Seidler wen Jetty Myl nommer sewe in rekordtyd

Toestande was nie maklik nie, maar die gebore Swakopmunder se bedrewenheid in sy tuiswaters was opnuut te veel vir enige uitdagers.
Phillip Seidler se oorheersing van die Pupkewitz Jetty Myl-swembyeenkoms is vir die Swakopmunder 'n spesiale bron van trots en Vrydag se sewende opeenvolgende triomf was in verskeie opsigte spesiaal.

Met sy besondere kennis van die Atlantiese Oseaan se nukke op sy geboortedorp, het die 22-jarige Seidler met sterk kompetisie afgereken op pad na sy indrukwekkende wentyd van 18 minute 33 sekondes, wat al sy vorige byeenkomsrekords verpletter het.

“Om vir die sewende keer die kampioen te word, was 'n geleentheid wat ek seker die langste sal onthou. Om die seewater en hierdie belewenis saam met my vriendin Amica de Jager mee te maak, was veral besonders,” het Seidler ná sy rekordsege gesê.

“Ek het geweet dat ek vanjaar sou moes rekening hou met my vriend Xander Skinner, wat in Amerika swem en studeer, asook die Italiaanse internasionale swemmer Luca Simonetti.

“Beide is gedugte naelswemmers en om my titel te behou, was my fokus om die tempo van die begin af so hoog as moontlik te stel en om my taktiek in die oopwater te gebruik wat ek gedurende my blootstelling in internasionale resiese opgedoen het.

“Deur munt te slaan uit die deinings en rowwe see, kon ek daarin slaag om my vorige beste tye te oortref ná 'n opwindende resies.

“By die eindstreep was dit 'n groot verrassing dat my vriendin Amica my naaste uitdager was, net-net voor Luca Simonetti in die algehele derde posisie.

“Ek wil graag elke deelnemer gelukwens wat vandag die moeilike toestande van die Jetty Myl getrotseer het. Aan die einde van die dag maak dit almal van ons wenners.”

Die nuwe vrouekampioen Amica de Jager het met die vorige titelhouer, Namibië se 17-jarige Heleni Stergiadis, afgereken en het agterna gesê: “Ek is 'n Suid-Afrikaanse oopwaterswemmer en lewensredder van St. Francisbaai. Ek is hier met vakansie saam met my kêrel Phillip Seidler.

“Dit was wonderlik om saam met Phillip aan my eerste Jetty Myl deel te neem en ek het elke oomblik daarvan geniet. Dit het al die elemente gehad wat ek die meeste van oopwater­swem geniet – die branders was rof, die seestroom het jou meegesleur en die wind het die water verder onstuimig gemaak, met die bykomende opwinding dat jy rondom die rotse by die Mole moes swem.

“Ek was uiters verbaas dat ek algeheel tweede klaargemaak het in 'n tyd van 20 minute 33 sekondes. Dit het ek glad nie verwag nie. Die kompetisie naby die voorpunt was superstraf, maar ek het myself aanhoudend herinner om nie skiet te gee nie en die heeltyd harder te druk.

“Dit is vir my wonderlik om die vrouewenner te wees. Die Jetty Myl is 'n besonder pretgevulde byeenkoms en die beste moontlike manier om 'n jaar van kompetisie af te sluit – deur die Namibiese oseaan met al sy uitdagings te takel.”

In 'n seetemperatuur van omtrent 17 grade en deinings van redelike grootte, was die seetoestande redelik gunstig vir seeswemmers. Die hoof­item was oor die volle afstand van 1.9 kilometer, wat inderdaad langer sou word indien jy nie daarin kon slaag om jou swemlyn so reguit as moontlik te navigeer nie.

Die beginpunt was by Tiger Reef, met 'n draaipunt om die Jetty en daarna na die wenstreep op die Mole se strand.

Te danke aan die gebruiklike seepgladde organisering en bemarking deur OTB Sport, het bykans 300 swemmers vir die naweek se byeenkoms ingeskryf.

Me. Yvonne Brinkmann van OTB Sport sê: “Die veld van inskrywings het oor die laaste 13 jaar konstante groei getoon. Phillip Seidler se nuwe rekordtyd lyk indrukwekkend en 'n mens kan verwag dat dit 'n tyd lank gaan bly staan.

“Ons is baie dankbaar teenoor me. Meryl Barry en die Pupkewitz-stigting vir die volgehoue borgskap en ondersteuning oor die laaste 13 jaar van die Jetty Myl se bestaan. Hulle speel 'n sentrale rol om oopwaterswem in Namibië te help bevorder.”

Die Pupkewitz-stigting word ten volle deur die opbrengste van die maatskappyegroep gefinansier. Me. Barry het die Pupkewitz-groep asook alle lojale kliënte en personeel bedank.

Die voorste uitslae van die 1.9 km se onderskeie kategorieë was soos volg (Namibiërs, tensy anders aangedui):

Elite mans: 1 Phillip Seidler (18:33, byeenkomsrekord), 2 Luca Simonetti (Italië, 20:41), 3 Xander Skinner (21:08), 4 Corné le Roux (23:11),5 Arkell Wellmann (25:10), 6 Matthew Gertze (26:58), 7 Carl-Hein Visser (27:09), 8 Sascha Rapp (27:14), 9 Jureck Johannesson (27:31), 10 Luke Brinkmann (28:09).

Elite vroue: 1 Amica de Jager (RSA, 20:33), 2 Heleni Stergiadis (23:33), 3 Vicky Botha (23:40), 4 Joanne Liebenberg (23:54), 5 Molina Smalley (25:47), 6 Imke Jagau (27:54), 7 Carissa Esslinger (28:42), 8 Ilka Preschel (29:16), 10 Liezl Louw (40:43).

Meisies 16 en jonger: 1 Tiana Esslinger (25:43), 2 Maya Stange (28:26), 3 Corinna Meyer (28:58.

Seuns 16 en jonger: 1 Keanet-Peter Rathenam (26:54), 2 Daniel Brinkmann (Australië, 27:30), 3 Yenik Brinkmann (30:57).

Vroue 30-49 jaar: 1 Louise Cilliers (27:43), 2 Sonja Obholzer (28:49), 3 Imme Hucke-McFarlane in29:05.

Mans 30-49 jaar: 1 Henry Wright (23:56), 2 Jurie Badenhorst (24:12), 3 Peter Brinkmann (25:27).

Meesters vroue: 1 Zoe Mitchell (28:52), 2 Lucy Jane Louw (32:10), 3 Naomi Milne (32:35).

Meesters mans: 1 Francesco Lanzone (Italië, 24:31), 2 Mark Brinkmann (25:40), 3 Alex Skinner senior (25:52).

600 meter Sprint, mans algeheel: 1 Nico Esslinger (11:11), 2 JoDave Cioccolanti (11:39), 3 Brave Magongo (12:01), 4 Armas Magongo (12:18), 5 Gunther Streit (12:31).

600 meter Sprint, vroue algeheel: 1 Ariana Naukosho (12:54), 2 Mackenzie Spath (12:56), 3 Maja Brinkmann (13:51), 4 Ruth Hornickel (13:53), 5 Anishia Maritz (14:02).

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!