San-gemeenskappe loof Shifeta
San-gemeenskappe loof Shifeta

San-gemeenskappe loof Shifeta

Minister vaar uit teen onwettige beweiding, heinings
Francoise Steynberg
Die N?a Jaqna (NJC) en Nyae Nyae (NNCFF) kommunale bewaringsgebiede en gemeenskapswoud word deur mense geteister wat hul vee onwettig in hul gebiede laat wei en hulle het die hulp van die minister van die omgewing en toerisme ingeroep.
“Ons is verheug deur die reaksie van die minister, mnr. Pohamba Shifeta, om ons te help met jare se misbruik van ons grond en regte op hulpbronne,” lui ’n mediaverklaring.
Shifeta het vroeër vandeesmaand tydens ’n mediakonferensie uitgevaar teenoor mense wat hul vee onwettig in San-bewaringsgebiede laat wei en heinings oprig. “Dit is ontstellend dat die San-gemeen­skappe verhoed word om hul natuurlike hulpbronne te oes of te gebruik waarvoor hulle goedgekeurde kwotas en permitte van die ministerie het.”
Die minister het gesê hy gaan dit nie duld dat dié gemeen­skappe se regte geskend word nie.
“Mense kan nie net hul beeste laat wei in ’n bewaringsgebied sonder die toestemming van en vergoeding aan die gemeen­skappe met regte op die grond nie.”
Shifeta het ’n beroep op bewaringsgebiede gedoen om sulke voorvalle te rapporteer en regsadvies in te win.
Die San-gemeenskappe verteenwoordig die twee grootste bewaringsgebiede en ’n gemeenskapswoud “met ons doelwit die volhoubare en verantwoordelike gebruik van hulpbronne tot ons beskikking onder die kommunale grond- en woudwette. Ons word deurentyd geteister deur mense wat onwettige plak, hul vee laat wei, heinings span en die wet nie re­spekteer nie”.
Hulle meen die gebrek aan respek van die wette lei tot oorbeweiding en beperk die toegang van die wettige tradisionele gemeenskappe soos NJC en NNCFF tot hul grond en hulpbronne.
“Hierdie grond is een van ons kosbaarste hulpbronne en gee aan ons lewe. Sonder dit sal ons gemeenskappe selfs meer gemarginaliseer word en nie ’n voorspoedige toekoms vir ons kan bou nie.”
Volgens mee. Sarah Zungu, adjunkvoorsitter van NJC, en Xoan//a /Ai!ae, voorsitter van NNCFF, het plaaslike owerhede en ministeries vir jare misluk om bekende en goed gedokumenteerde onwettige aktiwiteite te takel.
“Dit is uiters kommerwekkend, want dit is hul verantwoordelikheid om ons regte te beskerm, net soos die Namibiese regering en plaaslike owerhede die regte van alle Namibiërs moet beskerm,” sê hulle.
“Shifeta het hoop aan ons gegee en ons nooi hom uit na ons gemeenskappe. Hy sal die geraakte gebiede kan sien en hoe ons sukkel om ’n bestaan te voer omdat ander mense ons wette misbruik en dit nie re­spekteer nie.”
Die gemeenskappe hoop dat die ministerie van landbou, water en bosbou en die polisie saam met die ministerie van die omgewing en toerisme sal werk om aandag aan die voortslepende kwessies te skenk.
“Ons bedank ook die president vir sy Harambee-welvaartplan wat ons gemeenskappe ’n kans sal gee om te werk en uit al ons hulpbronne voordeel te trek,” lui die verklaring.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!