• Tuisblad
  • Sake
  • Sasol styg bykans 16% ná nuus oor Lake Charles
Sasol styg bykans 16% nu00e1 nuus oor Lake Charles
Sasol styg bykans 16% nu00e1 nuus oor Lake Charles

Sasol styg bykans 16% ná nuus oor Lake Charles

Nuus oor vordering by Sasol se Lake Charles-projek in Amerika het dié petrochemiese groep se aandeelprys ’n stewige hupstoot gegee.

Sasol se aandeelprys het Dinsdag ná die langnaweek teen R277 op die JSE verhandel, maar na ’n aankondiging oor sy nuwe produksiesyfers by Lake Charles het die aandeelprys weggetrek. Dit het Dinsdagaand op R305,58 gesluit en Woensdagoggend reeds met 4,6% tot R319,86 gestyg, hoewel dit in ’n stadium in dagverhandeling selfs R331,63 gehaal het.

Dit is die hoogste vlak sedert April vanjaar toe Sasol rondom R487 gehaal het. Dit is egter nog ver onder die hoogtepunt die afgelope vyf jaar van R576 wat in Augustus verlede jaar behaal is, volgens Bloomberg-data. Die hoogste vlak waarteen Sasol nog ooit verhandel het, was R632,36 op 30 Junie 2014.

Sasol sê op die JSE se nuusdiens Sens produksie is uiteindelik op dreef by sy etaankraker by Lake Charles in Louisiana.

Dié kraker is reeds in Augustus in bedryf gestel, maar het net teen net sowat 50% tot 60% van sy kapasiteit gefunksioneer.

Die katalisator wat in dié proses gebruik is, is egter nou vervang.

Die aanleg produseer nou etileen teen tussen 85% en 90% van die moontlike kapasiteit. Sasol spartel die afgelope paar jaar al om dié projek op dreef te kry.

Verskeie probleme het hom genoop om die oorspronklike geskatte koste van dié projek van US$8,9 miljard tot bykans US$13 miljard te verhoog.

Die laaste keer wat Sasol dié koste aangepas het, was in April. Tóé het hy gesê ’n verdere US$1 miljard is nodig om die aanleg te voltooi.

’n Ondersoek is geloods oor hoe dié enorme aanpassing op só ’n laat stadium van konstruksie gemaak moes word.

In Oktober het Sasol gesê ’n klimaat van vrees en leiers wat nie bevoeg was om ’n projek van dié skaal te hanteer nie, is hoekom die koste só gestyg het.

Sasol het ook sedertdien die bedanking van Stephen Cornell en Bongani Nqwababa, die maatskappy se twee mede- uitvoerende hoofde, aanvaar.

Fleetwood Grobler is in hul plek aangestel. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!