Schoeman lank geskors oor byt-voorval
Schoeman lank geskors oor byt-voorval

Schoeman lank geskors oor byt-voorval

Rugby
Die Bulle-stut Pierre Schoeman is vir ses weke geskors nadat hy daaraan skuldig bevind is dat hy Saterdag op Loftus Versfeld ’n speler van die Rebels gebyt het.

“Schoeman word vir ses weke tot en met 2 Junie geskors,” het die beheerliggaam Sanzaar in ’n verklaring bevestig.

’n Tugkomitee bestaande uit Adam Casselden SC, Eroni Clarke en De Wet Barry, het die verhoor gister via ’n video-konferensie hanteer.

Schoeman kon ’n skorsing van 12 weke op die lyf geloop het, maar Casselden het in sy bevinding gesê die feit dat hy summier skuldig gepleit het, sy goeie karakter en skoon dissiplinêre rekord is as versagtende omstandighede in ag geneem.

Schoeman het die Rebels se plaasvervanger-losvoorspeler Richard Hardwick, ’n gebore Windhoeker wat laasjaar sy toetsdebuut vir die Wallabies gemaak het, in die 58ste minuut gebyt. Die Bulle-stut is nie op die veld aangekla of gestraf nie.

Ongeag die uitslag van sy bytverhoor sou Schoeman nie komende Saterdag teen die Highlanders speel nie, het John Mitchell, die span se afrigter, vroeër bevestig.

Mitchell het sy span se voorbereiding Maandagoggend begin met die nuus dat Schoeman uitgewys is.

Mitchell het gesê hy weet nie of Schoeman gepleit het nie.

“Jy los daardie kwessies vir die tugstelsel. Ons gaan altyd ons spelers se welstand voorop stel en ondersteun, maar dit is op die ou end ’n speler wat sy saak moet stel en regslui wat oor sy lot moet besluit.

“Ek weet eerlikwaar nie of hy skuldig gepleit het nie.”

Mitchell sê die 23-jarige stut, wat ná afloop van die Superreeks sy loopbaan by Edinburgh in Skotland sal voortsit, sal nie vir Saterdag se stryd teen die Highlanders oorweeg word nie.

“Hy sal beslis nie speel nie. Dit is nie ’n ontwrigting nie. Jy moet dit as ’n besering hanteer en dit gee Lizo (Gqoboka), wat uitgerus is, nou ’n kans in die beginspan.” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer