Seeheim Hotel verwelkom steeds gaste

Tanja Bause
Tanja Bause



Herstelwerk aan die Seeheim Hotel buite Keetmans­hoop wat op 9 Junie afgebrand het, vorder goed.

Volgens die eienaar, mnr. Zirk Kloppers, is twee lapas, ablusiegeriewe, die swembad, kombuis en die eetkamer herbou en nou splinternuut.

“Ons is ook besig om die tuin reg te maak en 22 van ons kamers is vir gaste oop. Ten spyte van die skade was ons nooit gesluit nie. Die plek het net baie lelik en depressief gelyk. Maar ons was nog altyd oop vir besigheid en ons werk aanhoudend, sewe dae 'n week, om weer alles heeltemal te herstel. Ons bouwerk raak nie ons besoekers nie,” het Kloppers gesê.

Kloppers het 'n klein meubelfabriek gehad waar hy al die meubels vir die hotel self gemaak het. “Van die masjiene was nie te erg beskadig nie, so ek kan dit nog gebruik. Dit wat ek nie gehad het nie, het ek van die plaas gebring en ons maak nou ook weer meubels,” het hy gesê.

Hy is daarvan oortuig dat die hotel selfs beter sal wees as voor die brand “omdat ek nou die foute sien en daarop kan verbeter”.

Kloppers het die hotel in 1996 gekoop nadat dit vir 27 jaar leeg gestaan het. “Ek het deur die jare baie werk in die plek gesit en binne 30 minute was dit amper alles weg,” het hy gesê.

'n Oudwerknemer vir wie Kloppers van ­diefstal aangekla het, het glo op die nag van 9 Junie die hotel aan die brand gesteek. Sy het hom toe ook met 'n mes gesteek.

Die Seeheim Hotel se kontaknommers is 063 250 501, 081 129 1073 of 081 210 5882.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer