Seksskandaal: Onnie steeds by Suide-skool
Seksskandaal: Onnie steeds by Suide-skool

Seksskandaal: Onnie steeds by Suide-skool

Totdat 'n dissiplinêre proses 'n onderwyseres skuldig daaraan bevind dat sy 'n verhouding met 'n skoolmeisie gehad het, bly sy in haar pos.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



'n Onderwyseres van 'n hoërskool in die Suide, wat daarvan beskuldig word dat sy 'n skoolmeisie ontvoer en met haar seks gehad het, gee steeds klas.

Die 45-jarige me. Valery Mildred Bock, 'n onderwyseres verbonde aan die Hoërskool Suiderlig op Keetmanshoop, het vroeër vandeesmaand in die landdroshof op die dorp op aanklagte van ontvoering en onsedelike gedrag verskyn.

Die 15-jarige meisie is 'n graad 9-leerling aan 'n ander hoërskool op die dorp.

Die ministerie van onderwys, kuns en kultuur het by monde van sy permanente sekretaris, me. Sanet Steenkamp, gesê Bock word onskuldig geag totdat sy skuldig bevind is.

“Ons neem kennis van die aandrang op haar skorsing, maar sy word as on­skuldig beskou totdat sy skuldig bevind is ná 'n baie regverdige dissiplinêre proses, soos deur die staatsdienswet voorgeskryf,” het Steenkamp gesê.

Volgens haar is Bock nie geskors nie en bly sy, hangende die uitkoms van 'n dissiplinêre proses, in haar pos. Steenkamp het gesê die graad 9-leerling ontvang wel berading en psigososiale ondersteuning.

Sy het voorts gesê 'n voorlopige ondersoek deur die ministerie is reeds van 27 tot 31 Mei van stapel gestuur om die beweerde liefdesverhouding en “uitbuiting” tussen die onderwyseres en die skoolmeisie te ondersoek.

Volgens Steenkamp is die beweerde optrede en gedrag van die onderwyseres 'n oortreding van bepaling 65A en die gedragskode vir onderwysers soos in die onderwyswet vervat.



“Die ||Kharas-direktoraat van onderwys, kuns en kultuur gaan dokumentasie van die ondersoek kry sodra dit afgehandel is sodat getuienis van die bevindinge van die direktoraat se ondersoek gestaaf kan word,” het sy bevestig.

Volgens haar is 'n aparte saak deur die leerling se ouers by die polisie aanhangig gemaak.

Steenkamp het beklemtoon daar word “streng en doelbewus” teenoor personeel opgetree wat hulle aan wangedrag skuldig maak en hul posisie van vertroue misbruik het.

“In gevalle waar 'n bewering gemaak word dat 'n onderwyser by 'n leerling of leerlinge betrokke was, word 'n aanvanklike ondersoek by die betrokke skool van stapel gestuur. Dit word gevolg deur 'n voorlopige ondersoek op streeksvlak deur 'n onafhanklike span.”

Word die bewering bevestig, word die betrokke onderwyser deur die permanente sekretaris van wangedrag aangekla en volg 'n dissiplinêre proses.

“In hierdie stadium word die onderwyseres wat tans ondersoek word, die kans gebied om die beweringe teen haar te weerlê en ook om getuies te roep wat haar onskuld kan bewys.”

Danksy 'n beleid van geen verdraagsaamheid teenoor 'n onderwyser wat tydens die dissiplinêre verhoor aan wangedrag skuldig bevind word, fokus voorstelle van die dissiplinêre komitee grootliks op die erns van die klagte.

Volgens Steenkamp word die voorstelle van die komitee vir 'n finale besluit of die goedkeuring daarvan na die openbare dienskommissie verwys. Bock is tans uit op borgtog van N$4 000 en moet weer op 31 Julie in die hof verskyn.

In 'n onverwante voorval het 'n voormalige opsigter by die Laerskool Karundu op Otjiwarongo vroeër vandeesmaand in die hoërhof in Windhoek ontken dat hy 10 koshuisseuns oor 'n tydperk van drie jaar gemolesteer het. Mnr. Mervin Nguyapeua staan tereg op 32 aanklagte van verkragting en 27 alternatiewe klagtes van seksuele dade met 10 seuns jonger as 16. Die beweerde verkragtings het vanaf 2013 tot 2015 plaasgevind toe hy as opsigter by die koshuis in diens was. Hy bly in aanhouding.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!