Schlettwein stop regeringtenders
Nuwe bouprojekte op ys geplaas
Augetto GraigAlle nuwe tenders, haalbaarheidstudies en opnames vir die staat is stopgesit. Dit volg ná die onlangse hergradering van stabiel na negatief van die land, terwyl vier staatsondernemings, naamlik Namport, NamWater, NamPower en Telecom Namibia, se kredietwaardigheid ook vroeër die maand deur Fitch Ratings afgegradeer is. Die minister van finansies, mnr.Calle Schlettwein, het in ’n brief verlede Maandag aan die voorsitter van die tenderraad en permanente sekretaris van finansies, me. Erica Shafuda, gesê geen tendertoekennings mag gemaak word totdat die begroting en die prioritisering van kapitaalprojekte hersien is nie. Die hersiening sal plaasvind teen die middel van die jaar se begrotingsoorsig, wat in laat Oktober verwag word. Alle nuwe tenders vir haalbaarheidstudies vir kapitaalprojekte onder die bedryfsbegroting moet ook gestaak word. “Die beamptes wat verantwoordelik gehou word, moet verseker die riglyne geld ook vir nuwe kapitaalprojekte onder die nasionale begroting en wat onder openbare ondernemings val,” het Schlettwein gesê. Benewens dat die maatreëls onmiddellik van krag is, sê die minister dit is voorts nodig om “openbare finansies op ’n volhoubare pad te plaas terwyl die regering by ’n veranderende makro-fiskale toestand aanpas”.Die plaaslike ekonoom mnr. Suta Kavari, beleggingstrateeg by Capricorn Asset Management, het die staking van staatstenders beskryf as die jongste in ’n reeks maatreëls om die staatskas te beskerm. Schlettwein het verlede maand die aanstelling van nuwe staatsamptenare gestop en ook gevra maatskappye moet eers ’n sertifikaat van goeie naam en faam indien alvorens enige sake met die staat gedoen word. “Gegewe die sekulêre afname in beide die SACU-inkomste en huishoudelike inkomste, en sonder die aansienlike sny van uitgawes, sal die verkleining van die begrotingstekort ’n uitdaging, indien nie blatant onmoontlik, wees nie,” sê dié kenner.“Die vinnige groei in staatskuld word ook vererger deur die waardevermindering van die geldeenheid as gevolg van ’n onverskanste Euro-verband. Dit het daartoe gelei dat die regering sy leningsplafon verbygesteek het. Dit wil voorkom asof die hersiening van die graderingsvooruitsigte die fiskus tot aksie geskud het,” het hy gesê.Hy haal die Fitch-skrywe aan wat sê laer as verwagte inkomste beteken die begrotingstekort van die land het opgeskiet tot 8,3% van die bruto binnelandse produk (BBP), ver verby die regering se teiken van 5%. Die laaste paar jaar het Namibië uitgebreide begrotings gehad wat die begrotingstekort verhoog het. In die boekjaar tot einde Maart 2012 was die begrotingstekort 0,1%. In 2013 het dit skerp tot 3,8% verhoog en in 2014 byna verdubbel tot 6,4%. Veral die staatsdiens se salarisrekening het die hoogte ingeskiet en dra tot die onvolhoubare groei in die land se bedryfsbegroting by, het Kavari gewaarsku. “Die tegemoetkomende finansiële posisie van vroeër jare het gelei tot ’n oplewing in die regering se witbroodjieprojekte wat grootliks onproduktief is. Uitlopende regeringsgeboue is ’n bewys,” sê Kavari.Die opskorting van die regering se bouprojekte is nie noodwendig ’n goeie ding nie, waarsku IJG-Securities se navorsingsontleder, mnr. Jan-Hendrik Conradie, egter. “Minder bouprojekte aan die kant van die regering, tesame met laer konstruksie-aktiwiteite aan die kant van die private sektor sal verreikende gevolge vir die plaaslike ekonomie hê. Nie net sal baie kontrakteurs gedwing word om werknemers af te lê nie, maar die gebrek aan die ontwikkeling van infrastruktuur sal bydra tot die probleem wat ons reeds met betrekking tot water en energie in die gesig staar,” het hy gesê.
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie