Seewater kan woestyn laat blom

Innoverende landbou met plantspesies wat soutwater verdra, word vir Namibië se kusstreek beoog.
Augetto Graig
Augetto Graig

Die woorde “landbou” en “seewater” word selde in Namibië in dieselfde sin gebruik, en om die twee konsepte te koppel, is oor die algemeen verregaande.

Mnr. Edward Plaatjie van BioPro Trading wil dié stand van sake verander en het sy vennoot, die Skotse entrepreneur en stigter van Seawater Solutions mnr. Yanik Nyberg, hiervoor laat invlieg.

Ná ’n week in die land het Nyberg beïndruk met sy innovasie om die woestyn groen te maak en landbou in Namibië geheel te omskep tydens sy voorlegging laas Donderdag by Arebbusch Lodge in Windhoek. Hy sê wat hy reeds in Swakopmund en Walvisbaai gesien het, plaas Namibië as ’n voorloper om ’n massiewe 5 000 hektaar seewater landbouaanleg ter waarde tussen N$15 miljoen en N$26 miljoen nog voor die einde van die jaar te kon oprig.

Net die helfte van dié oppervlak sal reeds 800 werksgeleenthede skep, sê hy. Werknemers gaan tipies deur ses tot agt maande opleiding om spesifieke vaardighede to ontwikkel, sê hy.

Die werkbaarheid van die konsep is in 1998 bewys met die uitgrawing van ’n kanaal langs die kus van Eritrea wat seewater toelaat om soos in ’n rivier na die binneland te vloei. Onder leiding van dr. Carl Hodges, voorsitter van Global Seawater Incorporated, is ’n ekostelsel gebaseer op tussen 20 en 30 plantspesies wat sout kan verdra, asook seediere soos garnale en tilapia. Hieruit kon kos vir mens en dier gekweek word en werk geskep word, totdat ’n staatsgreep in 2002 tot die Amerikaanse atmosferiese fisikus se gewelddadige uitsetting gelei het.

Nyberg is die wenner van toekennings soos ‘Young Innovator of the Year 2019’ en die ‘Shell Livewire Smarter Future Award 2019’. Sy geïntegreerde soutwaterlandbou-ekostelselmaatskappy bedryf tans kleiner projekte in Ghana en Malawi op die vasteland, asook in Viëtnam en Bangladesj. Sy span van elf kenners is ’n maatskaplike impak onderneming wat fokus op ontwikkeling en samewerking, sê hy.

Hul voorstel vir die Namibiese kus is ’n plaas met seewaterbesproeiing waar veral met salicornia en mangrove, garnale en tilapia-vis geboer word.

Bestaande soutwerke bewys dat die vaardighede en ondervinding om nodige grondwerke vir die projek te bou, reeds beskikbaar is. Hoë werkloosheid vlakke en die toeganklikheid van vaardighede, Namibië se gevestigde grondregstelsel en algemene politieke stabiliteit is ook voordele en redes hoekom ’n suksesvolle projek hier vinniger op die been kan kom, sê hy.

Die N$92 miljoen Seawater Solutions sal N$113 miljoen oor drie jaar vir die projek wil insamel, met die mikpunt om die helfte hiervan vanaf Namibiese beleggers te kom.

“Klimaatfinansiering het die afgelope jare skerp toegeneem,” sê Nyberg. Hy voeg by dat die wêreld se koolstofmark ook oor die afgelope vyf jaar gestabiliseer het. Met hulp van vennote soos die Verenigde Nasies se Wereldvoedselprogram (WFP), die UNDP en dosyne beleggingsmaatskappye wat groot belegging vir soortgelyke projekte bied, is hy vol vertroue die geld sal beskikbaar wees.

Tot dusver kon Plaatjie reël dat Nyberg met beamptes van die Swakopmund en Walvisbaai munisipaliteite, die Ontwikkelingsbank van Namibië en Bank Windhoek ontmoet. Hulle hoop om reeds môre met hoof uitvoerende beamptes van albei kusdorpe te kan vergader.

Me. Nangula Uaandja, uitvoerende hoof van die Namibia Investment Promotion and Development Board, het beloof om kommunikasie met die ministerie van industrialisasie en handel en die Omgewingsbeleggingsfonds (EIF) te vergemaklik, sê hulle.

“Namibië bied ’n unieke geleentheid. Ons hoop vir plaaslike belegging, omdat dit vir ons baie belangrik is. Ons neem tipies ’n minderheidsaandeel in ons projekte as ’n uitgangstrategie en ons fokus op plaaslike eienaarstrukture. Ons beoog om sowat die helfte van die projek se finansiering plaaslik te verkry om voort te gaan. Ons hoop om teen die middel van die jaar definitiewe antwoorde vanaf die regering, munisipaliteite en oor finansiering te hê,” het Nyberg gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer