Schickerling maak debuut in Engeland

Rugby
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Die Namibiese vaskopstut Patrick Schickerling het in die laaste 20 minute sy debuut in die Engelse premierliga gemaak in sy klub Exeter Chiefs se dramatiese nederlaag met 14-12 teen die tuisspan en huidige titelhouer Harlequins.

Dit was ’n herontmoeting tussen die twee spanne wat in laasjaar se premierligafinaal in aksie was. Harlequins se losskakel Marcus Smith het Saterdag die knoop deurgehaak met ’n suksesvolle doelskop in die doodsnikke, nadat hy oomblikke tevore die gewese Springboksenter en speler van die wedstryd André Esterhuizen vir die gelykmakende drie deurgejaag het.

’n Vroeër keerpunt was toe Exeter se loskopstut Ian Tempest in die laaste sekondes voor rustyd met ’n rooi kaart afgestuur is vir ’n lelike boorvat op Harlequins se vaskopstut Joe Marler.

Die 23-jarige Schickerling en sy makkers het ondanks die druk om 40 minute met een man kort te speel, ’n dryfmaalbeweging in ’n drie vir die haker Jack Innard omskep.

Die Namibiër het ’n week voor Kersdag ook sy debuut in die Europese Rugbykampioenskap gemaak, toe hy vir die laaste halfuur van Exeter se tuisnederlaag (7-22) teen Glasgow Warriors opgestuur is.

Vreemd genoeg is Schickerling nie in Novembermaand genooi toe Namibië op Stellenbosch in twee toetse teen Kenia en Zimbabwe gewen het. Nadat die ervare Aranos Coetzee (Vrystaat-Cheetahs) deur ’n boarmligamentbesering uitgeskakel is, het die jong debutant Gerhard Opperman en Jason Benade (beide Trustco United) hul man gestaan, maar Schickerling behoort nietemin sterk in die prentjie te wees wanneer die Namibiese afrigter Allister Coetzee sy groep vir die beslissende kwalifiserende Wêreldbekertoernooi in Juliemaand in Frankryk begin saamstel.

Die gewese nasionale o.20-stut van Walvisbaai is tevore hierdie seisoen deur Exeter Chiefs aan die eersteligaklub Cornish Pirates uitgeleen om meer speeltyd te kry (agt wedstryde in die beginspan dié seisoen).

• In die Engelse premierliga het die Namibiese losvoorspelers Janco Venter (Saracens) en Wian Conradie (Gloucester) se klubs laas Saterdag kragte gemeet, maar nie een van die twee was in die onderskeie wedstrydgroepe ingesluit nie.

Gloucester het sy eerste oorwinning in nege ontmoetings teen Saracens behaal, maar moes ’n laat terugvegpoging afweer om met ’n naelskraapse 25-24 te oorleef.

FRANKRYK

’n Drie deur Torsten van Jaarsveld het voor die naweek bygedra om sy Franse klubspan Bayonne se derde posisie in Frankryk se ProD2-liga te konsolideer.

Die 34-jarige Namibiese Wêreldbeker-haker en sy spanmaats in ligblou moes in Donderdagaand se wegwedstryd teen Agen ’n agterstand van 16-6 uitwis, voordat hulle uiteindelik met 16-16 gelykop gespeel het.

Die punteverskil was steeds tien toe Van Jaarsveld ná 50 minute van die reserwebank af opgestuur is. Hy het ná 68 minute ’n drie gaan druk toe die stut Matis Perchaud hom aan die steelkant vir ’n drie oorgestuur het nadat Bayonne ’n tyd lank in die opposisie se kwartgebied druk toegepas het.

Die Namibiër het sover in elkeen van sy klub se wedstryde hierdie seisoen gespeel (717 minute, tien keer in die beginspan) en sy sewende drie gedruk. Ná 16 wedstryde is Bayonne derde op die puntelys met 54 punte, ná Mont-de-Marsan (voorloper) en Oyonnax wat ná ewe veel wedstryde op 60 staan.

• Nog twee Namibiërs wat by klubs in die ProD2 (die tweede vlak van beroepsrugby in Frankryk) gekontrakteer is, moet nog hul eerste verskynings ná die Nuwejaar maak.

Die nasionale spankaptein en senter Johan Deysel (Colomiers) en slot Tjiuee Uanivi (Montauban) het beide tussen September en Desember gereeld die volle tagtig minute vir hul onderskeie klubs gespeel. Colomiers is tans sesde op die puntelys (41) en Montauban is vierde (44) ná 16 wedstryde elk.

FOTO’s
Patrick Schickerling, Namibiese stut van Exeter Chiefs. Foto exeterchiefs.co.uk
Torsten van Jaarsveld stuur die bal wyd vir Bayonne in die ProD2-wedstryd teen Agen laas Saterdag. Foto Icon Sport / Getty Images
Torsten van Jaarsveld trek weg op ’n stormlopie vir Bayonne in die ProD2-wedstryd teen Rouen Normandie op 17 Desember. Foto Icon Sport / Getty Images

Kommentaar

Republikein 2024-09-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Celta Vigo 0 vs 1 Atletico Madrid | Espanyol 1 vs 2 Villarreal | Las Palmas 1 vs 1 Real Betis | Barcelona 1 vs 0 Getafe | Girona 0 vs 0 Rayo Vallecano | Real Madrid 3 vs 2 Deportivo Alaves | Valencia 0 vs 0 Osasuna | Sevilla 2 vs 1 Real Valladolid SerieA: Atalanta 2 vs 3 Como #N/A Currency: GBP to NAD 22.88 | EUR to NAD 19.11 | CNY to NAD 2.44 | USD to NAD 17.08 | DZD to NAD 0.13 | AOA to NAD 0.02 | BWP to NAD 1.26 | EGP to NAD 0.34 | KES to NAD 0.13 | NGN to NAD 0.01 | ZMW to NAD 0.64 | ZWL to NAD 0.04 | BRL to NAD 3.13 | RUB to NAD 0.18 | INR to NAD 0.2 | USD to DZD 131.51 | USD to AOA 940.1 | USD to BWP 13.08 | USD to EGP 48.32 | USD to KES 128.48 | USD to NGN 1666.22 | USD to ZAR 17.08 | USD to ZMW 26.4 | USD to ZWL 321 | Stock Exchange: JSE All Share Index Same 0 | Namibian Stock Exchange (NSX) Overall Index 1920.07 Up +1.61% | Casablanca Stock Exchange (CSE) MASI 14370.64 Up +0.62% | Egyptian Exchange (EGX) 30 Index 31276.91 Up +0.08% | Botswana Stock Exchange (BSE) DCI Same 0 | NSX: MTC 7.75 SAME | Anirep 8.99 SAME | Capricorn Investment group 17.34 SAME | FirstRand Namibia Ltd 49 DOWN 0.50% | Letshego Holdings (Namibia) Ltd 4.1 UP 2.50% | Namibia Asset Management Ltd 0.7 SAME | Namibia Breweries Ltd 31.49 UP 0.03% | Nictus Holdings - Nam 2.22 SAME | Oryx Properties Ltd 12.1 UP 1.70% | Paratus Namibia Holdings 11.99 SAME | SBN Holdings 8.45 SAME | Trustco Group Holdings Ltd 0.48 SAME | B2Gold Corporation 47.34 DOWN 1.50% | Local Index closed 677.62 UP 0.12% | Overall Index closed 1534.6 DOWN 0.05% | Osino Resources Corp 19.47 DOWN 2.41% | Commodities: Gold US$ 2 667.94/OZ DOWN -0.0018 | Copper US$ 4.60/lb DOWN -0.0034 | Zinc US$ 3 097.50/T UP 0.28% | Brent Crude Oil US$ 71.60/BBP UP +0.03% | Platinum US$ 1 016.02/OZ UP +0.86% #N/A