San by Wêreldjeug- Wildleweberaad

Stropery en oplos­sings vir wildmisdaad is in die Kruger Nasionale Park in Suid-Afrika bespreek.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg



Drie jong lede van die N/a'an ku sê Lodge se San-gemeenskap het die Wêreldjeug- Wildleweberaad in die Kruger Nasionale Park in Suid-Afrika van 21 tot 24 September bygewoon.

Marlice van Vuuren, medestigter en direkteur van die stigting, het Debe //Ao (23), Mattaus Kemp (25) en die 21-jarige //Uce Ao na die beraad vergesel.

Altesaam 150 jong bewaringsleiers en afgevaardigdes van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) het byeengekom om die huidige wildstroperykrisis te bespreek en oplossings vir wildmisdaad te vind.

Vanjaar se beraad het steeds op die renoster as ikoniese spesie gefokus, asook op ander geteikende Afrikadiere soos die ietermagô, leeu en olifant.

Die beraad se missie is om jong bewaringsleiers in wildbewaring en be­skermingstrategieë te bemagtig, op te lei en met kennis toe te rus om ambassadeurs in wildbewaring te word, asook om beleid op plaaslike, nasio­nale en internasionale vlak te beïnvloed.

Die Wêreldjeug- Wild­leweberaad is op twee suksesvolle berade van Projek Renoster en die Kingsley Holgate-stigting gebaseer om die jeug se stemme te laat hoor.

Debe, Mattaus en //Uce het hul storie namens die San-gemeenskap gedeel.

“Ons het vertel hoe belangrik dit is om stropery te bekamp en het ons eie kultuur as voorbeeld gebruik. As renosters uitgewis is, is dit klaar, so ook ons taal en kultuur,” het hulle gesê.

Hulle sê daar is nog te min aandag aan die San-gemeenskap se behoeftes gegee en meen hul unieke spoorsnytegnieke, stories en taal gaan verlore gaan as die San-jeug dit nie bewaar nie. “Die jeug moet wêreldwyd saamstaan om die ­bewaring van diere en landskappe voorkeur te laat geniet.”

Debe, Mattaus en //Uce sê hulle het baie geleer en is daarvan bewus gemaak dat stropery nie net in Afirka gebeur nie, maar dat verskeie spesies wêreldwyd gestroop word.

“Ons is geleer wat die maatskaplike, ekonomiese en politieke impak van stropery is. In Namibië speel toerisme 'n groot rol in die ekonomie en werkskepping.

“Ons besef nou hoe belangrik bewaring werklik is. Ons is ook aangemoedig om as leiers op te tree vir die jeug en om kennis aan hulle oor te dra, by gemeenskappe betrokke te raak en leiers te help met moeilike besluite oor bewaring.

Die drie meen San-­gemeenskappe op afgeleë plekke sit sonder werk.

“Soms is die enigste opsie om onwettig te jag, maar as hulle toerisme gebruik, skep hulle werk, help met bewaring en word van 'n inkomste vir die hele gemeenskap verseker.”

Debe, Mattaus en //Uce sê hulle het ook geleer hoe om verskeie metodes aan te wend om bewaring te bevorder – iets eenvoudig soos 'n toespraak by 'n skool of die gebruik van sosiale media.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!