Sasol wed nou op 'n globale toekoms
Sasol wed nou op 'n globale toekoms

Sasol wed nou op 'n globale toekoms

Volgens die maatskappy se hoof het hy ontstuimige makro-ekonomiese omstandighede suksesvol oorleef.
­William Horne



Die kaarte het reg geval vir Sasol met sy beter as verwagte halfjaarsyfers in 'n tyd waarin die petrochemiese reus eintlik al sy fokus op sy nuwe chemiese aanleg in die VSA plaas.

Sasol het Maandag sy finansiële ­resultate vir die halfjaar tot einde Desember in Johannesburg bekend gemaak, met prestasies wat aansien­lik verbeter het vergeleke met die maatskappy se verwagtings teen ­November 2018.

Volgens Stephen Cornell, uitvoerende direkteur en medepresident van Sasol, het die maatskappy suksesvol deur baie onstuimige makro-ekonomiese omstandighede gekom.

Sasol het vir die halfjaar tot einde Desember groei van 32% in sy ­wesensverdienste per aandeel aangeteken te danke aan onder meer 'n hoër olieprys en swakker rand.

Onderskeidelik het die verswakkende rand en die stygende olieprys 18% en 43% bygedra tot die groei in die maatskappy se bedryfswins van R20 192 miljoen, 'n styging van 26% teenoor dieselfde helfte van 2017.

Maar die maatskappy verwag nie dat die onstuimigheid in wêreldmarkte sommer vinnig gaan omkeer nie, en is dus besig om sy sakemodel aan te pas vir 'n toekoms waar dié faktore, en veral die prys van hulpbronne soos olie en steenkool, nie meer so 'n houvas op hom sal hê nie.



STEWE NA 'N GLOBALE TOEKOMS

Volgens Paul Victor, finansiële direkteur van Sasol, is 2019 die begin van 'n baie groter en ander soort toekoms vir die maatskappy.

“Ons wil nie net meer 'n Suid-Afrikaanse maatskappy wees nie, ons wil bitter graag 'n globale maatskappy word, en 'n maatskappy wat baie meer en uiteindelik hoofsaaklik op chemikalieë gefokus is,” sê Victor.

Sasol se Lake Charles- chemiese aanleg in die Amerikaanse deelstaat Louisiana is die maatskappy se eerste stap tot sy nuwe langtermyntoekoms.

Wanneer die projek in 2020 voltooi word, sal Sasol die meeste van sy ­verdienste oorsee verdien.

Tans verdien die maatskappy 70% van sy inkomste in Suid-Afrika, maar wanneer Lake Charles op dreef is, sal dié verhouding tot 45% plaaslik en 55% oorsee verander.

Die nuwe beraming is dat die totale koste nou tussen US$11,6 miljard en US$11,8 miljard sal beloop, waar dit aanvanklik op US$11,13 miljard geskat is.

Volgens Bongani Nqwababa, uitvoerende hoof, is 2019 'n “hoogs deurslaggewende jaar vir die maatskappy”.

“Die Lake Charles-projek gaan sowat 50% van Sasol se mark­kapitalisasie wees wanneer dit klaar is.”

Die Lake Charles-projek is tans 94% voltooi, en US$10,9 miljard is reeds daaraan bestee.

Vir die 2019-boekjaar sal die nuwe kosteberaming dus 'n ­addisionele verlies op verdienste voor rente, belasting, depresiasie en afskrywing (ebitda) van tussen US$165 miljoen en US$195 miljoen beteken.

Sasol se netto kontantposisie is dus ietwat benadeel en het met 7% gekrimp, terwyl 85% van sy skuld nou in dollar gedenomineer is.

Beleggers is al 'n geruime tyd onseker oor die Lake Charles-­projek, maar Victor meen dat die aanleg die toekoms van die maatskappy is, en dat grootskaalse verandering groot­skaalse investering vereis.

“Die sowat US$11 miljard se besteding aan Lake Charles is 50% uit ekwiteit en 50% uit skuld gefinansier. Wanneer daardie aanleg volgende jaar volledig aanlyn is, en sowat US$1,3 miljard jaarliks genereer, kan ons die skuld binne net vier jaar ­afbetaal.

“Dit is hoe goeie skuld lyk – skuld vir langtermyngroei-doeleindes,” sê Victor.

Hy sê voortdurende gesprekke met kredietgradeerders dui daarop dat die langtermynvisie en -risikobestuur van die projek nie Sasol se gradering negatief sal beïnvloed nie.



Olie laat geld inrol

Hoewel Sasol daarna mik om die grootste deel van sy onderneming in gevorderde chemikalieë te vestig, is olie vandag steeds 'n enorme deel van sy onderneming. Sasol vervaardig olie teen 'n koste van US$35 per vat, en teen sy ­geskatte gemiddelde olieprys van om en by US$60 per vat vir 2019 is daar 'n stewige winsgrens ingebou.

Die halfjaarsyfers wys dat die verkope van vloeibare brandstof met 4% gestyg het tot en met Desember, en tesame met stygende verkoop­pryse het dit die maatskappy se verdienste per aandeel met 112% laat styg.

Maar Victor meen ook dat die maat­skappy se goed bestuurde bedryfs­koste wesenlik bygedra het tot Sasol se goeie halfjaar-prestasie.

Vir die halfjaar tot einde Desember het vaste kontantkoste met net 4,3% toegeneem, wat 1,7% onder die maat­skappy se 6%-inflasieteiken is.

Victor meen vir 'n maatskappy wat tans so ingestel is op die toekoms is dié resultate merkwaardig.

Vir die eerste keer “in 'n lang tyd” kon Sasol ook weer 'n stewige dividend aan sy aandeelhouers uitbetaal. Die halfjaarsyfers sluit in dat Sasol op 18 Maart 'n dividend van R5,90 per aandeel sal uitbetaal, 18% meer as die vorige dividend van R5.

In terme van die maatskappy se ­algehele posisie, is Victor baie ­positief.

“Ons is amper daar.

Teen volgende jaar hierdie tyd gaan ons in 'n baie positiewe posisie wees.”– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!