San in RSA mars vir beskerming van Kavango
San in RSA mars vir beskerming van Kavango

San in RSA mars vir beskerming van Kavango

Augetto Graig
Augetto Graig – San en Khoe gemeenskappe in Suid-Afrika, saam met ondersteuners, begin vandag ’n protesmars vanaf Knysna na Kaapstad om hul teenstand rakende hidrobreking in die ongerepte Kavango te kenne te gee.

Ses San leiers sal die bykans 500 kilometer te voet aanpak, en by San en Khoe gemeenskappe langs die oeroue roete, meer ondersteuners oortuig om saam te stap.

Die groep is gekant teen die natuurlike verwoesting, in die soektog na olie, van hul spirituele moederland in die Kavango, volgens ’n vrystelling wat Vrydag versprei is.

“Nie net is die Kavango ’n gebied van unieke skoonheid nie; dit bevat ook ekosisteme van wêreldwye belang en is die laaste oorblywende heilige grond wat steeds die oorsprongverhale van die wêreld se eerste mense, die San, en moontlik die hele mensdom,vertel en onderhou,” lees die vrystelling.

Volgens hulle is permitte vir die verkenning, boorwerk en uiteindelik die ontginning van olie en gas uit 3,4 miljoen hektaar van die Kalahariwoestyn in Namibië en Botswana reeds uitgereik.

Die begunstigde maatskappye in Namibië en Botswana is verwant en behoort aan ReconAfrica en die Renaissance Oil Corporation uit Kanada, sê die protesgroep. Die oliemaatskappye het die moontlike gebruik van hidrobreking genoem, indien hul soektog wel olie oplewer.

Die eerste eksplorasiegate is reeds in die Omatakorivier geboor.

Die protesgroep sal deur George, Albertinia, Riversdal, Swellendam, Bredasdorp, Gansbaai, Grabouw en verder tot in Kaapstad stap, om steun en handtekeninge te versamel vir hul beswaar, wat aan die regerings van Botswana en Namibië en ander internasionale instellings gelewer sal word. In die Kaap sal hulle na verwagting hul klagskrif by die Namibiese konsulaat-generaal indien.

Volgens die Namibiese Kamer vir die Omgewing (NCE) het ReconAfrica ingestem om môre (2 Februarie) openbare konsultasies oor hul olie- en gaseksplorasieprojek in Windhoek aan te bied.

Die twee vergaderings sal die breër projek en spesifiek die seismiese komponent dek, waarvan die omvangsverslag tans hersien word.

[email protected]

FOTO

San en Khoe ondersteuners in Sui- Afrika begin vandag ’n protesmars van bykans 500 kilometer vir die beskerming van die Kavango in Namibië. Foto Q 7

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer