Seekoei soek lafenis in swembad

Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Help, daar's 'n seekoei in my swembad!

Dit was een van twee vreemde versoeke die afgelope week aan die bekende wildveearts van Wildlife Vets Namibia, dr. Ulf Tubessing.

Eerstens moes hy 'n week gelede 'n buiteband om 'n renoster se horing en snoet verwyder. Die tweede versoek was Saterdag toe mnr. Paul Joubert, mede-eienaar van die wêreldbekende Erindi private wildreservaat naby Omaruru, hom laat weet het daar is 'n seekoei in die swembad.

Joubert het gister aan Republikein gesê hy het Saterdag omstreeks 06:30 'n oproep van die kampbestuurder van Camp Elephant, die kampeerterrein in Erindi, ontvang dat daar 'n seekoei in die swembad is.

"Ons het dadelik die swembad geblokkeer en ons gaste gewaarsku om versigtig te wees en nie na die swembad te gaan nie. Gaste is ook aangeraai om liewer na die winkel te ry as te loop."

Joubert skat die seekoei is sowat twee jaar oud, "maar met 'n seekoei kan jy nooit té versigtig wees nie".

Hy sê die seekoei moes bloot oor die motorhek in Camp Elephant ingeloop het en na lafenis teen die versengende hitte in die swembad gaan soek het.

Tubessing moes Saterdag van Windhoek na Erindi ry om die seekoei met 'n pylgeweer gedeeltelik te verdoof. Volgens Joubert is die seekoei na 'n ander dam verskuif wat baie water het.

Wat betref die renoster, kan die ligging weens veiligheidsredes nie bekend gemaak word nie. Tubessing sê die renoster was baie verlig nadat die ou buiteband verwyder is.

"Wees altyd bedag vir ou rommel soos buitebande en rolle draad wat in die veld rondlê. Renosters hou daarvan om hul horings hierin te steek en eindig dan met 'n buiteband of stuk draad om hul koppe," het Tubessing gemaan.

Kommentaar

Republikein 2025-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer