San: Uiterste armoede strem vroeë kinderontwikkeling
San-gemeenskappe in Namibië is weerloos en afhanklik van die regering vir hul lewensbestaan.
Namibië is die tuiste van 'n beraamde 38 000 San, net minder as 1,4% van die nasionale bevolking.
San-gemeenskappe in die land is verspreid, maar word hoofsaaklik in die Noordooste gevind.
Soos ook die geval in ander lande in suidelike Afrika, is plaaslike San-gemeenskappe uiters arm, weerloos en afhanklik van die regering vir hul lewensbestaan. In Namibië is dié gemeenskappe aan die onderpunt van die leer vir indekse vir armoede en menslike ontwikkeling.
Hul armoede kan nagespoor word na dekades van marginalisering, uiters lae vlakke van formele onderrig, swak en gefragmenteerde leierskap, asook beperkte deelname en verteenwoordiging in nasionale politiek.
In 2011 het 58% van San-kinders nie skool bygewoon nie en slegs 6% tot die sekondêre skoolfase gevorder. Uit dié wat begin het in graad 1, sal net 'n skokkende 1% hul skoolloopbaan voltooi.
Die meerderheid van San-kinders verlaat die skoolbanke reeds voor die einde van die primêre fase.
Ondanks die waarde en belangrikheid wat op vroeë kinderontwikkeling (ECD) geplaas word, is daar in Namibië 'n relatief hoë aantal San-kinders wat nie sommige van die ECD-dienste gebruik wat wel beskikbaar is nie.
In Junie en Julie verlede jaar het die ministeries van geslagsgelykheid en kinderwelsyn asook onderwys, kuns en kultuur 'n studie oor die beskikbaarheid van dié dienste in San-gemeenskappe aangepak. Die jongste verslag het die huidige stand van ECD-programme onder San-gemeenskappe onder die soeklig geplaas en het gefokus op verkose nedersettingsgebiede in sewe van Namibië se 14 streke - Kavango-Oos, Kunene, Ohangwena, Omaheke, Oshikoto, Otjozondjupa en Zambezi.
Vyf inheemse San-sprekers uit vyf van Namibië se ses San-tale is gewerf om die navorsing te fasiliteer. Die navorsingspan het Ju|'hoansi, Naro, Khwe, !Kung en Hai||om ingesluit wat almal met die algemene spreektale van Afrikaans en Khoekhoegowab vertroud is.
Lang afstande
Verskeie struikelblokke is geïdentifiseer wat kinders daarvan weerhou om die sentrums by te woon.
Dit sluit in; Lang afstande, uiterste armoede en hul onvermoë om behoorlike klere vir hul kinders te bekostig, ouers wat gereeld reis, 'n gebrek aan voedingsondersteuning by sentrums, beperkte waardering van die belangrikheid en waarde van ECD-dienste asook alkoholmisbruik.
Voorts word die toegang na geïntegreerde dienste, insluitend gesondheidsorg, kindertoelae en die registrasie van geboortes, gekortwiek deur afstande, diskriminasie, taalgrense, 'n gebrek aan finansies om vir dienste en vervoer te betaal asook die swak kwaliteit van dienste wat wel verskaf word.
In die verlede het San-gemeenskappe sterk kinderopvoedingspraktyke gehad wat verskillende stimulasiemetodes en –tegnieke ingesluit het.
Vandag lyk die prentjie egter anders weens faktore wat meestal buite hul beheer is. Dit sluit onder meer uiterste armoede en marginalisasie in wat die San se manier van leef ontwrig en gevolglik hul sosiale strukture, kulturele instellings en familiebande laat verdwyn.
In die verlede is die San se tradisionele manier van kinders grootmaak gegrond in lang tye waartydens die kinders geborsvoed is, asook 'n wye verskeidenheid tradisionele medisyne en kosse direk uit die natuur.
Hegte San-gemeenskappe en families het 'n hele aantal opvoeders, voogde en versorgers gebied, maar met die ontwrigting van hul kultuur, familiebande en tradisies is dié opsies nou aansienlik minder.
Met verwysing na gesondheidsdienste sê die verslag dit is vrylik vir swanger vroue en kinders beskikbaar en word ook gereeld deur hulle gebruik. Tog is daar ook hier verskeie struikelblokke wat in hul weg staan en hul toegang tot dié dienste belemmer.
Dit sluit taal, uiterste armoede, lang afstande, lang rye by klinieke, betaling vir openbare vervoer, geletterdheid en die onbeskofte behandeling van San-pasiënte in.
Gemeenskappe weet ook nie waarop hulle geregtig is nie, hoe om vir maatskaplike beskermingsdienste aansoek te doen en wat die vereistes hiervoor is nie.
'n Hele aantal San-kinders het nie geboortesertifikate nie, hoewel die San die belangrikheid van nasionale dokumente besef en dat hulle geregtig is op staatsgefinansierde voordele soos pensioen en toelaes vir kinders.
Volgens die verslag kan geboortesertifikate vir kinders nie uitgereik word as die ouers nie nasionale registrasiedokumente het nie.
In teenstelling met 'n nuwe nasionale reël, is daar kantore van binnelandse sake wat steeds nie 'n geboortesertifikaat in die afwesigheid van een van die biologiese ouers van die kind (in die meeste gevalle die pa) uitreik nie. Ook hier is taal en kommunikasie, lang rye en ook die lang afstande na dienspunte 'n probleem.
Vervoertariewe om aansoek vir toelaes te doen, te min maatskaplike werkers (veral in landelike gebiede) om die aansoeke te evalueer, toelaes wat laat betaal word, en die misbruik van toelaes deur sommige versorgers en familielede kleur dié prentjie donker in.
Kindermishandeling is nie iets wat algemeen onder die San voorkom nie, maar daar is tog gevalle van kinderverwaarlosing wat in gemeenskappe aangemeld word.
Sou daar wél mishandeling plaasvind, sê die verslag dienste wat fokus op geslagsgeweld, is nie altyd toeganklik vir gemeenskappe wat in afgeleë gebiede woon nie. Ook verskaf die polisie dikwels nie die nodige ondersteuning sou daar verwaarlosing, mishandeling of geslagsgeweld betrokke wees nie.
Waar vroeë kinderontwikkelingsentrums (ECD) wél beskikbaar is, stuur ouers tog hul kinders na die sentrums. Maar weer is uiterste armoede, beperkte toegang danksy lang afstande, kulturele praktyke en beperkte hulpbronne 'n stok in die wiel.
Die meeste van die sentrums wat besoek is, se geboue was van sement en baksteen, maar 'n groot aantal was ook sinkstrukture of tente. Van dié strukture was al so verweer dat reën, stof en son deur die gate indring. By sommige vind onderrig in die oopte of onder 'n boom plaas. Sowat 50% van die sentrums het geen omheining gehad nie, wat die kinders se veiligheid in gevaar stel.
olifante
Die ECD-sentrum by Mutc'iku is in die middel van 'n bekende migrasieroete vir olifante en vars olifantmis was enkele kilometers van die sentrum te sien.
Hier het onderwysers aan die navorsingspan vertel van talle voorvalle waartydens olifante die perseel tydens klasse betree en dit ontwrig het.
Sommige ECD-sentrums soos dié by Gam, Ekoka, Mutc'iku, Oshivelo en Kyarecan het nie toilette nie en kinders en onderwysers is genoodsaak om die bosse te gebruik.
Byna al die sentrums se onderrigmateriaal is nie in San-tale nie, met die meeste wat in Engels of die dominante plaaslike taal is. Die meeste onderwysers of opvoeders kon geen geskrewe leerplan wys wat by die betrokke sentrum gevolg word nie. Volgens die meerderheid het hulle die kinders onderrig volgens hul eie ervaring of opleiding.
Beskikbare onderrigmateriaal was gebaseer op Bybelstories en relevant tot die geloof van die organisasie of persoon wat die sentrum finansier. Die ratio tussen kinders en opvoeder was in sommige gevalle een onderwyser vir 25 kinders wat maak dat elke kind nie die aandag kry wat nodig is nie.
Volgens die verslag het die meeste opvoeders ook nie die vereiste minimum opleiding van 12 weke om by 'n ECD-sentrum klas te gee nie.
Volgens ECD-riglyne moet opvoeders ten minste graad 6 sowel as die kursus van drie maande voltooi het.
Die kwaliteit van onderrig by die sentrums word voorts gekortwiek deur 'n gebrek aan opvoeders en sommige gemeenskappe opvoeders wat San-tale magtig is.
Onderrigmateriaal in dié tale, 'n gebrek aan speelgoed en toerusting en die versuim om by die standaardleerplan vir ECD-sentrums te hou, maak dat onderrig hier afgewater is.
Die ontwrigting van die San-kultuur en familiebande het baie jong San-ouers met beperkte tradisionele kennis gelaat oor wat hulle wél kan gebruik om hul kinders van jongs af te kan stimuleer.
ECD-sentrums wat nie aan die staat behoort nie, het die meeste van die tyd nie voldoende hulpbronne om van toerusting tot kos aan die kinders te verskaf nie. Van dié sentrums het ook nie ordentlike kombuis- en toiletgeriewe en skoon water nie.
Sowat die helfte van die betrokke ECD-sentrums het nie werkende toiletgeriewe nie en sommige het 'n hoë aantal kinders in vergelyking met toilette wat wel beskikbaar is.
Volgens die Namibiese standaarde vir ECD-sentrums moet daar twee toilette en een wasbak vir elke 20 kinders wees.
Nie een van die ECD-sentrums wat as deel van die opname besoek is, het 'n basiese noodhulpkissie gehad nie, terwyl opvoeders geen opleiding of kwalifikasie in noodhulp het en wat soos deur die nasionale beleid vir ECD-sentrums voorgeskryf word nie.
Skamele subsidies vir opvoeders word nie gereeld betaal nie en dié bedrae wat reeds min is, word ook nie aangepas om in tred met inflasie te bly nie.
San-gemeenskappe is uiters arm en is afhanklik van staatshulp, pensioenuitbetalings en hier en daar se stukwerk vir hul oorlewing.
Die meeste San-ouers sukkel om gesonde en voldoende maaltye aan hul kinders te verskaf omdat ouers dikwels werkloos is.
Borsvoeding is steeds die hoofbron van voeding vir babas, maar ook hier is faktore wat dit kniehalter. Dit sluit onvoldoende voeding vir die ma, alkoholmisbruik, MIV- en TB-infekterings en die onervarenheid van tienerma's in.
Verskillende regeringsprogramme wat kos aan die San verskaf, word volgens die verslag ook nie ordentlik gekoördineer nie.
Die voorkoms van geslagsgeweld in San-gemeenskap laat volgens die verslag die rooi ligte flikker.
Om dit te takel, is dit nodig dat bewusmakingsveldtogte in die verband ook in veral afgeleë gemeenskappe gevoer word. Plaaslike lede van die San-gemeenskap moet betrek word met uitreike na ander gemeenskappe en ook die vertaling van boodskappe en inligting wat fokus op geslagsgeweld.
Volgens die verslag is die betrokkenheid van San-gemeenskappe en ouers by ECD-sentrums minimaal en was daar slegs 'n paar geïsoleerde gevalle waar ouers aangebied het om te help. Die meeste van die sentrums se ouerkomitees bestaan of nie meer nie, of dien geen doel nie. Ook is daar weinig motivering of begrip van hul rol in die werksaamhede van die sentrums.
• Bron: Participatory Rapid Assessment of Integrated Early Childhood Development Programs amongst San Communities in Namibia

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie