulle was die afgelope naweek fikser as die Comore en hulle kan net verbeter.

“Ons het nog niks bereik nie, maar met die ondersteuning van al ons landgenote kan ons die druk toepas en die doodskoot toe te dien. Daarom versoek ek my mede-Namibiërs om Sondag by ons aan te sluit,” sê Samaria.

Die eerstekeuse-doelwagter, Raranda Mbazuvara, het die oefening om familieredes misgeloop, maar sou gistermiddag weer aanmeld.

Wangu Gome en Petrus Shi­tembi het ook saam geoefen om fiks vir die nuwe seisoen te bly. Dié twee is aan klubs buite die landsgrense verbonde en kom dus nie vir die CHAN-kompetisie in aanmerking nie.

Samaria werk met ongeveer dertig spelers en sal môre die wedstrydgroep van 20 spelers aankondig wanneer hulle kamp toe gaan.

Kaartjies vir die deurslaggewende sokkerwedstryd in Windhoek word vooraf teen N$30 by Computicket-winkels verkoop, of kos N$50 by die hekke. Kaartjies is ook by Sokkerhuis in Katutura beskikbaar.

Die wenner van die twee kragmetings tussen Namibië en Comore sal in die derde en laaste ronde van kwalifisering teen óf Madagaskar óf Mosambiek te staan kom.

Dit sal die laaste hekkie wees om aan te sluit by die sestien spanne wat vir komende Januarie se 2020 CHAN-toernooi in Kameroen kwalifiseer.



ERITREA IN PAD VIR WB 2022

Namibië sal eerste teen Eritrea opgeweeg word in sy strewe om vir die 2022 Fifa Wêreldbekertoernooi in Katar te kwalifiseer, ná die loting wat Maandag by die hoofkwartier van die Konfederasie van Afrika-sokker(CAF) in Egipte uitgevoer is.

Hierdie rondte wedstryde is geskeduleer om tussen 2 en 10 September 2019 tuis en weg gespeel te word. Namibië sal eerste Eritrea besoek voordat hy die gasheer vir die herontmoeting sal wees.

In die loting vir die eerste rondte is eers net 24 van die laer gerekende Afrika-spanne in twee potte geplaas.

In reaksie op die loting het me. Hilda Basson-Namundjebo, voorsitter van Fifa se normaliseringskomitee vir Namibië, gesê die Brave Warriors het 'n gulde geleentheid om na die volgende ronde te vorder, want hulle kom te staan teen die land in die laagste posisie op die kontinentale ranglys.

“Ons is opgewonde en gereed om hulle te takel. Wat die struktuur van ons nasionale afrigtingspan betref, sal ons onsself uitspreek sodra die regte tyd aanbreek. Ons het net tyd nodig om die situasie deur te kyk. Die aanstelling van die regte afrigter is 'n belangrike een en daarom het ons tyd nodig,” het sy gesê.

Namibië het tans 'n waarnemende afrigter, Bobby Samaria, wat aangestel is om die span af te rig vir die kwalifiserende veltog vir die Afrika-Nasieskampioenskap in 2020, ná die verstryking van Ricardo Mannetti se kontrak.

Eritrea is in die laagste posisie op die vasteland se ranglys en word 202de uit die 211 spanne ter wêreld gereken.

Namibië is tans in die 121ste plek in die wêreld en 30ste in Afrika.

Die Fifa Wêreldbeker bly 'n ontwykende droom vir Namibië, wat sedert sy eerste poging in 1994 nog nie tot enige van die sewe toernooie sover kon deurdring nie. - NFA.org.na / Nampa

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!