Seerowers kom al hoe nader
Erika Gibson - Koelbloedige seerowery en gewapende roof op skepe in die Golf van Guinee aan die Nigeriese kus kan suid spoel as dit nie onverwyld gestuit word nie.
Dán word dit Suider-Afrika se probleem, en Suid-Afrika is nie toegerus om nog ’n kuslyn te beveilig nie.
Seerowery in dié gebied het vanjaar hand oor hand toegeneem. Daar was 14 ernstige voorvalle waartydens die rowers nege vaartuie oorgeneem het.
Hulle was gewapen met AK-47’s en nege bemanningslede is as gyselaars geneem. Die afgelope week is ’n Liberiese vragskip beroof toe swaar gewapende seerowers die bemanning oorrompel het. Twee van die bemanningslede is steeds soek.
Die Internasionale Maritieme Buro (IMB) sê in sy jongste kwartaalverslag oor seerowery baie van die voorvalle word nie aangemeld nie. In een geval het die rowers beheer oor ’n olietenkskip oorgeneem en al die olie na ’n ander tenkskip oorgetap. Die Ghanese vloot het dié skip onderskep toe dit in sy gebiedswaters gewaar is. Die seerowers aan boord is in hegtenis geneem.
Die IMB beskryf die Nigeriese kus as ’n “brandpunt”, sê Helmoed-Römer Heitman, militêre ontleder, maar die Suid-Afrikaanse vloot kan bloedweinig daaraan doen as die rooftogte na die kus van Angola begin uitbrei.
Die Angolese vloot het nie die skepe om sy gebiedswaters te patrolleer nie en Suid-Afrika help reeds aan die ooskus om die Mosambiekkanaal te help beveilig.
“As die voorvalle suidwaarts gaan voorkom, gaan dit ons uitvoer na Sentraal-Afrika begin raak en ons skepe se veiligheid in gevaar stel.
“Daar was reeds in die 1990’s seerowery in Angolese water. Soos dit is, het Suid-Afrika nie eens genoeg skepe om die Mosambiekkanaal behoorlik en voltyds te patrolleer nie, wat nog ’n uitbreiding van dié patrollies aan die teenoorgestelde kant van die vasteland,” sê Heitman.
Volgens die IMB het seerowery aan die Somaliese kus haas verdwyn. Tot dusver vanjaar is daar ’n afname van 55% teenoor 2015.
Dít is hoofsaaklik te danke aan die uitgebreide spanpoging van die internasionale gemeenskap se vlote om die gebied te patrolleer.
“Daar is die mening dat ons vloot sy tyd aan die Mosambiekse kus mors omdat daar, afgesien van enkele voorvalle, geen verdere voorvalle was nie.
“Hulle vergeet dat dit juis ons teenwoordigheid daar is wat verdere voorvalle voorkom. Die vakansieoorde aan die Mosambiekse kus meen ook die teenwoordigheid van ons skepe het maritieme misdaad in die algemeen laat afneem. Sodra ons onttrek, kan dit verander.
“Die Nigeriese vloot wou lank reeds gehad het dat die Suid-Afrikaanse vloot in ’n gesamentlike poging met die Nigeriërs die skeepsroete tussen die twee lande help patrolleer, maar Suid-Afrika het nog altyd ’n verskoning gehad. Eers het ons nie skepe gehad nie en nou het ons nie genoeg skepe nie,” sê Heitman.
“Die lugmag het boonop nie enige vermoë om lugsteun aan kuspatrollies te bied nie. Tensy die vloot meer as die huidige drie patrolliebote diensbaar kan kry en die lugmag sy eie maritieme vermoë aanvul, is daar bloedweinig wat Suid-Afrika kan doen, behalwe om te sit en hoop die seerowers mik nie in ons rigting nie.” - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie