S&P: 'Dinge lyk sleg vir kredietstatus'
Elvira Wood
Eskom se skuld, die twis in die mynsektor oor die Mynbouhandves, die tegniese resessie waarin die land is en politieke onstuimighede is alles elemente wat Suid-Afrika se kredietgradering verder kan laat daal.
Gardner Rusiki, ontleder van soewereine krediet by Standard & Poor's (S&P), sê op grond van die kernelemente wat 'n land se soewereine kredietwaardigheid bepaal, lyk dinge nie goed nie. Rusiki was een van die sprekers by 'n gesprek oor Suid-Afrika se kredietgradering wat Vrydag deur die departement van handel en nywerheid by die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika se kantoor in Midrand, Gauteng, gehou is.
Rusiki het herhaaldelik daarop gewys dat die afgradering van die land se kredietstatus 'n lang pad kom en nie skielik die gevolg is van onlangse politieke onstuimigheid nie. Die besluit oor 'n land se kredietgradering is nooit net op een gebeurtenis gegrond nie.
Hy sê daar is al 'n hele paar jaar ekonomiese aanwysers wat konstant agteruitboer. Die feit dat die huidige “politieke siklus” soos wat hy dit noem, met 'n ongunstige ekonomiese klimaat saamval, is volgens hom ongelukkig vir Suid-Afrika.
Rusiki sê die geskiedenis wys Suid-Afrika het nooit van die wêreldwye finansiële krisis in 2008 herstel nie.
Hoewel Suid-Afrika se soewereine skuld in 2010 op beleggingsgraad gegradeer is, was daar tóé reeds krake.
S&P het Suid-Afrika se staatskuld begin April afgegradeer, wat staatskuld in rand op die laagste beleggingsgraad plaas en staatskuld in buitelandse geldeenhede een trappie laer, op rommelstatus. Fitch Rating het, ook in April, albei graderings tot rommel afgegradeer. In Junie het Moody's Investors Service alle staatskuld met een vlak afgegradeer, maar dit bly net-net op beleggingsgraad.
Rusiki wys daarop dat Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) per capita sedert 2010 van sowat US$8 000 tot onder US$6 000 gedaal het. Staatskuld as persentasie van die BBP het van net meer as 24% in 2008 tot sowat 50% tans toegeneem.
Rusiki waarsku veral die mynbousektor moet sy beleidsgeskille bylê en staatsbeheerde organisasies soos Eskom moet hul bestuur in orde kry om die risiko's vir die regering se vermoë om sy skuld te betaal, te verminder. Anders is daar 'n goeie kans dat kredietgradeerders die land se skuldgradering binnekort verder kan verlaag.
Goeie tekens
Goeie tekens wat S&P wel sien, is groter eenheid in die regering om op beleid te fokus. “Politieke siklusse kom en gaan. Dit hang alles af van hoe die regering in 'n siklus by sy fiskale beleid bly en ander beleid toepas. Daar moet nie net daaroor gepraat word nie, dit moet toegepas word,” sê hy.
Rusiki sê Suid-Afrikaners moet ook onthou dit is nie net Suid-Afrika wat onlangs afgegradeer is nie. Lande soos Rusland en Brasilië het ook deurgeloop.
Wat S&P onrustig maak oor Suid-Afrika, is die feit dat die wêreldekonomie stabiliseer terwyl die plaaslike ekonomie wankelrig bly.
Volgens S&P se statistieke was die kortste tydperk wat 'n land dit nog reggekry het om homself van rommel- tot beleggingstatus te lig, sowat twee jaar. Die langste tydperk was sowat 19 jaar.
Dit is op grond van data sedert die vroeë 90's. Dit beteken dus dat dit 'n land gemiddeld sewe tot agt jaar neem om sy kredietwaardigheid te herstel.
Net nege uit 24 lande wat S&P sedert die vroeë 90's tot niebeleggingsgraad of rommelstatus afgegradeer het, kon dit regkry om hul soewereine skuldstatus weer tot beleggingsvlak te verhoog. S&P maak weer in November sy kredietoorsig oor Suid-Afrika bekend. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie