Seks- , mensehandel ontbloot
Seks- , mensehandel ontbloot

Seks- , mensehandel ontbloot

Mensehandelaars het die afgelope vyf jaar plaaslike en buitelandse slagoffers in die land uitgebuit, asook Namibiërs in die buiteland.
Ellanie Smit
Ellanie Smit – Volgens ’n wêreldverslag vaar Namibië beduidend beter as ander lande wat die vervolging en skuldigbevinding van mensehandelaars betref, asook die identifisering van slagoffers.

Hoewel die land volgens ’n Amerikaanse mensehandelverslag vir vanjaar wat verlede week uitgereik is, getiteld Trafficking in Persons, in dieselfde posisie is as die vorige jaar, is die land steeds geloof vir sy pogings om van mensehandel ontslae te raak.

Namibië is egter weer eens op die Vlak 2-lys geplaas. Dit beteken die land voldoen nie ten volle aan die minimum standaarde van die wet op die beskerming van mensehandelslagoffers nie, hoewel hy betekenisvolle pogings aanwend om hieraan te voldoen.

Volgens die verslag sluit Namibië se pogings in dat meer ondersoeke na vermeende handelaars gedoen word, meer word vervolg en is vir die eerste keer in twee jaar skuldig bevind.

Verlede jaar is nege mensehandelsake wat 18 verdagtes betrek in die land ondersoek in vergelyking met sewe sake in 2017.

Van dié nege sake het drie vermeende sekshandel behels, vier vermeende dwangarbeid en twee ondersoeke het ten tyde van die einde van die tydperk waaroor verslag gedoen is, steeds voortgeduur.

Vervolging is ingestel in sewe sake wat vyf verweerders betrek, in vergelyking met die vier gevalle wat verlede jaar vervolg is.

Al die verweerders is van die oortreding van die wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad aangekla.

Intussen is twee verdagtes skuldig bevind in vergelyking met nie een skuldigbevinding in 2017 nie.

Een is agt jaar tronkstraf opgelê en die ander een is teen die einde van die tydperk waaroor verslag gedoen nog nie gevonnis nie.

Volgens die verslag wend Namibië se regering groter pogings aan om slagoffers van mensehandel te beskerm.

Altesaam 21 slagoffers is geïdentifiseer: vyf vroue, tien meisies en ses seuns.

Van hierdie slagoffers is 14 na ’n veilige hawe van ’n nieregeringsorganisasie verwys, wat gedeeltelik deur die staat befonds word.

Vyf Namibiese kinderslagoffers is met hul ouers herenig en twee Zambiese burgers is aan hul land terugbesorg.

In 2017 is ook 21 slagoffers geïdentifiseer waarvan vyf na ’n veilige hawe verwys is. Sewe van dié slagoffers was Namibiërs en 14 was burgers van Zambië, die Demokratiese Republiek die Kongo en Angola. Altesaam 13 van dié slagoffers is vir dwangarbeid uitgebuit, wat huiswerk en vee oppas insluit, en sewe was slagoffers van sekshandel.

Een is vir sekshandel én dwangarbeid uitgebuit.

Mensehandelaars het die afgelope vyf jaar plaaslike en buitelandse slagoffers in die land uitgebuit, asook Namibiërs in die buiteland.

Party slagoffers word glo aanvanklik wettige werk teen redelike vergoeding aangebied, maar word dan gedwing om in stede en op kommersiële plase te werk.

Namibiese kinders word uitgebuit vir dwangarbeid op plase, om vee op te pas, huishoudelike werk te doen en vir sekshandel in Windhoek en Walvisbaai.

“Onder Namibië se etniese groepe is veral San- en Zemba-kinders kwesbaar vir dwangarbeid op plase of in huise. Kinders van minder gegoede buurlande word aan sekshandel en dwangarbeid onderwerp, wat insluit dat hulle op straat in Windhoek en ander stede moet smous, asook in die visbedryf. Angolese kinders word soms Namibië toe gebring om vee onder dwang op te pas,” sê die verslag.

Volgens die verslag het die regering 35 regspraktisyns opgelei in die identifisering van moontlike slagoffers en hoe om hulle te beskerm en van regshulp te bedien, asook in die voorkoming en bewusmaking van dié misdaad.

Verder is 35 maatskaplike werkers en pesoneel van veilige hawes in die beskerming van slagoffers opgelei, en 140 immigrasiebeamptes het teenhandel-opleiding ontvang.

Die regering het in samewerking met ’n internasionale organisasie ’n nasionale verwysingsmeganisme en standaardprosedures saamgestel om as gids vir beamptes te dien in die identifisering en beskerming van slagoffers.

Die Nasionale Aksieplan vir Geslagsgebaseerde Geweld (GBV) is ook opgestel en versprei, wat ’n volledige raamwerk vir die hantering van die probleem behels.

Die ministerie van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping het 77 arbeids-, beroepsgesondheids- en veiligheidsinspekteurs aangestel wat verantwoordelik vir wetstoepassing teen kinderarbeid is.

Die regering het ook groter wetstoepassingspogings teen mensehandel aangewend.

Volgens die wet op die voorkomning van georganiseerde misdaad is seks- en mensehandel ’n misdaad en is dit strafbaar met tot 50 jaar tronkstraf of ’n boete van nie meer as N$1 miljoen nie.

Volgens die verslag is dié strawwe streng genoeg en, wat sekshandel betref strook dit met strawwe wat vir ander ernstige misdaad soos verkragting opgelê word.

“Die regering het egter op sekere kerngebiede nie aan die minimum standaarde voldoen nie. Die regering het nie die implementering van regulasies vir die wetsonwerp op die bestryding van mensehandel afgehandel nie, wat vereis word vir dié wet om in werking gestel te word. Hy het ook nie geriewe wat slagoffers veilig moet huisves na behore befonds nie,” lui die verslag.

Daar is ook nie ’n beleid wat mensehandelslagoffers aanmoedig om deel te neem aan ondersoeke nie. Die wet maak voorsiening vir die beskerming of huisvesting van kwesbare getuies, wat ook vir menshandelslagoffers moet geld.

Ten spyte hiervan het 14 slagoffers wetstoepassers vrywilliglik gehelp in die tyd waaroor verslag gedoen is.

Volgens die verslag het die regering inligting en terugbesorging aangebied in ’n geval waarby vyf Namibiese kinders in die Verenigde Koninkryk uitgebuit is.

Hoewel die regering geen formele beleid het om buitelandse slagoffers van verblyfpermitte te voorsien nie het beamptes in vorige verslagtydperke ad hoc-reëlings getref vir slagoffers om in Namibië te bly.

Die verslag stel voor dat Namibië vennote in die samelewing wat slagoffers huisves en versorg, beter finansier om seker te maak hulle beskik oor die nodige hulpbronne.

Die verslag raai Namibië ook aan om groter pogings aan te wend om verdagtes te ondersoek en te vervolg.

“Die regering het nie pogings aangewend om die vraag na dwangarbeid en sekshandel te verminder nie.”

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer