See aan die kant vir die Pase
See aan die kant vir die Pase

See aan die kant vir die Pase

Des Erasmus
Des Erasmus - Ligte reën oor die dorsland, ‘n kalm see en ‘n suidwestewindjie wat kwalik meer as ‘n bries gaan wees, is meevallers in die guns van Paasnaweekgangers op die dorpe en oorde van die sentrale kus.

Noord van Hentiesbaai is goeie nuus vir hengelaars dat uitstekende vangste aan die begin van die week noord van die dorp behaal is.

Ou beweringe op die kusdorpe is dat die Paasnaweek selfs voller is as die spitstyd van Desember. Vroeër in die week moes al gesoek word na lêplekkies vir naweekgangers op Swakopmund en Hentiesbaai.

Die toeloop het vanjaar selfs vroeër begin met Onafhanklikheidsdag in die middel van die week op 21 Maart.

Die eerste reëntjie vir die Namibstreke is reeds vir gister voorspel. Daarvolgens kon neerslae van tot 3 mm op Walvisbaai verwag word en kon Kaap Kruis noord van Hentiesbaai tot 7 mm kry.

Die gunstige seetoestande word net voor volmaan met sy springgety volgende week verwag. Veral Sondag kan ‘n ideale dag by die see wees met laagwater wat baie laag gaan wees en met ‘n geringe styging van net 1,2 meter tussen laag- en hoogwater.

Die rustige see gaan van Sondag nie net ‘n ideale stranddag maak nie.

Met die toestande kan hengelaars selfs verwag dat steenbras hul opwagting maak - ‘n spesie wat die afgelope weke bra skaars was.

Kabeljoue het strykdeur die aas gevat met die gebied tussen die Canopy en Horingbaai wat die beste vangste gelewer het.

Die eerste kalm en gevolglike kuierwater kan reeds teen môremiddag intree wanneer die styging tussen laag- en hoogwater op onder twee meter gestel word.

Hoogtepunte

Elkeen van die dorpe het hoogtgepunte vir die naweek. Op Walvisbaai word die Namib Country-fees Saterdag aangebied. Die Jan Wilken-stadion gaan die plek wees waar die musiekmakers van Saterdagoggend om 10:00 af tot laat die aand gaan optree.

Besoekende kunstenaars uit Suid-Afrika is Jason Bradley en die immergroen Tommie Dell. Van Namibië se eie kunstenaars, veral dié van die kusdorpe, sal ook deurlopend deelneem. Dit gaan ook met ‘n skoonheidskompetisie en wedywering onder opkomende sangers saamval in ‘n soeke na die Country Voice.

Op Swakopmund gaan ‘n aand vir die fynproewers reeds vanaand se optrede van die kus se Mascato-koor in die saal van die Laerskool Namib wees.

Saterdagmiddag en -aand gaan Windpomp 14, die ou Myl 14, ‘n plek van musiek en vermaak wees. Kunstenaars van Suid-Afrika wat gaan optree, is Broers en DJ Ossewa met ondersteuning deur die plaaslike Cee-Jay, Titus, Just Jack en Two Hats.

Vir die dansers gaan daar Saterdagaand ‘n geleentheid wees.

Op die gebied van sport gaan die Hervormers Saterdag op Hentiesbaai oorneem met sy jaarlikse groot hengelfees.

Die ganse dag gaan gevang word met die skaal wat om 16:00 in die basistent gaan sluit.

‘n Pretloop vir stappers, drawwers en fietsryers oor 5 km deur die strate van Hentiesbaai sal deel van die verrigtinge wees.

In die Swakopmundse vallei gaan die hardebaarde van fietsry vroeg Saterdagoggend by die Maanligoord aantree vir ‘n uitmergelende tog in die saal met die roete wat onder meer die beroemde Maanlandskap insluit.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!