Schlettwein oor miljoene aan Britse prokureurs
Schlettwein oor miljoene aan Britse prokureurs

Schlettwein oor miljoene aan Britse prokureurs

Die regering het gevrees dat op Namibië se eiendom in Brittanje beslag gelê sal word.
Augetto Graig
Augetto Graig - Die betaling van prokureurs in Engeland wat Namibië van raad bedien het, het die land reeds digby N$35,5 miljoen uit die sak gejaag.

Dít in voorbereiding op Namibië se saak teen Duitsland na aanleiding van die volksmoord tussen 1904 en 1908.

Vir dié uitgawes is egter nie begroot nie en aangesien die staatfinansieringswet betalings verbied waarvoor nie begroot is nie, kon dit aanvanklik nie betaal word nie.

Só het Schlettwein Dinsdag in die parlement op vrae van Swanu se president, mnr. Usutuaije Maamberua, geantwoord.

Om te verhoed dat beslag gelê word op die Namibiese ambassade in Londen en dat ander strawwe teen die regering opgelê word, is reëlings getref om die fakture gedeeltelik te vereffen.

Bedrae van N$3 365 931, of £206 788, is deur die ministerie van internasionale betrekkinge en samewerking aan die prokureurs uitbetaal.

Die kantoor van die prokureur-generaal het vir die res as onbetaalde fakture uit die 2016-'17-boekjaar begroot.

In vanjaar se tweede kwartaal het dié kantoor 'n bedrag van N$36 miljoen (afhangend van wisselkoers-skommelinge) van die ministerie van finansies aangevra.

Teenstrydighede is ontdek tydens noukeurige hersiening van ingediende fakture met betrekking tot die betaling van dié regslui, wat me. Anna Uukelo en mnre. Dexter Diaz, Cameron Miles, Richard Reynolds en Paul Clark insluit.

Vrae het ontstaan oor of die fooie reg bereken is.

Terwyl die ministerie van finansies en die ouditeur-generaal die saak ondersoek het, is die regering vir die uitstaande skuld gedagvaar, het Schlettwein verduidelik.

"Daar is toe besluit dit is in Namibië se beste belang om die betaling solank te maak en daarna tekortkomige in die fakture verder te ondersoek," het hy gesê.

Die Bank of Namibia (BoN) het £1,88 miljoen, of N$32,1 miljoen, aan die prokureurs oorbetaal.

Miles het sowat N$817 000 ontvang, Reynolds nagenoeg N$385 000, Dias N$14,5 miljoen en Uukelo het meer as N$16,4 miljoen gekry.

Schlettwein het dit duidelik gemaak sy ministerie het die betaling van die begin af bevraagteken - eerstens omdat dit nie in die begroting was nie en tweedens omdat die regte prosedure nie gevolg is nie.

"Alles wat twyfelagtig is, is verwys en moet ondersoek word deur instansies wat die wettige mandaat het om te verseker dat verdagte gedrag ondersoek word en, indien nodig, aan die kaak gestel word."

Volgens hom wag sy ministerie in hierdie stadium op terugvoering van die Teenkorrupsiekommissie (ACC), asook van die ouditeur-generaal oor die aangeleentheid.

Schlettwein sê hy verwag ook dat die kantoor van die prokureur-generaal sy navraag sal opvolg oor of die buitelanders se regsfooie geregverdig is.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!