Sandman skop vakansieseisoen af

Swakopmund is Sondag weer die gasheer vir die FNB Sandman-driekampbyeenkoms.
Tielman van Lill
Die FNB Sandman-driekampbyeenkoms vind Sondagoggend vir die 34ste keer by die Mole in Swakopmund plaas.

FNB borg die gewilde kompetisie al die afgelope 14 jaar met OTB Sport wat vanjaar opnuut die jaarlikse instelling organiseer.

Deelnemers (individue en spanne) kan vir vier verskillende afstande inskryf: Ultra: 1,9 kilometer swem, 90 km fietsry en 21,1 km hardloop; Standaard: 1 km, 40 km en 10 km; Sprint: 400 meter, 20 km en 3 km; Mini: 150 m, 6 km en 3 km.

OTB Sport sê: “Daar is sterk mededinging by vanjaar se byeenkoms en ons verwag 'n opwindende wedloop in die onderskeie afstande. Sonder die ruim borgskap van FNB sou dit baie moeilik gewees het om die Sandman vir so lank aan te bied.

“Ons is ingenome om weer 'n kompetisie aan te bied wat plaaslike inwoners sowel as buitelanders geniet en hulle elke Desember laat terugkeer.”

By die Ultra (elite mans) is Konrad Marais die gunsteling en die verdedigende kampioen, maar hy kan sterk mededinging van Herbert Peters verwag. Peters neem vanjaar die eerste keer in die ultra-afstand deel.

Horst Neuman is die gunsteling by die veterane. Neuman is 'n sterk fietsryer en kan beide Marais en Peters strawwe teenstand bied.

'n Oorwinning deur David Gardner van Zimbabwe in die meesters-afdeling is nie uitgesluit nie. Indien Gardner Sondag weer wen, sal dit sy sesde meesterstitel wees.

Die elite mans behoort die ultra-afstand tussen 4 ure 20 minute en 4 ure 50 minute te voltooi. Die weerstoestande sal ’n groot rol speel; veral die wind met die 90 km fietsry.

Benita Kasch het die elite vroue-afdeling van die ultra in 2018 en 2019 gewen en is ‘n gunsteling om weer so te maak. Anri Krugel is ook goed op peil en kan Kasch opdraende gee. Gerda Horn, wat onlangs die meestersafdeling by die Mariental-driekamp gewen het, sal na verwagting opnuut 'n oorwinning in die ouderdomsgroep behaal.

STANDAARD

‘n Opwindende wedloop word tussen die 20-jarige Divan du Plooy en JG van der Westhuizen (19) voorspel. Du Plooy het die 2020-byeenkoms in 1:58:10 gewen en kan Sondag moontlik sy tyd verbeter.

In beide die sprint- en mini-kompetisies sal die mededinging tussen die 15-jariges sterk wees.

“Ons by OTB Sport bedank African Marketing wat die watertafels, produkte en personeel vir etlike jare borg asook Berocca, OSH-Med en E.M.A wat help met mediese ondersteuning en reaksie,” het die organiseerder gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!