Scheepers pak stereotipes in nuwe digbundels

Outisme is vir vele mense ’n enigma, waaraan daar dikwels ’n stigma kleef – vandaar die twee boektitels.
Yandi Du Plessis
Yandi du Plessis

Die plaaslike digter Ina Scheepers het in 2020 nie een nie, maar twéé nuwe digbundels binne drie maande bekendgestel. Haar eie pad met outisme is die kern van beide Stigma en Enigma.

Sy vertel Stigma, haar eerste publikasie, is ’n “versameling van gedigte wat ek oor dekades geskryf en in ’n boks onder die bed ingeskop het”. Van die gedigte kom nog uit haar tienerjare, terwyl ander meer onlangs neergepen is.

Toe sy besluit het om te publiseer, moes sy die inhoud noukeurig uitsoek. Die bundel is op 28 Julie vrygestel.

“Die sluise was skielik oop. Miskien juis omdat die woorde so opgedam was, is Enigma binne minder as twee maande afgehandel. Dit bevat splinternuwe gedigte, kort stukkies prosa ‘gedagtes’ en gedigte wat van Afrikaans na Engels vertaal is,” vertel sy.

Enigma is op 25 September vrygestel.

Sy het nie deur ’n uitgewer gewerk nie en het die bundels self gepubliseer. Amazon (waar beide bundels beskikbaar is) verskaf die gereedskap om alles van bladsy-uitleg tot voorbladontwerp self te hanteer en af te handel, vertel sy.

Indien daar genoeg belangstelling is, oorweeg sy om hardekopieë plaaslik te laat druk.

Sy sê hoewel poësie haar eerste liefde is, wil sy haar vlerke wyer sprei in die letterkundebedryf.

Sy werk glo reeds aan ander projekte, maar wil nog nie veel daaroor verklap nie. “Dis ’n verrassing!”

DIE BUNDELS

Stigma en Enigma was ’n eerste vir haar skryfwerk.

“Die tema is menseverhoudings vanuit ’n outistiese perspektief (Stigma) en die mens se strewe na balans rondom die onverstaanbaarhede in die lewe (vandaar Enigma). Beide is oorwegend satiriese werk wat draak steek met veral menslike vooroordele en aannames, my eie ingesluit,” sê sy.

Stigma is die redusering van ’n lewende, asemhalende siel na ’n stereotipe met voorgeskrewe waardes. Nog meer in die geval van stigma wat onbeduidend en oppervlakkig toegepas word waar die gestereotipeerdes geen persoonlike beheer oor die situasie het nie.

Stigma is ’n bundel wat die impak van die lewe en die hantering van stigma op ’n persoonlike vlak probeer verstaan, definieer, verklaar en verwoord. Om balans, gesonde verstand en nuuskierigheid te handhaaf. Selftwyfel, stille uittarting en vooroordeel, weerstand teen ’n stortvloed van onkunde, ’n persoonlike soeke na selfrespek in ’n vyandige wêreld word ondersoek.

Die stryd teen die moedeloosheid om herhaaldelik verkeerd verstaan te word en doelbewus verkeerd voorgestel te word. Om nie net stigma met waardigheid ongeskonde te ontsnap nie, maar ook om herhaaldelik op te staan en die pad weer aan te durf. Om die nodige lesse te leer en aan te gaan. Om die vryheid te vind om te genees.

Enigma fokus op hoe ons persoonlike enigmas hanteer.

Dit ondersoek die mensdom se voortdurende stryd om balans te vind tussen die hart en verstand, die rasionele en emosionele, die fisiese en geestelike, die individu en die groep. Outisme is enigma verpersoonlik. Van buite lyk dit of daar meer woorde as begrip is. Van binne is daar meer begrip as woorde.

“Net soos in Stigma, bevat Enigma ook ’n Engelse en Afrikaanse afdeling met elk sy onderskeie gedigte,” vertel Ina.

Enigma is egter haar eerste poging om van haar Afrikaanse poësie te vertaal om dit vir ’n breër gehoor toeganklik te maak. “Tot nou toe het ek my gedigte bewaar in die taal waarin hulle gebore is.”

Sy sê die feit dat dit haar eie skryfwerk was, het meer ruimte gelaat vir artistieke vryheid. Enigma bevat ’n afdeling waarin sy twintig Afrikaanse gedigte vertaal het.

Vertaling van letterkunde, veral poësie, bied dikwels ’n unieke uitdaging. Die feit dat sy haar eie werk moes vertaal, het dié taak effens makliker gemaak. “Ek het geweet wat ek wou bereik met elke gedig, waar die klem moet lê en wat die boodskap is.”

DIE DIGTER

“My pad met outisme het alles te doen met die mens, vrou en skrywer wat ek vandag is. Want my pad met outisme is op dieselfde tyd ’n pad met menswees: ’n Reis deur die lewe.

“Selfs voor ek nog my outisme verstaan of gemaklik geraak het in my eie lyf, was veral gedigte vir my ’n agterdeur waardeur ek kon veld-in vlug as die lewe om my te veel raas of te hard lag vir my vreemde andersheid.

“Ek prosesseer inligting anders. Ek gebruik, hoor en verstaan woorde anders. Woorde is my tweede taal.

“As ’n sterk visueel-georiënteerde mens dink ek nie noodwendig in spesifieke woorde nie, maar in konsepte, metafore, vergelykings – woordbeelde.

“As outis is ek intens bewus van menslike broosheid, feilbaarheid en geneigdheid tot selfregverdiging; veral my eie.

“Daarsonder sou die konsep van genade en die impak van dankbaarheid heel moontlik nie so hard in my gemoed ge-eggo het nie.

“Soos vele outistiese persone, is dit vir my moeilik om my emosies, gemoedstoestand en persoonlike ervarings sinvol te identifiseer en verbaliseer.

“My woordbeelde help my om balans in die lewe te behou, want dit is hoe ek introspeksie doen; klarigheid en afsluiting kry.

“Gedigte is ook hoe ek genesing gevind het en steeds voortdurend genesing vind van die daaglikse skermutselinge van menswees.

“Om gemaklik in jou eie vel te wees, beteken nie dat die wêreld skielik ’n warmer, vriendeliker plek geword het nie. Daar hang nog steeds ’n wolk van onkunde, aannames en ja, stigma om outisme.

“Daarom is my digbundels in wese is reisjoernale in ’n digterlike strikdas vasgeknoop; foto’s en kaarte in ’n koffertjie gepak en ter verwysing op spesifieke platforms agtergelaat.

“Soos penne wat ’n bergklimmer inkap voordat hy homself na die volgende vasvatplek ophys.”

Ina vertel sy was vir ’n paar jaar lank ’n outisme-aktivis, veral aanlyn. Totdat sy besef het sy kan net vanuit haar eie belewenis praat. En dat dit arrogant is om anders te dink.

“Ek het besef dat ek meer effektief kan bydra tot bewustheid op my eie manier: Deur te skryf wat in my hart is.

“Die boodskap van beide bundels is daarom dat ons almal in die eerste plek mense is; dat ons almal een of ander tyd in die lewe ’n dwarsklap kry (outisties of nie), dat nie een van ons ons menslikheid gespaar bly nie.

“Daar is net een manier waarop die wêreld ’n beter plek sal wees: As ons almal eers die balk uit ons eie oog haal, mekaar ’n plekkie in die son gun en die een die ander behandel soos hy behandel wil word. Ons het immers almal genade nodig.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!