Samsung het iets in die oog met nuwe Note 7
Samsung het iets in die oog met nuwe Note 7

Samsung het iets in die oog met nuwe Note 7

Jo-Mare Duddy Booysen
Hanlie Stadler - Die Samsung Note 7, wat ­Dinsdagaand in New York bekend gestel is, het tegnologie­webwerwe aan die gons.
Of die foon, met sy enkele nuwe ­eienskappe, Samsung Electronics se besteding aan ontwikkeling en ­bemarking sal beloon, is egter vir eers ’n ope vraag.
Die primêre verkoopspunt is seker dat dit een van min fone ter wêreld is wat jou iris met ’n ­infrarooi kamera skandeer om dit te ­ontsluit, pleks van die meer gebruiklike ­vingerafdruk-skandering.
Die irisskandering word ook ­afsonderlik gebruik wanneer jy met Samsung Pay betaal (wat ­­binnekort in Suid-Afrika land) en om dokumente wat in Android se wolkdiens op jou foon gebêre word, of spesifieke ­toepassings (apps), afsonderlik oop te maak – dit is nie ontsluit as die foon ontsluit is nie.
Dié slimfoon met sy skerm van 5,7 duim (14,25 cm) land op 19 Augustus in die meeste lande.
Samsung Electronics, wat Apple reeds in 2011 verbygesteek het as die topverkoper van slimfone wêreldwyd, hoop dat die Note 7 sy voorsprong sal laat rek. Apple se nuwe iPhone (na verwagting bekend as die iPhone 7) word eers in September bekend gestel. Volgens Statista het Samsung in die eerste kwartaal van 2016 24,5% van die mark beheer en Apple 15,3%.
Samsung moet ook sy oog hou op Chinese mededingers soos Huawei, wat ook Android as bedryfstelsel gebruik en al hoe meer gesofistikeerde fone bekend stel. Huawei is die derde grootste slimfoonvervaardiger, met ’n wêreldwye markaandeel van 8,2%.
Samsung het in 2015 meer as US$13 miljard aan navorsing en ontwikkeling­ bestee – byna dubbeld Apple se US$8 miljard. Samsung vervaardig ook mikroskyfies en skerms wat in ander fone – selfs iPhones – gebruik word.
Die enigste ander groot selfoonvervaardiger­ wat ook die harde­ware vir sy toestelle vervaardig, is Huawei.

USB C-verbinding
Die Note 7 volg op die Note 5. Daar was geen Note 6 nie.
Samsung het sy grootskerm-Note-­reeks­ in 2011 bekend gestel, op ’n tydstip toe almal hoe kleiner hoe beter fone gesoek het. Sedertdien het skerms weer al hoe groter geword soos wat mense meer video’s en programme op hul foon kyk.
Vir ’n rukkie lank is dié groot fone fablette (groter as ’n foon, kleiner as ’n tablet) genoem, maar dit het nie juis ’n gonswoord geword nie. Deesdae is omtrent al wat die Note van ’n ander foon onderskei die stilus­pen.
Soos Samsung se Galaxy S7-slimfoon,­ het die Note 7 ’n geronde skerm aan albei kante. Mense vir wie voorkoms saakmaak, kan kies uit vier kleure: Goud, swart, silwer en blou.
Seker een van die slimste ontwikkelinge­ is dat die foon gelaai word met ’n USB C-verbinding en nie meer met die mikro-verbinding wat tans algemeen is nie.
Die USB C-verbinding is kleiner as die USB-verbinding wat die meeste rekenaars (met die uitsondering van Apple Macs) nog aanvaar, maar al hoe meer produkte skakel oor na die nuwe standaard. Die nuwe verbinding het nie ’n bo- of onderkant nie.
Die bekendstelling van dié verbinding­ beteken dit gaan hopelik metter­tyd makliker raak om data van jou foon na jou rekenaar oor te dra en andersom.
Samsung het Dinsdag ook ’n nuwe weergawe van die Gear-kopstuk vir skynwerklikheid bekend gestel.

Nuwe eienskappe
Van die koel eienskappe van die Note 7 sluit in:
• Hoëdinamikareeks (HDR)-video beteken dat die gehalte van video’s verbeter.
• Die foon se stilus kan ook onder­water of as die skerm nat is, gebruik word. Die S Pen is glo aansienlik sensitiewer­ en voel meer soos ’n balpunt­pen.
• Die skerm is van die vyfde en nuutste weergawe van Gorilla Glass. Die firma wat dié bestande glas maak, Corning, sê jy sal jou foon tot 1,6 m kan laat val sonder dat die skerm kraak.
• Die foon se battery is sterker (3 500 mAh teenoor die Note 5 se 3 000 mAh).
• Die foon het 64 GB se interne bergings­ruimte, vergeleke met die Note 5 se 32 GB.
• Ander eienskappe van die foon, soos sy 12 megapieksel-kamera, plek vir ’n mikro-geheueskyfie, die Qualcomm­ Snapdragon 820-verwerker­ en 4 GB RAM, is dieselfde as vir die Samsung Galaxy S7-fone.
• Die foon word nog met die Android 6.0 Marshmallow-bedrystelsel­ bekend gestel, maar gaan glo binnekort­ tot Android 7.0 Nougat opgegradeer word.
- Netwerk24/Bloomberg/CNET/The Verge/Statista

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!