Samherji-werkers afgelu00ea
Samherji-werkers afgelu00ea

Samherji-werkers afgelê

ArticNam gaan pogings aanwend om die Heinaste terug te kry en hul werkers weer in diens te neem.
Leandrea Louw
Leandrea Louw – Sowat 210 werknemers van die vaartuie MV Saga en MV Geysir gaan aanstaande maand afgelê word.

Die werknemers is vroeër vandeesmaand gestrand gelaat nadat albei vaartuie enkele dae uitmekaar Namibiese waters verlaat het. Die eienaar, Samherji, sê die Saga het Namibië vir herstelwerk in Spanje verlaat, terwyl die Geysir in Mauritanië gaan visvang het.

Tydens ’n ontmoeting vandeesweek tussen die Nasionale Unie vir Namibiese Werkers (NUNW), die Namibiese Vakbond vir Voedsel- en Verwante Werkers (Nafau) en Saga Seafood is bevestig die werkers gaan afgelê word.

Die NUNW se visepresident, mnr. Phillip Munenguni, sê die werkers sal vandag hul kennisgewings in die verband ontvang.

“Die maatskappy het nie enige kwotas ontvang of enige ooreenkomste vir vangste met enige ander Namibiese maatskappye onderteken nie. Saga Seafood sal sy werksaamhede op 31 Maart 2020 in Namibië staak,” het hy gesê.

Volgens Munenguni sal konsepvoorstelle in terme van die arbeidswet vir werknemers opgestel word om hul afleggingspakkette te ontvang.

“Ons gaan amptelik met die werknemers oor hul afleggingspakkette vergader en bespreek hoe dit volgens ons wet betaal moet word,” het hy gesê.

Munenguni sê 32 werknemers is saam met die Geysir na Mauritanië. Dit is egter onduidelik wat met dié werknemers gaan gebeur.

“Ons wou van Geysir se bestuur weet of die werkers ook afgelê gaan word. Hulle het gesê dit hang van hul indiensnemingskontrakte af. Tans het ons geen idee wat gaan gebeur nie. Ons probeer met hulle kontak maak. Ons is bang die Yslanders gaan hulle aflê daar waar hulle is. Ons weet nie waar hulle is of wat met hulle gebeur nie, maar ons probeer ons bes om hulle op te spoor.”

Tydens nog ’n vergadering het die twee unies met ArticNam, ’n gesamentlike vennootskap tussen Namibiese aandeelhouers, en Samherji vergader, wat op die afgelegde werknemers van die Heinaste gefokus het.

Die Heinaste is tans in die besit van die Namibiese polisie nadat daar vir die tweede keer daarop beslag gelê is.

Die eerste beslaglegging was in Desember 2019 toe die vaartuig onwettig in Namibiese water visgevang het. Die kaptein, mnr. Angrimur Brynjolfsson (67) het skuldig gepleit en is vroeër vandeesmaand tot ’n boete van N$950 000 gevonnis. Die Walvisbaaise landdroshof het opdrag gegee die vaartuig moet met al sy dokumente aan sy eienaars terugbesorg word.

Die tweede beslaglegging was ingevolge artikel 28 van die wet vir die voorkoming van georganiseerde misdaad uitgevoer. Volgens die vereistes van die artikel word die vaartuig verbind met Samherji se beweerde omkopery van Namibiese amptenare, van sowat N$150 miljoen.

Werknemers van die Heinaste is verlede jaar afgelê, maar het nie die regte afleggingspakkette in ooreenstemming met die arbeidswet ontvang nie.

“Nie een van Samherji se verteenwoordigers het die vergadering bygewoon nie, maar verteenwoordigers van die Namibiese aandeelhouers, wat Epango Fishing en Synco Fishing insluit, het wel. Die idee was om vas te stel hoekom die werkers nie ten volle betaal is nie, hoewel daar ’n aantal voorstelle vir afleggingspakkette was.

Die Namibiese verteenwoordigers het aangedui hulle was onder die indruk die werkers het die vergoeding gekry wat hulle toekom. Hulle (die verteenwoordigers) is ook nie ingelig wat met die Heinaste en sy bemanning gebeur het nie.”

Munenguni sê dat hulle maniere ontwikkel het om saam met die Namibiese aandeelhouers van ArticNam te werk, om die owerhede oor die Heinaste te nader.

“Ons wil seker maak die vaartuig bly in Namibië en word tot voordeel van ons mense gebruik.”

ArticNam het aangedui hulle wil hul vaartuig terug hê en sal die afgelegde werkers weer aanstel. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer