Seidler terug op koers vir Tokio

Oopwaterswem
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Phillip Seidler, Namibië se onbetwiste koning van oopwaterswem, het die afgelope naweek in Suid-Afrika sy staal in die Olimpiese 10 kilometer, asook die korter 5 km item in die see gewys.

Die Swakopmunder het saam met sy meisie, Amica de Jager, in die Oos-Kaap deelgeneem. Hy het Vrydag derde geëindig in die Suid-Afrikaanse nasionale 10 km oopwaterkampioenskap by Marina Martinique in Jeffreysbaai.

Die volgende dag in ongure weer by Somerstrand in Port Elizabeth het hy egter bykans twee minute voor sy naaste teenstander in ’n nuwe byeenkomsrekord die eerste posisie in die 5 km Bell Buoy-uitdaging opgeraap. De Jager was self op haar beste by Somerstrand en beklink die vroueafdeling met ’n eerste plek.

Seidler het agterna gesê: “Hierdie resies het ek aan Shaun Loubser, my dierbare vriend en mentor in die hemel opgedra.

“Ná ’n jaar sonder enige kompetisies, het ek ’n uiters suksesvolle naweek se resies in Suid-Afrika gehad. My eerste stop was by Marina Martinique vir die SA nasionale 10 km kampioenskap en die volgende dag was dit Port Elizabeth toe vir die 5 km Bell Buoy-uitdaging.

“My derde plek by Jeffreysbaai het ek in 1 uur 55 minute 06 sekondes behaal. Ek het deurentyd sterk gevoel en is bly ek kon die voortou neem en die pas aangee.

“Die volgende dag se Bell Buoy-uitdaging is een van die moeilikste oseaankompetisies ter wêreld. Ons moes in uitdagende toestande teen sterk dwarsstrome in die see veg.

“Ek was gelukkig om Wayne Jones daar te hê, wat my in die kajak begelei het. Ek is bevoorreg en geëerd om die algehele eerste plek in ’n tyd van 53 minute 19 sekondes te behaal. Dit is die vinnigste tyd wat nog in dié byeenkoms opgestel is.

“Ek het my eerste plek gevier met my meisie, Amica de Jager, wat die vroueafdeling oorheers het. Dankie Amica vir al die wenke en kunsies wat jy my gewys het om jou in die resies te kon klop!

“Ek is uiters ingenome met my algehele vertoning en my span. Ek is beslis terug en op peil vir die Olimpiese 10 km oopwaterswem kwalifiserende resies wat op 29 Mei in Japan plaasvind. Hou die spasie dop, Flippy is terug!” het Seidler vertel.

Net Michael McGlynn (eerste in 1:54:49) en Henre Louw met 1:55:04 het Seidler se briljante 1:55:06 onderskeidelik met 17 sekondes en 02 sekondes in die 10 km oopwaterswem geklop.

Seidler wys nietemin sy hakskene vir name soos Chris McGlynn (vierde) en Daniel Marais (vyfde) – twee van Suid-Afrika se topvier elite Proteas oopwaterswemmers.

Seidler het verlede jaar ook die derde plek tydens die Suid-Afrikaanse nasionale 10 km oopwaterkampioenskap by Jeffreysbaai beklink. Hy het Desembermaand sy regterskouer met die wegspring van die Pupkewitz Jetty Myl swembyeenkoms op Swakopmund beseer, maar sy skouer het die naweek beslis die toets van sy rehabilitasie geslaag.

Die Swakopmunder sê: “My skouer het 100 persent herstel. Ek het nog een geleentheid om vir die Olimpiese Spele in Tokio te kwalifiseer en dit is op 29 Mei in Japan. Ek moet minstens negende eindig of die eerste Afrikaan uit die water wees om te kwalifiseer. Slegs 25 swemmers ter wêreld kan vir die Olimpiese 10 km oopwaterswem aantree.

“Ek sal weer teen die Suid-Afrikaners moet meeding, want net een plek is vir Afrika beskikbaar. Maar ek glo ek kan hulle klop. Die oefeninge en program wat ons nou gebruik, gaan my nog sterker en vinniger maak in die volgende twee maande voor ek in Japan moet kwalifiseer.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!