Savannah skilder jou viervoet

Lloyd Zandberg
Wanneer jy die naam Savannah Collins hoor, dink jy aan die Namibiese musikant wie se treffers Namibiërs se harte die afgelope twee jaar geraak het met songs soos “Be Free” en “Namibia my Friend”.

Min mense weet van haar Pet Pawtraits-forum, waar sy op aanvraag lewensgetroue sketse van veral honde maak.



As kampvegter vir diereregte en hondeliefhebber was dit ’n spontane idee wat vinnig vrugte afgewerp het toe mense bewus geword het van haar talent om honde in fyn besonderhede in grafiet vas te vang om ’n lewensgetroue, kosbare aandenking van iemand se getroue vriend te wees.

Vandaar die naam Pet Pawtraits.

Dieselfde vingers wat die kitaarsnare met soveel passie laat sing, skep ook sielvolle sketse van jou beste vriend.

Tydens Namibië se onlangse kampioenskappe vir die uitvoerende kunste het Savannah twee goue medaljes vir haar musiek verwerf en een goue medalje vir ‘n potloodskets van haar geliefde worshond, Minnie, huis toe geneem.

Minnie was die inspirasie vir Pet Pawtraits.

Ná sy die skets op haar Facebook-blad gelaai het, het sy soveel positiewe terugvoering gekry dat sy besluit het om ’n deel van haar inkomste uit die sketse aan Namibië se Dierebeskermingsvereniging (SPCA) te skenk.

“Dis ‘n wen-wen situasie vir mens en dier,” sê sy.

Die 25-jarige kunstenaar sê: “Ek is lief vir alle diere en het met honde grootgeword. Ek verstaan waarskynlik die belangrikheid van die harmonie waarin alle lewe op aarde moet saamleef beter as die meeste mense, maar ek het ook ‘n diepe bewustheid van al die wreedhede wat teenoor diere van alle soorte gepleeg word. Die ding wat my die diepste tref, is die eeueoue, uitsonderlike liefde tussen mens en hond.”

Haar styl kan as stereoskopies beskryf word, want haar eindprodukte is diere wat lyk of hulle enige oomblik uit die portret tot op jou skoot kan spring.

Savannah slaag daarin om te skets wat sy voor haar sien en nie noodwendig wat sy van honde weet nie.

‘n Kenmerk van haar werk is die diere se sielvolle oë.

“Ek kry versoeke van eienaars wat ‘n skets van hul geliefde hond wil hê voor die dier sterf. Soms is dit hartseer, maar terselfdertyd verblydend om so ‘n dier te skets met die wete dis dalk die laaste sigbare herinnering wat die eienaars van die hond gaan hê. Maak nie saak of dit ‘n hartseer of blye skets is nie, ek kry groot bevrediging daaruit.”

Savannah sê dit verg deeglike waarneming van die hond wat sy moet skets.

“Ek werk van foto’s af wat die hond se karakter die beste weergee en wat eienaars graag wil sien.”

Sy sê om in potlood en grafiet te werk, is ‘n natuurlike, stadige proses en daarom neem sy haar tyd met die aanvanklike buitelyne.

Sy gebruik baie sagte potlode (tot ‘n 9B) en kombineer die verskillende hale om goed soos die hond se snor of baard of meesleurende oë te skets.

“Ek is nou nie die Franse potloodmeester Edgar Degas van die 19de eeu nie, maar ek glo daaraan om talente te ontwikkel en as jy mense boonop vreugde met jou kuns verskaf, is dit ‘n bonus.”

Savannah kan by [email protected] bereik word.

Onderskrifte:

Ma se Minnie…Die potlodskets van die worshond Minnie waarmee Savannah ‘n goue medalje by die onlangse Namibiese kampioenskappe vir die uitvoerende kunste verower het.

Minnie is ook die logo vir Savannah se vindingryke Pet Pawtraits, wat honde-eienaars vir sketse laat toustaan.

Nog honde wat Savannah op aanvraag geskets het.

Savannah Collins met die drie goue medaljes wat sy by die Namibiese kampioenskappe vir die uitvoerende kunste gewen het – twee vir oorspronklike musiek en een vir kuns. Foto’s verskaf

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!