Schalk deel staaltjies met u2019n skeut Erns
Schalk deel staaltjies met u2019n skeut Erns

Schalk deel staaltjies met ’n skeut Erns

Lloyd Zandberg
’n Boek oor hul comedy bromance is die jongste projek wat die komediant Schalk Bezuidenhout en die joernalis Erns Grundling saam aangedurf het.

Ja, Bezuidenhout skerts nou op nog ’n platform: die boek.

In Truitjie roer my nie – oor Kempton en ander k-woorde skryf Bezuidenhout oor sy loopbaan en samewerking met Grundling van ’n bietjie meer as drie jaar tot dusver.

Lekker en skerp, soos aanhangers nou al Bezuidenhout se humor leer ken het.

Tog is daar ’n erns by tye en tree hy en Grundling byna in gesprek met mekaar, met dié dat Grundling gereeld kommentaar op Bezuidenhout se opmerkings lewer en self ook ’n paar stukke geskryf het.

Bezuidenhout vertel talle staaltjies (Bezuidenhout haat die woord, skryf Grundling) en deel feite oor sy lewe. Sy maandelikse “94.7”-nuusbulletin wat hy reeds op skool aangebied het, ’n stemnota van 27 minute wat hy op ’n dag aan Grundling gestuur het, sy eerste keer in Trevor Noah se voorprogram, ontmoetings met vreemde aanhangers, sy eerste buitelandse komediefees wat nie te goed afgeloop het nie en sy liefde vir truie is alles in die boek vervat.

Op die verhoog en televisie ken mense hom goed en binnekort gaan ons hom ook op die grootskerm in Christiaan Olwagen se rolprent Kanarie sien. Bezuidenhout vertel ook in die boek hóé sy betrokkenheid by die rolprent begin het.

Grundling skryf hoe hy in 2015 by die KKNK in Oudtshoorn as ’n gehoorlid Bezuidenhout die eerste keer op die verhoog gesien het. ’n Facebook-korrespondensie het gevolg en later daardie jaar het die tweemanskap se betrekkinge begin.

Grundling beskryf homself as Bezuidenhout se vervaardiger, klankbord, toer- én motorbestuurder. Hy gee reeds in die voorwoord toe dat Bezuidenhout te jonk is om ’n biografie te hê, maar hul komediereis het baie avonture meegebring wat hulle graag met die lesers wou deel.

Bezuidenhout is bekend aan televisiekykers in reekse soos Hotel op kykNET en voorheen in die Via-reeks Die kliek.

Grundling het die boek Elders oor sy ervaring op die Spaanse Camino geskryf en ’n televisiereeks Elders: Die Camino was vroeër vanjaar op kykNET. Tans is hulle en die digter Bibi Slippers Maandae in die satiriese nuusprogram Die ware naarheid op kykNET te sien.

* Truitjie roer my nie word deur Queillerie uitgegee en kos R220. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!