Saracens glo op Janco se spoor

Die Engelse kampioenklub is agter die skerms aan die werskaf vir aanstaande seisoen se nuwe werklikhede.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Ondanks sy regsprobleme weg van die speelveld en hul komende relegasie na die RFU-kampioenskap, is die beleërde Engelse spogklub Saracens steeds daarop uit om sy spelersgroep te versterk.

Die Namibiese agtsteman en seweflank Janco Venter is een van die spelers wat die afgelope dae volgens gerugte met ’n skuif na Saracens verbind word.

Rugby Inside Line, ’n Twitter-blad wat as ghoeroes op die gebied van vroeë gerugte van skuiwe in die rugbymark beskou word, het Vrydag getwiet hulle verneem dat Saracens drie spelers van Kampioenskap-klubs wil werf met die oog op aanstaande seisoen.

Hul eerste teiken is glo Ealing se senter Harry Sloan, wat ’n paar jaar gelede ’n lid van Engeland se onder 20 Wêreldbeker-wenspan was. Die sterk 25-jarige speler word geoormerk om die plek in te neem van Saracens se jarelange staatmaker Brad Barritt, wat na verwagting die klub gaan verlaat.

Die ander twee is beide van die Jersey Reds.

Alec Clarey is ’n growwe 26-jarige Engelse vaskopstut van 121 kg, terwyl Venter ’n lang, atletiese losvoorspeler is wat Namibië reeds in 28 toetse verteenwoordig het. Dit sluit die 2015 en 2019 Wêreldbekers in.

Die 25-jarige Venter is ’n sterk baldraer en vaardige lynstaanwerker (107 kg, 1.94 meter) wat vir Maties uitgeblink het voordat hy sy eerste beroepskontrak in Maart 2018 met die Jersey Reds gesluit het. Sy klub is tans vyfde uit die 12 spanne in die Kampioenskap.

Sarries het ook verlede week sy aanwins van die jong Fidjiaanse toetsstut Eroni Mawi (23) aangekondig.

BORG VERLAAT SARACENS

Saracens betaal steeds ’n duur prys nadat hy die Engelse Premierliga se beperkings met betrekking tot die salarisse van spelers oortree het.

In die nadraai van Saracens se relegasie aan die einde van die seisoen uit die Premierliga, het sy hoofborg ook besluit om die pad te vat.

Die Duitse versekeringsmaatskappy Allianz het volgens die BBC aangekondig dat hy sy bande aan die einde van die seisoen met Saracens gaan verbreek.

Allianz was sedert 2012 ’n borg van die huidige Premierliga-kampioen (volgens berigte met sowat 2 miljoen pond per jaar) en het onder meer die titelregte vir die span se stadion in Londen asook naamregte op die truie besit. Die borgskap sou aanvanklik tot aan die einde van 2021 van krag wees, maar die twee partye het gesamentlik besluit om dit ’n jaar voortydig te beëindig.

• Minstens twee lede van Engeland se rugbyspan het reeds aangedui hulle is van plan om by Saracens aan te bly, al speel dié klub nie volgende seisoen in die Premierliga nie.

Die heelagter en vleuel Elliot Daly oorweeg dit nie om ’n ander heenkome te kry nadat Saracens die trekpas uit dié kompetisie gekry het nie.

Dit kom nadat die Engeland-haker Jamie George verlede week bevestig het ook hy gaan by die klub aanbly.

“Ek dink ek gaan, soos Jamie, by die klub bly. Ek is steeds onder kontrak,” het dié veelsydige agterspeler gesê.

“Ons het die res van die seisoen om dinge uit te sorteer. “Ek dink op die oomblik net aan die volgende paar wedstryde vir Engeland (in die Sesnasies-reeks).

“Wanneer ons terug is by Saracens, sal ons oor volgende jaar begin gesels.”

Daly se Engeland-spanmaats Owen Farrell, Maro Itoje en Billy en Mako Vunipola, het egter nog nie aangedui of hulle gaan aanbeweeg nie.

Daly, wat pas van Wasps by Saracens aangesluit het toe die bom gebars het, sê dit is ’n gewigtige saak, maar dat Saracens die beste van die saak maak.

“Ek dink die wyse waarop die saak deur die besluitnemers hanteer word, is prysenswaardig. Dit gee my gerusstelling dat daar ’n plan is vir die pad vorentoe.”

LAER LIGA

Saracens se ondergang is een van die mees skouspelagtige gevalle in die geskiedenis van klubrugby – ná vier Engelse premierliga-titels in die laaste vyf jaar, asook drie uit die laaste vier Europese Beker-titels wat meer as enige ander Engelse klub is.

Die uitgetrede Namibiese losvoorspeler Jacques Burger het 104 wedstryde vir Saracens gespeel terwyl hy vanaf 2010 tot 2016 daar gekontrakteer was. Die klub het in dié tydperk drie Engelse titels ingepalm.

Ironies genoeg het die Engeland Rugby-unie (RFU) verlede week op omstrede wyse aangekondig dat hy sy finansiering aan die 12 klubs op die tweede vlak (die Kampioenskap) dramaties gaan besnoei.

Nadat die dosyn klubs tot nou 8 miljoen pond per jaar tussen hulle kon verdeel, sal dié bedrag aanstaande seisoen net 4.3 miljoen pond beloop.

Die Kampioenskap is tans die speelveld vir vyf Namibiese beroepspelers – Janco Venter (Jersey Reds), Wian Conradie (Doncaster Knights), Darryl de la Harpe, Prince !Gaoseb en André Rademeyer (Yorkshire Carnegie).

– Bykomende bronne: Netwerk24, bbc.com, rugbypass.com, Wikipedia

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!