Sanet Lambrechts se nuwe enkelsnit tref luggolwe vandag

Sangeres wil selfaanvaarding aanmoedig
Yandi Du Plessis
Sanet Lambrechts is ’n gesoute Namibiese sangeres en liedjieskrywer wat sedert 2013 reeds diep spore in die Afrikaanse musiekbedryf getrap het.

Op ses-en-veertig spog sy reeds met drie ATKV-toekennings, vier suksesvolle albums, treffers op Suid-Afrikaanse, Namibiese, Japannese en Amerikaanse radiostasies en ’n temalied vir die kykNET-program Sing in Harmonie.

Sy is doelgerig om mense met haar musiek te bereik en daarom het sy pas ’n splinternuwe enkelsnit uitgereik wat beslis die sukses van sy voorgangers gaan oortref.

“Binne en Buite”, Sanet se nuutste enkelsnit, word vandag vrygestel en kan tans op al wat ’n radiostasie is gehoor word.

Hierdie polsende popsnit, uit die pen van Julanie J, moedig luisteraars aan om nie bang te wees om vir mense te wys wie hulle regtig is nie en die musiekvideo, wat op 25 Februarie die lig sien, is spesifiek saamgestel om hierdie boodskap verder te beklemtoon.

Ben van der Walt van Bosman Films, ’n opkomende filmmaker wat onlangs sy eerste vollengte film Woestynpsalm geskiet het, is die regisseur van hierdie besonderse video wat by Die Tannery buite Windhoek en naby Elisenheim verfilm is.

“Die video is in ’n pakhuis geskiet en bestaan uit tonele van mense in verskillende omstandighede waar hulle soms hulself wys en ander kere nie. Dis in die aand geskiet en beligting is slim aangewend om binne- en buitekant van mense uit te beeld,” verduidelik die musikant.

“Soms is ons binne en buite onsself alleen, ongeag hoeveel mense daar rondom ons is. Ons wys nie altyd ons ware kleure nie, omdat ons mekaar dalk nie regtig ken nie. Partykeer is jy egter gelukkig genoeg dat iemand oopmaak, of dat jy hulle kan raaklees sonder dat hulle nodig het om iets te sê.”

“Binne en Buite” volg in die voetspore van drie 2020-vrystellings – “Sien Jy Nie”, “Alles Wat Jy Is” en “Hemelse Vader” wat baie goed ontvang is en deel vorm van haar digitale album Alles Wat Jy Is, wat gedurende die inperking uitgereik is.

Vir Sanet, wat op ’n plaas in die Gobabis-omgewing grootgeword het, is sing soos asemhaal. Sy het reeds op skool begin met musieklesse en -opleiding en het gereeld opgetree as agtergrondsanger vir groot sterre soos Manuel Escorcio, wyle Bles Bridges, Ronnie Belcher, Hessel van der Waldt en ander as hulle in Namibië getoer het.

Buiten vir musiekkwalifikasies in verskeie instrumente, teorie en sang van Unisa en Trinity College, het sy ook grade in Afrikaans en sielkunde, asook ’n nagraadse diploma in onderwys.

Ná skool was sy betrokke by M Factor, ’n gewilde musiekgroep in Windhoek, en het sy ook as musiekonderwyser gewerk om die pot aan die kook te hou.

Sanet beskryf haarself as ’n geestelike en sekulêre sanger met ’n sterk stem wat goed werk vir popmusiek. Sy het groot bewondering vir musikante wat uniek en kreatief is en vind aanklank by Riana Nel, Theuns Jordaan, Karen Zoid, Steve Hofmeyr, Amanda Strydom en Anna Davel se musiek. Sy sal ook graag eendag saam met Joshua na die Reën, Len Muller, Janie Bay en Die Heuwels Fantasties wil werk.

Oor die jare het sy heelwat loopbaanhoogtepunte behaal, waaronder twee ATKV-bekroonde albums (Rooi Kalaharisand en Dorsland), verskeie musiektoekenningbenoemings en talle radiotreffers plaaslik en oorsee. Sy is ook 2020 aangewys as die Namibiese Vrouevereniging se kunstenaar van die jaar en het al die voorreg gehad om die verhoog met talle groot name te deel, waaronder Lianie May, Theuns Jordaan, Elvis Blue, Nianell, Loyiso, Gerhard Steyn, Louis Brits en vele meer.

Die grootste les wat sy geleer het in haar musiekloopbaan is om nederig en dankbaar te bly en aan te hou sing – want waar ’n wil is, is daar ’n weg. “Ek voel geseënd en dankbaar vir alles wat ek al op my pad bereik het en moontlik nog gaan bereik,” deel sy.

Tans woon sy op ’n plaas buite Windhoek, waar sy aan haar kreatiwiteit vrye teuels kan gee om aan haar musiek en ander toekomsplanne, wat ’n kortfilm-projek vir VIA insluit, te werk en na hartelus voor te berei vir haar verhoogoptredes.

Met “Binne en Buite” gaan sy beslis haar plek in musiekharte verstewig en weereens wys hoekom sy reeds so gewild is.

Kommentaar

Republikein 2024-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 37° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 20° | 26° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 19° | 27° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 24° | 35° Keetmanshoop: 21° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 28° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 39° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 16° | 24° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 22° | 35° Harare: 22° | 33° #REF! #REF!