Seks, drugs, bloed en stripklubs
Karin Eloff - Toe is dit nou nie bye for now nie.
As jy wonder wat van die skepper van Agter Elke Man, Skooldae en Egoli geword het, lees verder.
En as jy nog nooit van Egoli of Agter elke Man of Skooldae gehoor het nie, is jy seker onder 20. Dis darem ook nie al waarvoor Franz bekend is nie, hy is ook ’n bekroonde akteur, regisseur en vervaardiger van verskeie flieks, enkeldramas en minireekse.
Maar moenie ophou lees nie – Franz Marx is geen ou oom wat niks van seks, dwelms, lyfwagte en stripklubs weet nie.
Spieëlbeeld is Franz se eerste spanningsverhaal in boekvorm. Die anatomie van ’n huurmoord – dis bloedig, skokkend, gewelddadig, snaaks en ongelukkig hartverskeurend werklik. In Spieëlbeeld klim Franz in Joe Minnie se kop – 'n gym-afrigter wat verstrengel raak in die wêreld van die superryk, maar superweerlose Dolf Eksteen, sy opportunistiese eksstrippervrou, 'n beweging wat obsessief aan die behoud van Afrikaans klou, 'n stripklubeienaar met net een doel voor oë en lyfwagte wat agter poker-gesigte met verskeie nagmerries worstel. Dis 'n vlak wêreld. Met diep probleme . . . heldiep.
Hoe lank het jy aan Spieëlbeeld geskryf?
Ek het stadig aan Spieëlbeeld geskryf, hoofsaaklik omdat die feitelike navorsing tydrowend was en ek vir die eerste keer in my skryflewe nie ’n spertyd gehad het om te respekteer nie. Dit was so vier jaar se werk. As ek flukser was, of navorsingassistente gehad het, sou dit drie jaar gewees het!
Jy was glo in Windhoek op skool?
Ek is in Pretoria gebore, maar my vroegste herinneringe het in Namibië ontwaak. My Pa, ‘n landboukundige, was onder meer bestuurder van die Neudam-proefplaas en landboukollege. Ek weet nie of dit meer bestaan nie. Van my laerskooljare onthou ek die Van Rijn-jare die beste, waar ek natuurlik klein-klein al koshuis toe is. Die skool se naam was eers Laerskool Eros en ek het ‘n vermoede die skool se naam is later weer teruggedoop Eros toe. In Windhoek Hoërskool was ek in die ou Koshuis Vyf. Ek het egter in Bloemfontein gematrikuleer.
Hoe oud is jy?
Ouderdom in jare getel is nie vir my sinvol nie. Ek glo mense is, afhangende van omstandighede soos gesondheid of fisieke krag, “operasioneel” aktief of gewoon “operasioneel” onaktief, ondanks jou jaartelling. Maar, ek is 75 en die wêreld en lewe in al sy verskeidenheid bly tog altyd vir ’n mens, oud en jonk, beskikbaar om te verken. Cliché of te nie: Dis altyd ’n avontuur.
Het jy nog stories om te skryf?
Ek skryf al my lewe lank en het geen behoefte om op te hou nie, al is skryf party dae ’n wrede, selfs moorddadige taakmeester! Temas en verhale word gelukkig elke dag deur die koerant by jou huis ingedra!
Watter soort stories betower jou?
Ek lees alles wat voorkom, van Mills en Boon en stroperige Afrikaanse liefdesverhale of letterkundige werke tot die nuutste Amerikaanse treffers en dik, klassieke Russiese eposse. Ek vrees ek het nie eintlik ’n “goed”-ontwikkelde storie- of leessmaak nie, want as ek van die boek, storie en\\of karakters hou, weet ek nooit of dit veronderstel is om goed of sleg te wees nie.
Wat presies wou jy met Spieëlbeeld se titel sê?
Aanvanklik was daar ’n paar moontlikhede vir titels, maar ek dink Spieëlbeeld het die tematiese en metaforiese elemente wat die boustene van die omgewingskildering en die karakters se geïsoleerdheid is, baie goed raakgevat. Die titel is voorgestel deur Carla Lang, my redakteur, wat dwarsdeur die skryfproses saam met my moes bloed sweet om Spieëlbeeld ‘n werklikheid te maak. Dit was vir beide van ons ’n moeilike opdrag omdat die verhaalstruktuur vreemd ongesinchroniseerd is wat tydlyn en storie betref. Ek het Spieëlbeeld met dankbaarheid aan haar opgedra.
Wat was jou ervaring van die ontslape Teazers-eienaar, Lolly Jackson?
Lolly was ’n terloopse, maar goeie kennis; paar keer saam gekuier en geëet en ons raakpunte was lang gesprekke oor motors. Hy het ‘n mooi versameling gehad en was altyd bereid om een of twee beskikbaar te stel vir verfilming. Hy’t altyd gesê ek behoort sy lewensverhaal te verfilm as ek groot geld wil maak! Hy’t op ‘n dag sy gedrukte biografie by my kantoor afgelewer om na te kyk, maar die naaste wat ons aan enige verfilming gekom het, was sy vlugtige verskynings in Egoli en ’n rolprent voor hy so onverwags vermoor is. Hy was baie tegemoetkomend oor die binnewerking en die probleme verbonde aan die besit en bestuur van ontkleeklubs. Hy’t groot gedink en gedroom as ’n showman. As mens het ek hom altyd vriendelik en innemend gevind. Ek het baie van hom gehou en nogal gewonder oor hoe 'n soort baas hy werklik vir die dansers in sy diens was! Van die dansers het my vertel daar was onregverdige, streng reëls!
Jou sekstonele is baie werklik sonder om lagwekkend, aansitterig en stroperig te wees. Dit sit nie in elke skrywer se broek om seks so te beskryf dat dit nie belaglik klink nie. Hoe kry jy dit reg?
As jy wil sekstonele aandurf, glo ek ’n man moet skouer aan die wiel sit, by wyse van spreke, om ordentlike navorsing – oor ’n lang tydperk – te doen. Die probleem met seksbeskrywings is dat seks anders voel as wat dit lyk. Helse probleem! Dan moet jy ook bedag daarop wees om nie te veel lesers aanstoot te gee nie. ’n Gróter probleem! In Afrikááns?! Nóg n groter probleem!
Wat laat jou daagliks opstaan en aangaan?
My hond, Bakkies, en my baie ongeduldige kat, Katrina, het soggens geen simpatie met my inlêplanne nie en dring luidkeels aan op liefdesbetuigings en veral kos, natuurlik; kieskeurig en vol fiemies soos hulle is. En dan is mens nou eenmaal op en moet jy haastig regmaak vir jou gimsessie saam met ‘n ewe ongeduldige en onsimpatieke afrigter. Afrigters . . .
Watter karakters in Spieëlbeeld is jou gunstelinge?
Ek raak obsessief betrokke by my karakters se wel en weë en raak skaamteloos op hulle verlief. Ek werk almal se lewens volledig uit. Ook die “kleiner” karakters s'n. Dis nogal ‘n probleem, want dit mors dikwels tyd, maar dan: Ek glo daar is ’n motivering en wendingmoontlikheid in elke karaktertjie wat die hoofkarakter se lewe en/of die storie dalk ’n volronde wending kan gee waaraan mens nie vroeër gedink het nie. Vanselfsprekend was Joe en Dolf die groot vrate vir my liefde en aandag, maar ek was ook pynlik verlief op die tragiese Anél en so ook Joe se pa en ma. Die heel moeilikste toneel in die boek om te skryf was die danstoneel van Joe en sy pa, veral oor die moeilike subteks van die toneel.
Die behoud van Afrikaans is ’n deurlopende tema in Spieëlbeeld. Word Afrikaans regtig bedreig?
