Saru in knyptang oor Bokke
Saru in knyptang oor Bokke

Saru in knyptang oor Bokke

Rugby
Cobus Claassen en Stephen Nell – ’n Bose kringloop kan op die Springbokke wag indien besluit word finansiële oorlewing weeg swaarder as die spelers se welstand.
Só waarsku die sportwetenskaplike prof. Derik Coetzee in reaksie op Vrydag se aankondiging dat vanjaar se Rugbykampioenskap van 7 November tot 12 Desember in Australië beslis sal word.
Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) benadruk in ’n verklaring die wêreldkampioen se deelname is nog nie bevestig nie en sê daar is verskeie “hoëprestasie- en welstandkwessies wat oorweeg moet word”.
Jurie Roux, Saru se uitvoerende hoof, verwys na “sommige hekkies” wat oorkom moet word in die volgende paar weke.
Coetzee, wat die Springbokke se kondisioneringshoof was toe die span in 2007 in Frankryk as die wêreldkampioen gekroon is, sê ’n verkeerde besluit kan ’n bose kringloop meebring.
“Daar is eenvoudig nie genoeg tyd om die span deeglik voor te berei vir die kampioenskap nie. Jy het tyd nodig daarvoor.
“Dit bring ’n wesenlike gevaar dat die spelers oorlaai gaan word met ’n hoë werkslading. En dit kan maklik lei tot swak prestasie en beserings.”
Saru verwys in sy verklaring daarna dat Nieu-Seeland drie maande gelede tot die speelveld teruggekeer het (met die Aotearoa-reeks) en die Aussie-spanne die afgelope tien weke in plaaslike derby’s speel.
Daarenteen het die Suid-Afrikaanse spanne eers twee weke gelede begin met kontakoefeninge en dit is steeds nie seker wanneer die spel plaaslik hervat gaan word nie.
“Dit is nie moontlik dat ons oor minder as twee maande op gelyke voet met die All Blacks en die Wallabies kan meeding nie.
“Die Nieu-Seelandse kompetisie het goeie rugby opgelewer en was uitstekende voorbereiding vir die All Blacks en die standaard in die Aussies se reeks is ook aan die verbeter.
“Ek kan verstaan hoekom ons so angstig is om weer te speel en watter finansiële verliese gely kan word, maar dit sal in terme van voorbereiding bloot die verkeerde besluit wees (om aan die Rugbykampioenskap deel te neem).”
Boonop sal dit ’n logistieke nagmerrie wees om Bokke soos Handré Pollard, Cheslin Kolbe, Damian de Allende, Faf de Klerk, Eben Etzebeth en Lood de Jager, wat almal vir klubs in die Noordelike Halfrond speel, spoedig by die groep te laat aansluit voordat hulle daar Doer Onder in kwarantyn gaan.
Dit is boonop onseker of De Jager hoegenaamd beskikbaar sal wees.
Luidens ’n berig Vrydag op rugbypass.com het van die metaalpenne wat met ’n vorige operasie in sy skouer gesit is, gebuig, maar dit beteken nie noodwendig hy moet weer geopereer word nie, het Steve Diamond, rugbybaas van die Sale Sharks, gesê.
De Jager, wat in 2019 groot operasies aan albei skouers gehad het, het verlede naweek weer ’n skouer beseer in Sale se sege oor Leicester en daar sal ’n besluit geneem word tussen Sale se spesialis en die dokter wat hom in Suid-Afrika geopereer het.
Diamond hou voet by stuk De Jager kan betyds op sy pos wees vir die Engelse Premierliga se halfeindronde op 10 Oktober, maar die twee spesialiste sal die laaste sê hê.
Die Springbokke sal na verwagting rondom 20 Oktober in Australië moet aankom om die vereiste kwarantyntydperk van twee weke te begin. Dis egter ’n datum wat buite Wêreldrugby se aangepaste toetsvenster val. Dit kan dus lol om die oorsese spelers dán reeds van hul oorsese klubs, wat hulle ten duurste kontrakteer, vrygestel te kry.
Die altesame vier weke van kwarantyn – twee weke Doer Onder en twee weke met die span se terugkeer – sal ook die spelers se welstand negatief raak. Dit sal beteken dat die span eers ná Kersfees weer by hul families sal kan aansluit.
Netwerk24 het verneem dat daar raadpleging met spelers was om hul gevoelens te hoor oor die speel van die Rugbykampioenskap binne ’n bioborrel.
’n Sielkundige verslag is glo saamgestel waarin gesê word dat dit uit ’n geesteswelstand-oogpunt ongesond sal wees vir die spelers om langer as ses weke weg te wees.
Dít kan straks ’n verdere faktor wees wat ’n stokkie voor die Springbokke se deelname aan die Rugbykampioenskap steek.
- Netwerk24


FOTO
Die Springbok-blits Makazole Mapimpi laat waai Donderdag in ’n oefening van die Haaie in Durban. Kan hy oor minder as twee maande op sy beste wees in die Rugbykampioenskap? Foto Gallo Images

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!