Samherji pak skuld op Stefánsson

Samherji het 'n verklaring in Ysland uitgereik waarin hy ontken hy was by die kriminele aktiwiteite in die Fishrot-skandaal betrokke.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Die Yslandse visreus Samherji lê die skuld vir gebeure wat tot die Fishrot-korrupsieskandaal gelei het, voor die deur van sy voormalige besturende direkteur in Namibië, mnr. Jóhannes Stefánsson.

Dié vismaatskappy het gister in 'n verklaring sy hande in onskuld gewas. Sy uitvoerende hoof, mnr. Thorstein Már Baldvinsson, sê “geen kriminele oortreding is in Namibië deur vismaatskappye of hul werknemers namens Samherji begaan nie, buiten vir dít wat die voormalige besturende direkteur bely en erken het”.

Dié visgroep, een van die grootste ter wêreld, het gister die bevindings bekend gemaak van 'n ondersoek wat deur die Noorweegse regsfirma, Wikborg Rein, gedoen is oor die aard en omvang van sy Namibiese filiale se vermeende betrokkenheid by die betaling van omkoopgeld vir visvangregte en kwotas aan die staatsbeheerde Fishcor, asook aan Namgomar Namibia wat kwotas op grond van die bilaterale ooreenkomste tussen Namibië en Angola beheer het.

Samherji sê die ondersoek deur Wikborg Rein is gedoen sodat hy 'n voorlegging oor dié beweringe aan die Yslandse owerhede kan maak. Hoewel dit nog nie kon geskied nie, het Samherji besluit om solank die sleutelbevindinge van die ondersoek internasionaal bekend te maak.

Dié groep ontken dat enige van Samherji of van sy maatskappye se werknemers saam met die Fishrot-beskuldigdes vervolg word wat op 12 Julie weer in die hoërhof moet verskyn.

Samherji rep in die verklaring geen word oor die versoek wat deur die ministerie van justisie aan die owerhede in Ysland gerig vir die uitlewering van die Yslanders, mnre. Egill Helgi Arnason, Ingvar Juliusson en Helgason Adelstein, aan Namibië nie.

Die inwerkingstelling van die uitleweringsproses is vroeër deur me. Gladice Pickering, uitvoerende direkteur van justisie, aan Republikein bevestig.

Sy het verduidelik hoewel Ysland nie 'n uitleweringsooreenkoms met Namibië het nie, beroep laasgenoemde hom op internasionale regsinstrumente om hulle te vervolg.

Samherji sê die “uitgebreide ondersoek” toon kwessies rakende “sake-integriteit en geregtelike risiko's” in die bedrywighede van sy Namibiese filiale is nie voldoende afgeweer nie, maar hou vol geen kriminele oortredings is begaan nie.

Volgens die verslag het Samherji se filiale in Namibië plaaslike “konsultante” gebruik om kennis op te doen van die plaaslike visbedryf en marktoestande, insluitend toegang tot visvangkwotas en -regte.

“Sommige van die raadgewers het politieke bande gehad en een van hulle was later die voorsitter van Fishcor (mnr. James Hatuikulipi). “Hy en die mense na aan hom het op grond van 'n konsultasie-ooreenkoms dienste aan Samherji se maatskappye gelewer,” sê die visreus in sy verklaring.

“Hoewel die ondersoek toon die Namibiese konsultante het oor die jare grondige advies gelewer wat nie betwis word nie, is hulle sonder duidelike verduidelikings en ondersteunende dokumente vir hul dienste betaal,” sê dié Yslandse groep.

“Samherji verwerp die beweringe van omkopery, maar aanvaar die kritiek dat dit onder die omstandighede nodig was om meer aandag te gee aan hoe betalings gemaakis , aan wie dit gemaak is, op watter grondslag dit geskied het en wie die magtiging daarvoor gehad het.

“Die verslag toon ook die voormalige besturende direkteur van die maatskappye in Namibië het beduidende bedrae geld uit die maatskappye se rekenings onttrek sonder behoorlike verduidelikings daarvoor,” sê Samherji verder.

Volgens die groep is daar talle aanduidings dat dié geld “onbehoorlik” gebruik is, en voeg by hy (Stefánsson) het sy optrede en “verskeie ander kriminele aktiwiteite” waarby Samherji-maatskappye betrek is, erken.

Dit is op grond van Stefánsson se onthullings aan Wikileaks oor hoe Samherji te werk gegaan het, dat die Fishrot-skandaal in 2019 op die lappe gekom het.

Verder ontken Samherji in die verklaring dat sy maatskappye die struktuur help skep het waardeur Namgomar Namibia die ondertekening van 'n bilaterale ooreenkoms vir die toekenning van viskwotas deur die Namibiese regering aan die Angolese regering, bewerkstellig het. Meer as N$103 miljoen het glo deur middel van hierdie struktuur na Fishrot-begunstigdes gevloei.

Net so ontken Samherji dat hy geweet het geld wat ingevolge sy ooreenkomste aan die staat se vismaatskappy, Fishcor, oorbetaal is, as deel van die sogenaamde “regeringsoogmerk” na derde partye gevloei het.
[email protected]


FOTO
Mnr. Thorsteinn Már Baldvinsson, uitvoerende hoof van Samherji. Foto Samherji

Die Yslandse vismaatskappygroep Samherhi sê sy filiale het geen kriminele oortreding in Namibië begaan nie. Foto Samherji

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!