SARB hou rentekoers op 7%
Hanlie Stadler - Suid-Afrikaanse verbruikers met skuld het gistermiddag nog ’n bietjie grasie gekry toe die rentekoers onveranderd gelaat is.
Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het in Pretoria aangekondig die monetêrebeleidskomitee hou die repokoers vir die derde agtereenvolgende sitting van die komitee onveranderd. Die repokoers (die rentekoers wat die Reserwebank van banke vra) is laas in Maart tot 7% verhoog. Dit beteken banke in die buurland se prima rentekoers bly 10,5%.
Die besluit is alom verwag, deels danksy die sterker rand van die afgelope maande en die feit dat inflasievooruitsigte verbeter het. Inflasie was in Augustus 5,9%, het Statistieke Suid-Afrika Woensdag bekend gemaak. Dit help ook dat die VSA se Federale Reserwebank sy rentekoers Woensdag onveranderd gelaat het.
Kganyago het beklemtoon dat dit slegs ’n pouse in sy rentekoersstygsiklus is omdat inflasie “ongemaklik” naby die boonste teikenband is. Die Fed-besluit bly deurslaggewend vir die Reserwebank en hy sê die mark verwag wel ’n koersverhoging in die VSA in Desember, hoewel dit van data afhang.
Kganyago – wat gewoonlik nie politieke kommentaar lewer nie – het wel verwys na die impak van plaaslike politiek op die rand die afgelope maande. Hy het egter gesê die rand bly kosbaar vir die Fed-besluit en die risiko van ’n kredietafgradering in Desember.
Die bank se verwagting vir inflasie het effens verbeter. Die bank verwag nou ’n hoogtepunt van 6,7% in die vierde kwartaal – vergeleke met die verwagting in Julie dat dit 7,1% sou haal.
Die bank verwag dat kospryse in die vierde kwartaal met selfs 12,3% sal styg weens die uitwerking van die droogte. Dis net effens laer as die 12,6% wat in Julie voorspel is.
Kospryse het in Augustus met 11,6% gestyg, het Statistieke Suid-Afrika Woensdag bekend gemaak.
Kganyago sê kosprysinflasie is baie afhanklik van reënval in die somer.
Wat ekonomiese groei betref, verwag die Reserwebank nou groei van 0,4% die hele 2016, heelwat hoër as die Julie-voorspelling van 0%. Kganyago het egter gewaarsku dat onder meer mynbou-, konstruksie-, kleinhandel- en vervaardigingsyfers in Julie op swak groei in die derde kwartaal dui.
Groeiverwagtinge vir 2017 is ook effens verhoog tot 1,2% (1,1% in Julie) en vir 2018 tot 1,6% (1,5% in Julie). - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie