SAu2019ners moedeloos oor hul geldsake
SAu2019ners moedeloos oor hul geldsake

SA’ners moedeloos oor hul geldsake

Karin Eloff
Elvira Wood – Asof politieke onsekerheid en kommer oor negatiewe makro-ekonomiese omstandighede nie genoeg is om Suid-Afrikaners moedeloos oor hul geldsake te maak nie, sukkel hulle boonop om dit behoorlik te bestuur.

Dit is die bevinding van Momentum en Unisa se jongste Welvaart-indeks.

“Die 2018-indeks wys ’n gebrek aan persoonlike bemagtiging is die spreekwoordelike doring in die vlees van die meeste Suid-Afrikaners,” sê Johann van Tonder, ekonoom van Momentum en een van die samestellers van die indeks.

“Dit is omdat huishoudings moedeloos is weens die omstandighede waarin hulle hul bevind, en ook nie kennis en feite tot hul beskikking het oor ’n aantal sake nie,” sê hy.

Persoonlike bemagtiging is een van vyf onderafdelings van die algehele indeks. Die punt vir dié afdeling het van 5,1 in 2017 tot 4,8 in 2018 gedaal.

“Hierdie beduidende daling kan toegeskryf word aan politieke onstabiliteit en negatiewe makro-ekonomiese gebeure wat buite die beheer van huishoudings is. Wanneer die tellings van huishoudings wat goed en swak vaar met mekaar vergelyk word, wys dit egter dat die meeste Suid-Afrikaanse huishoudings nie eens die veranderlikes wat binne hul beheer is, goed bestuur nie,” skryf die navorsers.

Van Tonder werk saam met prof. Carel van Aardt van Unisa se Buro vir Marknavorsing, en prof. Bernadene de Clercq van Unisa se departement van belasting, om dié indeks saam te stel.

Gedragsverandering die sleutel

“Toegang tot kundige finansiële advies en die ontwikkeling van finansiële vaardighede sal huishoudings in staat stel om finansiële besluite te neem wat ’n positiewe uitwerking op omstandighede sal hê,” sê Van Tonder.

Daar was nie ’n groot verandering van 2017 tot 2018 ten opsigte van die indeks as geheel nie. In 2017 was die algehele telling 67,9 punt, teenoor 67,8 in 2018.

Enige punt laer as 60 beteken mense se geldsake is onstabiel. Tussen 60 en 79 gaan dit al beter, maar groot veranderinge kan hulle óf onstabiel óf stabiel maak. ’n Punt tussen 80 en 100 dui daarop dat dit finansieel goed gaan.

Nontokozo Madonsela, bemarkingshoof van Momentum, sê in ’n verklaring die navorsing wys dat selfs klein gedragsveranderinge ’n groot verskil aan huishoudings se welvaart kan maak.

“Gedragsverandering bly steeds die fundamentele veranderlike onder die 25% van Suid-Afrikaners wat as finansieel goed daaraan toe geklassifiseer kan word, en die 75% wat nié in dié groep val nie,” sê sy.

Die vyf veranderlikes wat gebruik word om die indeks saam te stel is:

· Lewensomstandighede;

· Die lede van die huishoudings se onderwysvlak;

· Netto welvaart wat gemeet word deur die waarde van bates en laste te bereken;

· Die huishouding se inkomstestaat waar gekyk word na inkomste en uitgawes; en

· Die huishouding se persoonlike bemagtigingsvermoë wat bepaal word deur hul vermoë om beheer te neem van hul finansies en hul vertroue in instellings.

Dié punte word dan uit ’n totaal van 100 verwerk vir die algehele indeks.

Die enigste twee afdelings waarvan die punte gedaal het, was vir persoonlike bemagtiging en lewensomstandighede. By laasgenoemde het dit van 7,4 in 2017 tot 6,9 in 2018 gedaal. “Dit wys dat huishoudings sukkel om toegang tot die nodige hulpbronne te kry om hul lewensomstandighede te verbeter.”

Die telling in die ander afdelings het bykans onveranderd gebly. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer