Seewierboerdery skop eersdaags af

Kelp Blue beplan om in die toekoms 'n 70 000 hektaar-seewierwoud sowat 12 seemyl noordnoordwes van Lüderitz te bestuur en te benut.
Augetto Graig
Augetto Graig – Bouwerk aan 'n proefprojek vir 'n ambisieuse seewierboerdery langs die kus van Lüderitz, sal voor die einde van vanjaar afskop. Dit volgens mnr. Daniel Hooft, stigter en uitvoerende hoof van Kelp Blue.

Hy sê die beplanning is reeds ver gevorderd om in die toekoms 'n 70 000 hektaar-seewierwoud sowat 12 seemyl noordnoordwes van Lüderitz te bestuur en te benut.

“Ons het omgewingsklaring vir ons loodsfase in Maart 2021 ontvang, die lisensie in Junie vanjaar, en wag tans vir aflewering van materiaal van verskeie internasionale verskaffers.

“Sodra die materiaal voor die einde van 2021 in Namibië aankom, sal ons begin met die installasie op see,” het hy dié week gesê.

Die proefplaas sal net 1,5 hektaar wees (ter waarde van N$50 miljoen), terwyl die eerste kommersiële projek 800 ha (ter waarde van N$800 miljoen) sal wees en ons hoop om uiteindelik tot 70 000 hektaar seewierbos op geskikte plekke langs die suidelike Namibiese kus te verbou. Die loodsligging is ongeveer 3 seemyl vanaf land, 12 seemyl noordnoordwes van Lüderitz, in net meer as 55 m diepte water,” brei hy uit.

Hooft het vir 20 jaar in sewe ver­skillende lande vir die oliereus Shell gewerk, waar hy met opleiding as 'n see-ingenieur, en sy passie vir die see, sy reputasie as 'n sakekenner opgebou het. Nou wil hy die nuwe seewiergeleentheid in Namibië ontgin.

“Ons het na die planeet gekyk vanuit die oogpunt van waar Macrocystis pyrifera die beste sou groei,” sê hy.

“Ons gebruik Macrocystis pyrifera ('n tipe seewier) wat wel natuurlik in die Benguela-seestroom voorkom, maar verder suid,” sê hy.

“Die Lüderitz-opwellingsel van die Benguela-seestroom was nr. 1 op 'n globale skaal. Dis gebaseer op voedingstowwe, die Benguela is die rykste opwellingstroom in die wêreld, en temperatuur, wat optimaal is presies by die Lüderitz-bandwydte van 11 °C to 15 °C, en stormgolfhoogtes, wat, hoewel rof, heelwat laer is as in ander ideale gebiede soos Nieu-Seeland, Alaska of Chili,” brei hy uit.

“Die seewierbos groei op 'n lewende struktuur wat 15 m onder die seeoppervlak hang. Die klein kelpplante word in 'n broeiplek gekweek en voor installasie aan die struktuur geheg. Die lewende struktuur is 'n lang dun struktuur, soos 'n hangmat in verskeie dele gedeel, sorgvuldig ontwerp om saam met die see te beweeg eerder as om teen dit te werk. Dis gebou uit robuuste en soliede komponente, omdat die krag van die see tydens storms fenomenaal is,” brei hy uit.

Sodra die plant volgroeid is, word die biomassa by die seeoppervlak (sowat 10% van die plant) elke 3 tot 4 maande afgesny.

“Reuseseewier is die vinnigste groeiende organisme op die planeet. Ons kan elke 3 tot 4 maande weer oes, en net soos wanneer hooi gesny word, verhoog dit net die voorplanting en groei van die plant,” sê hy.

Ná die seewier geoes word, word dit tot biostimulante verwerk, wat wortelgroei en blom in gewasse verbeter, sê hy.

Soortgelyke produkte is Kelpak en Afrikelp uit Suid-Afrika.

“Ander waardetoevoegingsprodukte waarna ons op langer termyn kyk, is bioverpakking en tekstiele. Al hierdie verwerking sal in Namibië plaasvind. Ons voorspel ook dat 'n sekere gedeelte van ons produksie binne Namibië bemark sal word,” sê hy.

Volgens Hooft verwag hulle om tussen 40% en 50% van die begroting binne Namibië te bestee en terwyl die proefprojek ongeveer 25 werksgeleenthede sal skep, kan die groter kommersiële projek tot 400 direkte werksgeleenthede skep, veral vir inwoners van Lüderitz, sê hy.

– augetto @republikein.com.na

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!