San-gemeenskap sê hulle is in die bos vergete

Kla oor ’n gebrek aan infrastruktuur, droogtehulp
Gerine Hoff
’n Groep San-mense wat by die Kyarecan-nedersetting in die Sibbinda-kiesafdeling woon, sê die regering het hulle in dié gebied hervestig sonder om openbare dienste aan hulle te voorsien.
Tydens ’n besoek aan die gebied, het Kyarecan se hoofman, mnr. Jim Ben, aan Nampa gesê die regering het hulle in die “bos” agtergelaat waar hulle nou armoede, werkloosheid, ’n gebrek aan skoon water, krag en gesondheidsorg in die gesig staar.
Ben het gesê dat hoewel die water- en kraglyne deur hul nedersetting gelê is, word hulle nie daardeur bevoordeel nie. As voorbeeld het hy genoem dat die gemeenskap vir so lank as vier maande op ’n slag geen toegang tot droogtehulp het nie.
“Toe ons vier jaar gelede hervestig is, is ons huise met lopende water en toilette belowe. Maar dit het nie gebeur nie. Ons is in die bosse gelaat om na onsself om te sien. Ons het nie lewende hawe of plaastoerusting om onsself te onderhou nie,” het Ben gesê.
Hy het bygevoeg dat die 5 000 liter watertenk waarin hulle veronderstel is om drie keer per week vars water te kry, sedert Maart 2014 stukkend is, terwyl ’n kindertuinprojek wat die gemeenskap in 2012 begin het, sedertdien gestaak is weens ’n gebrek aan infrastruktuur en regeringsbystand.
Ben het voorts gesê dat meeste bejaardes in die nedersetting nie ’n pensioen ontvang nie omdat hulle nie oor Namibiese identiteitsdokumente beskik nie. In dieselfde trant het ’n gestremde, minderjarige seun ook nie toegang tot sy toelae van die ministerie van geslagsgelykheid en kinderwelsyn nie.
“Die gemeenskap kry brakwater uit ’n boorgat. Die enigste bystand wat ons van die regering gekry het, was die sinkplate vir ons modderhuise wat ook nou uitmekaar val omdat ons nie materiaal het om dit te herbou nie,” het hy gesê.
Ben het voorts beweer die Sibbinda-kiesafdeling se raadslid, mnr. Ignatius Chunga, het sedert die nedersetting se ontstaan nog net twee keer daar besoek afgelê. Die San-gemeenskap se ontwikkelingsbeampte in die kantoor van die president, mnr. Esdrus Kaseba, draai ’n dowe oor op hul klagtes.
“Ons voel afgeskeep. Sommige gemeenskapslede het hul huise verlaat en dorp toe getrek waar hulle oorleef op kos wat by die vullishoop weggegooi word. Sommige vroue verkoop hul liggame om te oorleef.
“Van dié wat in die nedersetting agtergebly het, voer baie ’n nomadiese lewenstyl van jag en versamel. Ons kry swaar en het hulp nodig,” het Ben sê.
Toe navraag gedoen wou word, het Kaseba se selfoon onbeantwoord gebly, terwyl Chunga s’n afgeskakel was. – Nampa

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!