Seibeb kap terug teen Amupanda
Seibeb kap terug teen Amupanda

Seibeb kap terug teen Amupanda

Die LPM steun raadslid wat glo “te haastig” vir grond aansoek gedoen het.
Augetto Graig
Augetto Graig – Die Landless People's Movement (LPM) se adjunkleier, mnr. Henny Seibeb, het Maandag die party se volle steun gegee vir die Windhoekse stadsraadslid me. Sade Gawanas, wat volgens hom die slagoffer is van 'n vervalste brief en valse aantygings deur burgemeester, dr. Job Amupanda, dat sy nege dae ná haar aanstelling vir grond aansoek gedoen het.

Seibeb sê dit sou in elk geval nie onwettig wees indien sy wel aansoek gedoen het nie, maar geregverdig, omdat sy 'n vrou én 'n afstammeling van mense wat van grond in Windhoek onteien is. Maar sy hét nie aansoek of selfs navraag gedoen by die betrokke munisipale beamptes nie, wat ontken het dat hulle ooit so 'n aansoek ontvang het, sê Seibeb.

Die LPM-leier beskuldig die burgemeester dat hy valslik 'n grondaktivis is wat nie die klasse-agenda verstaan nie.

Oor die grondaansoek sê hy: “Dis 'n uitbeelding van die vrugbare verbeelding van Amupanda en sy kabaal. Hulle het haar handtekening vervals en 'n valse brief voorgelê.

“Ons het haar aangemoedig om haar prokureurs te nader,” sê hy.

Seibeb sê die ganse konsep van grondbestuur word in Suider-Afrika misbruik. Hy sê die konsep van stedelike en landelike grond is verkeerd en word bloot gebruik om arm mense ingeperk te hou. “As jy aan die buiterand van 'n stad bly, in 'n nedersetting, word jy sonder respek behandel,” sê hy.

“Kolonialisme en apartheid het duidelik diep nagevolge vir Namibië. Afrika het dekades van imperialisme en kolonia­lisme deurgegaan.

Grond is bykans oor die hele Afrika onteien – ook in Namibië. Die hartseer deel is dat Namibië ná onafhanklikwording, weens druk vanaf die rykes, van sy grondbeleid terugbeweeg het,” sê hy.

Nou benodig mens baie geld vir toegang tot grond, sê hy.

In die streek en in Namibië word arm mense van hul grond af verjaag, ten gunste van kommersiële ondernemings.

Volgens Seibeb is dit hoekom grondkwessies altyd met die klasse-­agenda gepaard moet gaan. “Wie besit wat? Wie doen wat? Wie kry wat? Wat maak hulle met die rykdom?” is vrae wat volgens hom beantwoord moet word.

In Gawanas se geval is dit dus verkeerd om 'n vroulike afstammeling van onteiende mense, 'n verwagtende moeder, se reg tot grond in Windhoek te bevraagteken, sê hy.

“Óf (Amupanda) is 'n valse grond­aktivis, óf hy verstaan nie die konsep nie,” sê Seibeb.

Die burgemeester het ­inderdaad 'n tweede tuiste in 'n ander deel van die land, “maar waar moet arme Sade Gawanas heengaan? Sy verdien grond hier in Windhoek,” dring hy aan.

Seibeb sê Amupanda “maak 'n bespotting van die grondvraagstuk. Hy is onbevoeg om 'n leier te wees. Miskien moet die LPM deel raak van die koalisie van 'progressiewe partye' en daardie twee (AR) setels vervang, en dan volgende jaar ons beurt vat om die amp van burgemeester te vul.”

Seibeb sê die LPM werk veral goed saam met die Independent ­Patriots for Change (IPC) se raadslede om verskeie dorpe oor Namibië te bestuur.

Volgens Seibeb werk die LPM en IPC al sedert Desember saam op dorpe soos Okahandja, Lüderitz, Oranjemund, Swakopmund, Walvisbaai, Karasburg en Kalkrand om die plaaslike owerhede te bestuur,

“Daar is geen probleem nie. Ons kom goed oor die weg,” sê hy.

“Nou is dit dalk nodig dat ons ingryp om Windhoek te red, want hier is geen leierskap nie en ook omdat dit ons vaderland is.

“Tans besoek ons leierskap ­verskeie dorpe. Hulle het Sondag op Mariental 'n vergadering gehou waar die raadslede terugvoer gegee het. Vandag (Dinsdag) is hulle in Karasburg, dan Oranjemund, Keetmanshoop, op reis na Lüderitz. Oral waar ons raadslede het, lê ons besoek af,” sê hy.

Seibeb sal self die toer voortsit, sodra die LPM-leier, mnr. Bernadus Swartbooi, einde vandeesweek na Windhoek terugkeer.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!