See keer hengel se appelkar om

Des Erasmus
Des Erasmus - Hengelaars het die afgelope 16 jaar in ‘n geslote gebied naby Sandvishawe oortree sonder dat hulleself of visinspekteurs daarvan geweet het.

Die gebied was van voor die naweek so toe soos ‘n mossel terwyl haas ongekende toestande langs die kus geheers het.

By Langstrand tussen Swakopmund en Walvisbaai het seekatte en enkele galjoene Saterdag en Sondag op die strand beland en langs die noordkus was skole kabeljou met hengelaars wat rekordvangste by Horingbaai noord van Hentiesbaai behaal het. So erg was die kabeljoutog langs die noordkus dat ‘n blokkade Sondag by Hentiesbaai opgestel is om vas te stel of by die viswet gehou word.

Skiboothengelaars van Swakopmund het gister die handdoek ingegooi en beweer die snoekseisoen is verby wat normaalweg in September begin en tot Februarie voortduur, maar die afgelope maande feitlik geen vangste opgelewer het nie.

Die vreemde toestande het Hentiesbaai ná die Desemberseisoen ‘n ekonomiese oplewing laat volhou, maar op Walvisbaai, en ‘n mindere mate Swakopmund, is die sluiting van die gebied tussen Pelikaanpunt en Sandvishawe vir kabeljouvangste verantwoordelik gehou vir ‘n ekonomiese insinking. Omsette van hengelwinkels het geweldig gedaal, diensstasie-eienaars se brandstofverkope het ‘n laagtepunt bereik en kosverkope vir daguitstappies het getuimel.

Met die gebied tussen Pelikaanpunt en Sandvishawe wat van 1 Januarie tot 31 Maart vir kabeljouvangste gesluit het, stroom Walvisbaaiers wel noordkus toe waar die kabeljoutog sedert Vrydag vir geweldige vangste by Horingbaai noord van Hentiesbaai gesorg het.

Maandag het die vangste effens afgeneem, maar Leon Krauze en sy geselskap van Hentiesbaai het gister om 13:00 Horingbaai toe gery en was om 15:00 op pad terug Henties toe met volle kwotas van tien visse per hengelaar waaronder twee kabeljoue van langer as 70 sentimeter.

“Dit het by Horingbaai gewemel van hengelaars in ‘n plaat karre,” het Krauze aan Republikein gesê. Volgens hom was vangste van kabeljoue van 14 en 15 kg ook vir Saterdag en Sondag beweer.

Op Swakopmund het me. Adriana van Niekerk van Namakwa Meat Market, eienaars van skibote, Maandag gesê sover dit hulle betref is die snoekseisoen verby sonder dat enige snoek gevang is. Die lone van bemanningslede moes nogtans betaal word. In die Walvisbaaise woonbuurt Narraville is ‘n snoekrokery ‘n kleinsakebedryf. Dit het feitlik tot stilstand gekom.

Oor die laaste 10 km van Walvisbaai na Sandvishawe is nou vasgestel dat die hengelwet die afgelope 16 jaar oortree is met vangste wat ooglopend toegelaat is. Die gebied val binne die grense van die Dorobpark wat in 2001 geproklameer is om ook die strook van sowat 10 km in te sluit. Binne die nuutgeslote gebied lê die bekende Lang Duin en Ronde Duin, gewilde vangplekke voor die proklamasie van Dorob.

Mnr. Stanley Ndara van die inspektoraat van visserye het bevestig dat nou teen hengelaars opgetree word wat daar gaan vang. Volgens hom was die inspektoraat bewus van die geslote gebied, maar kon daar as gevolg van ‘n mannekragtekort nie opgetree word nie.

Die Namibiese Hengelunie het Saterdag op sy jaarvergadering op Karibib kennis geneem van die veranderde situasie en beklemtoon dat geregistreerde hengelaars hulle by elke bepaling van die viswet moet hou.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!