Schalk is weer in Windhoek!

Karin Eloff
Saterdag 7 Julie gaan Truitjiedag in Windhoek wees vir Schalk Bezuidenhout, die krulkopkomediant met sy kenmerkende truitjies en skerp tong. Om 11:00 die oggend gaan hy sy nuwe boek, Truitjie roer my nie, saam met medeskrywer Erns Grundling by The Book Den bekend stel. Later dieselfde dag gaan hy om 18:00 by die Warehouse-teater in sy Engelse eenmanvertoning, Jersey Boy, optree.

Schalk is die mees opwindende nuwe stem in Suid-Afrikaanse stand-up komedie. Sedert hierdie boorling van Kempton Park in 2015 (en weer 2017) in Trevor Noah se voorprogram opgetree het en 'n solo-vertoning op Comedy Central uitgesaai is, het hy vinnig 'n huishoudelike naam geraak. Hy het ook reeds twee Comics Choice-toekennings en ’n gesogte Safta ingepalm. Schalk is deesdae 'n bekende gesig op televisie, veral in die rol van die geliefde Danny in die kykNET-reeks Hotel en as anker van die satiriese nuusprogram Die Ware Naarheid met Schalk Bezuidenhout, ook op kykNET.

Truitjie roer my nie word deur Queillerie uitgegee en maak deel uit van Exclusive Books se gewilde Homebru-promosie. Die boek vertel die storie van Schalk se grootwordjare, sy reuse opgang in stand-up komedie en van die vele avonture wat hy en Erns al saam oraloor Suid-Afrika beleef het. Tydens die boekbekendstelling by The Book Den sal Erns en Schalk meer vertel oor hoe die boek ontstaan het en ook elkeen ’n voorlesing doen.

Schalk het in November verlede jaar vir die eerste keer in Windhoek opgetree met twee vertonings van sy Afrikaanse eenmanvertoning, Voksbesit. Nou keer hy terug na Windhoek, dié keer met sy Engelse eenmanvertoning, Jersey Boy. Hy het al wyd getoer met Jersey Boy en in Oktober verlede jaar ’n DVD van die vertoning by die Baxter-teater in Kaapstad opgeneem. Hy sal ook kort voor sy vertoning in Windhoek verskeie vertonings van Jersey Boy by die Nasionale Kunstefees in Grahamstad lewer.

Teatergangers kan uitsien na Schalk op sy beste, met vlymskerp waarnemings oor sy eie lewe en sosiale kommentaar oor Suid-Afrika en alles tussenin. Jersey Boy sal baie reaksie by jou uitlok, waarvan lag sommer lag-lag die grootste is.

“Ek is nie seker wat Windhoek in Engels is nie. Wind corner?” vra Schalk. “Ek het my Engels mooi geoefen vir Jersey Boy by die Warehouse-teater. Die Warehouse is een van my gunstelingteaters in Afrika en ek het verlede jaar se twee shows daar baie geniet. Ek dink dit sal ook baie goed gaan met Jersey Boy.”

Erns sien ook baie uit daarna om Windhoek weer te besoek. “Ek het verlede jaar een van my lekkerste boekbekendstellings van my boek Elders by The Book Den gehad. Ek sien uit na nog ’n lekker oggend saam met Schalk en Truitjie roer my nie. Dit is omtrent ‘n dag vol truitjies met dié dat Schalk in die aand ook Jersey Boy doen by die Warehouse-teater. Ons het spesiaal die vertoning vir 18:00 geskeduleer sodat dit tussen die twee groot Wêreldbeker-sokkerwedstryde is. So ongeag of jou span wen of verloor, sal jou Saterdag in Windhoek vol lagbuie wees!”

· Truitjie roer my nie se bekendstelling by The Book Den is op Saterdag 7 Julie, om 10:30 vir 11:00. RSVP by [email protected]

· Kaartjies vir Schalk se Jersey Boy-vertoning, om 18:00 op Saterdag 7 Julie by Warehouse-teater, kos N$150 as jy vooraf bespreek en N$190 by die deur. Bespreek vooraf by www.eventstoday.com.na, Paytoday, die Warehouse-teater of Airtime City-kiosks landswyd.

· Kontak Erns by +27 76 971 0206 of [email protected] vir onderhoude of medianavrae.

Kommentaar

Republikein 2024-11-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!