Sege in Pretoria is 'n aansporing

Paaldans
Andrew Poolman
Sukses is soms net die regte inspuiting om dinge behoorlik te laat vlamvat. Dit is presies wat Sonja Keil hoop sal gebeur, ná laas naweek se deurbraak.

Sonja (26) en Charlotte Ann Taylor-Debortoli (26), beide van Swakopmund, het saam in Pretoria aan 'n paaldanskompetisie (Pole Art SA) gaan deelneem. Hulle was sover bekend die eerste Namibiërs nóg wat in 'n paaldanskompetisie in die buiteland meegeding het.

Sonja en Charlotte Ann het 'n eerste plek in die dubbelsafdeling ingepalm teen SA se topgekeurde paar.

“Paaldans is nog ietwat van 'n nuwigheid en sommige Namibiërs moet nog oortuig word dat dit 'n sport is,” sê Sonja, wat sedert September laasjaar haar eie paaldansateljee bedryf en klasse aanbied.

Een van haar studente is Charlotte Ann, vir wie sy opgelei het om haar spanmaat in die dubbelskompetisie te wees. In Desember het die twee aan die Carnival of Flames op die kusdorp deelgeneem, asook die WIKA in Windhoek vroeër vanjaar. Daar was ook optredes by 'n paar korporatiewe funksies.

Sonja beskryf paaldans as 'n opwindende sport wat ontwerp is om deelnemers se krag, soepelheid en spierdefinisie te verbeter en liggaamsvet te verbrand.

“Elke deel van jou liggaam word geoefen, want jy moet tolbewegings kan beheer, truuks kan uitvoer en 'n roetine kan voltooi. Dit slyp jou spierkrag op 'n unieke manier. As 'n sport kan dit met gimnastiek vergelyk word – met beoordelaars wat punte toeken volgens die akkuraatheid van jou uitvoering en die moeilikheidsgraad van die elemente.”

Ander voordele sluit in dat paalfiksheid nie deur jou liggaamstipe of ouderdom beperk word nie

Sonja is die eerste gekwalifiseerde instrukteur in die land vir die beginner-, intermediêre en gevorderde vlakke. Haar entoesiasme het reeds in haar begindae in die sport ontstaan.

“Ek het vir ses jaar drama en dans, fiksheidsafrigting vir groepe, persoonlike afrigting en joga in Kaapstad gestudeer. In my tweede studiejaar het ek met paaldans begin omdat ek iets nuuts en opwindends wou probeer.

“Ek het onmiddellik 'n liefde daarvoor ontwikkel. Dit is wonderlik om by verskillende geleenthede op te tree en mense 'n kans te gee om te sien hoe aanskoulik paaldans is. Ek sal enige vrou aanbeveel om minstens een keer in haar lewe paaldans uit te probeer en vir hulself te sien mooi en sterk ons kan wees.”

Nadat sy vir vyf jaar in Kaapstad gewerk het, het Sonja besluit die tyd is reg om haar vlerke te sprei. Sy het in Perth in Australië by Bobbies Pole Dance Studio verdere praktiese opleiding gaan kry.

“Dit was 'n lieflike ondervinding. Ek het ongelooflike mense ontmoet wat my geïnspireer en aangemoedig het om te doen waarvan ek reeds die laaste klompie jare gedroom het, naamlik om my eie paaldans-ateljee in Namibië te open.”

Haar klub (Pole Dance Fitness Swakopmund) kan op Facebook gevolg word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!