Schlettwein wil verrotting stop
Schlettwein wil verrotting stop

Schlettwein wil verrotting stop

Die ministerie van finansies is op die oorlogspad om belasting-oortreders vas te vat en hou ‘n wakende oog oor nuwe onthullings wat in die Paradise Papers gemaak word.
Catherine Sasman
Catherine Sasman - Die minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, sê sy ministerie gaan opnuut probeer om pogings tot belastingontduiking en doeanebedrog nek om te draai.

Die plofbare blootlegging van miljoene finansiële en regsdokumente van die sogenaamde Panama Papers, en nou die onlangse Paradise Papers, wat blootlê hoe die rykes, bedrieglike sakeondernemings, politici en misdadigers groot bedrae geld in buitelandse belastingtoevlugsoorde wegsteek, het belastingstelsels wêreldwyd opnuut laat regop sit.

Schlettwein het Dinsdag gesê uit die Panama Papers kon geen belastingbedrog waarby Namibiërs betrokke is, bespeur word nie.

Hy het wel gesê die ministerie hou nuwe onthullings uit die Paradise Papers noukeurig dop en dat die ministerie reeds ‘n maand gelede met sy eie ondersoek begin het.

“Ons moet dit baie deeglik doen,” het Schlettwein gesê en bygevoeg “baie groot bedrae” gaan verlore as gevolg van onwettige praktyke soos belastingontduiking en doeanebedrog.

Een van die kwessies wat die ministerie ondersoek, is ‘n herbedinging van die dubbelle belastingooreenkomste wat Namibië met 11 lande het.

Dié lande sluit in Botswana, Frankryk, Indië, Maleisië, Mauritius (vanwaar die Paradise Papers uitgelap is), Roemenië, Rusland, Suid-Afrika, Swede, en die Verenigde Koninkryk.

‘n Dubbelle belastingooreenkoms is ‘n belastingverdrag met ‘n ander land om te verhoed dat landsburgers twee keer belas word: een keer deur hul land van herkoms en een keer deur die land waarin hulle verblyf het.

Wat kommerwekkend is, is dat dit gebruik word as ‘n skuiwergat om belasting te ontduik, wat ook bekend staan as “verdrag-inkopies”, en dat dit klein en ontwikkelende ekonomieë duur te staan kan kom.

VERDAGTE ONTHULLINGS

Die BBC berig die Hongkong-gebaseerde Pacific Andes International Holdings is in 2012 na Namibië uitgenooi om met plaaslike beleggers te werk terwyl die Namibiers “visregte na die tafel sou bring”.

Dit het gelei tot die stigting van ‘n plaaslike maatskappy, Atlantic Pacific Fishing (APF), wat met sy 51% se aandele ‘n ooreenkoms met ‘n maatskappy, Brandberg Namibia Investment Company, aangegaan het.

Brandberg – met geen verwysing na Namibië se hoogste berg nie – sou die gesamentlike maatskappy bestuur.

Brandberg word besit deur die China Fishery Group, ‘n filiaal van Pacific Andes. Brandberg se straatadres plaas dit in Mauritius - glo as gevolg van Namibië se dubbelle belastingooreenkoms met daardie land.

In hierdie geval ontvang Mauritius die belasting op inkomste wat gegenereer word uit bronne wat uit die Namibiese see afkomstig is word.

Die BBC het berig die Brandberg-maatskappy se kantoor is toe nie in Mauritius nie, en dat die straatadres in Port Louis wat verskaf is, die adres is van Appelby, die regsfirma vanwaar die Paradise Papers uitgelap is.

Brandberg is inderwaarheid in Hongkong gebaseer en is deur Pacific Andes geskep.

Die Paradise Papers voer aan dat APF US$420 000 (of meer as N$60 miljoen) minder belasting gedurende 2013 en 2014 betaal het omdat Brandberg in Mauritius geregistreer is.

SCHLETTWEIN SE PLEIT

Tydens ‘n bespreking met die Chinese ambassade in Namibië Maandag het Schlettwein gesê nakoming van belastingwette is nie onderhandelbaar nie.

Hy het gesê inwoners en landsburgers moet dit wat hulle verskuldig is, betaal. Hy het egter opgemerk dat hy nie verbaas is belastingontduiking is so wydverspreid in die land nie.

Schlettwein het gesê die ministerie het bewyse dat sekere besighede op ‘n kontantbasis bedryf word as ‘n doelbewuste taktiek om belasting te ontduik.

Sulke maatskappye sluit baie buitelandse besighede in, soos Chinese besighede en veral kleinhandelaars wat nie behoorlik boekhou nie en nie verkoopkwitansies verskaf nie - juis om belasting te ontduik en om belastingverpligtinge te “verwaarloos”.

In sekere belasting-jurisdiksies misbruik multinasionale maatskappye hul internasionale bedrywighede om belasting te ontduik en om hul winste en laste na belastingtoevlugsoorde te skuif.

Schlettwein het die plaaslike Chinese gemeenskap gevra om nie beamptes wat met die land se belastingsake werk, om te koop nie en om sulke korrupsie te rapporteer.

“Dit is belangrik vir jou integriteit en jou belange, tot voordeel van ons almal,” het Schlettwein gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!