Ek glo standaard Afrikaans met sy hoër funksies word wel deeglik en ernstig bedreig, maar hoofsaaklik deur Afrikaanssprekendes en slapgat Afrikaners. Op straatvlak word dit op ‘n tweede front bedreig deur taalvermenging. Natuurlik sal Afrikaans in verskillende vorme en dialekte altyd gepraat word. Die algemeenste vorm van praat-Afrikaans sal waarskynlik baie naby aan Joe se “Afrikaans” in Spieëlbeeld wees. Groot gedeeltes van ons jeuggemeenskap praat al klaar so – ook met radio- en TV-uitsendings! Ek glo nie dis Engels wat soos ‘n virus in ons taal ingesluip het nie, maar eerder ’n laer klas Amerikaanse sleng via ingevoerde musiek, rolprente en TV-programme. As ons Engelse invloed maar BBC-standaard was! Ek verneem die Namibiërs besig nog die mooiste Afrikaans – vir die taal se toekoms is dit ’n groot ligpunt!
Jy laat die lewe van arm mense/die laer klas/die onopgevoedes en ryk mense/die hoër klas/die opgevoedes dikwels verstrengel raak. Is dit met opset dat jy hierdie tema dikwels verken?
Die groot skeiding tussen die middelklas-Afrikaners, hul arm of verarmde familie en hul liefde-haat-verhouding, wantroue, jaloesie én bewondering jeens die welgestelde deel van die Afrikaanse gemeenskap, het my al in my jeug verwonderd laat staan en ek het dit ’n goeie agtergrond vir teenstellende storielyne gevind, maar ek dink dat in die veranderde omstandighede waarin ons ons tans in Suid-Afrika bevind, sal dit al minder relevant raak. Die skeiding tussen ryk en arm is nie meer ’n half komiese en interessante aspek van die Afrikaner se eie gemeenskap nie, maar ’n akute en gevaarlike nasionale werklikheid in Suid-Afrika.
Jy ken jou karakters baie goed. Ontmoet jy ooit mense wat jy nie kan plaas nie, wat vir jou ’n uitdaging of ’n raaisel is?
Ek probeer sover moontlik om karakters in hul eie wêreld te skep en gebruik nooit regte mense wat ek ken as voorbeeld of selfs inspirasie nie, want dan sit jy, voor jy jou kom kry, met herskepte tipes en ’n tipe kan nooit n karakter wees nie, maar goeie karakters word deel van hul omgewing en derhalwe ook voorbeelde van ’n tipe, maar bly ’n individuele persoon. Klink dit vreeslik deurmekaar en aansitterig? Kortom: Karakters moet onafhanklik van tipes uit hulle eie uit, organies ontwikkel. ’n Moordenaar of onderwyser of joernalis of dokter is tog nie 'n tipe nie, maar ’n karakter kan ook wel toevallig ’n moordenaar wees, of ’n onderwyser of joernalis of wat ookal.
Hoe lyk jou daaglikse lewe?
Ek woon die afgelope paar jaar net buite Stellenbosch en afgesien van die diere en die gim en die brug en die skaak en die sosiale middagetes en/of aandetes werk ek agter my lessenaar aan stories of navorsing vir of van stories. Vroeër jare het ek wonderlike assistente gehad en kon ek dikteer om die volgende dag ’n netjiese teks vir redigering voor my op die lessenaar te kry, maar nou moet ek alles self doen. Is dit wat hulle bedoel met karma?
Jy laat ’n helse legacy agter, doen jy dit om vrede te maak met die onvermydelike dood?
Ek is nie bewus van ’n nalatenskap nie en ek glo nie daar is of kan wees nie, want ek het in my jeug doelbewus begin werk in die vervlietende wêreld van vermaak, liewer dan die (uitvoerende) kunswêreld. Deesdae het die twee wêrelde baie nader aan mekaar beweeg, maar daar is tog nog ’n verskil. Die enigste nalatenskap is waarskynlik opgesluit in die paar mense wat ek opgelei het of laat oplei het.
Hoe maak jy vrede met jou eie, onvermydelike dood?
Ek dink ek is uit geaardheid uit baie nugter oor lewe en dood. Mens moet net nie voor jou tyd doodgaan uit bestaansverveling nie – dit sal vreeslik wees! As almal van ons klaar geleef het, gaan almal van ons genadiglik dood! Maar ek is ’n sissie: Ek kan geen pyn verdra nie en my pyndrumpel is baie vlak; fisiek sowel as geestelik. Ek bewaar myself so ver moontlik teen pyn!
* Spieëlbeeld is beskikbaar by Namibia Book Market in Macadamstraat, Windhoek.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie