Selakante van Comore wag
Selakante van Comore wag

Selakante van Comore wag

Sokker
Die Tafel Lager Brave Warriors sal op 13 Augustus in hul derde ronde kwalifiserende wedstryd vir die 2018 Afrika Nasieskampioenskap (Chan) teen Comore opdraf.

Dit sal die Warriors se eerste ontmoeting in die geskiedenis teen Les Coelecantes (die Selakante) wees wat by die Said Mohamed Cheikh-stadion in Mitsamiouli gespeel word. Die herontmoeting is op 18 Augustus in die Sam Nujoma-stadion.

Indien Namibië daarin slaag om Comore te klop, sal die land vir die eerste keer vir die Chan-eindtoernooi kwalifiseer en kan dus sy debuut in Kenia 2018 maak.

Met die Zimbabwe-hekkie agter die rug, kan hoofafrigter Ricardo Mannetti en sy tegniese span hul aandag op die komende aksie rig. Comore word tans deur Fifa as die 140ste beste span in die wêreld gereken, terwyl Namibië steeds op 156 wankel. Maar met die onlangse oorwinnings tuis en stewige vertonings weg, kan Mannetti en sy troepe met redelike selfvertroue na Mitsamiouli vertrek.

Indien Comore dalk die Braves in die eerste kragmeting hokslaan, kan 'n glips weg van die huis af onnodige druk op Mannetti en die spelers plaas. In so 'n geval sal kaptein Ronald Ketjijere en sy spanmaats op 18 Augustus tuis 'n klinkende oorwinning moet behaal om 'n geskiedkundige oomblik te verseker.

Hoewel Mannetti straks sy beste moontlike oefengroep bymekaar het, is daar spelers wat met nukkerige beserings sukkel. Petrus Shitembi, die vlugvoetige middelveldspeler wat op enige dag soos 'n vetgesmeerde blits sy opponente se verdediging deurmekaar kan krap, kon nie die afgelope naweek vir sy klubspan (Tura Magic) in Gobabis speel nie.



'VOEL BAIE BETER'

Shitembi het die afgelope ruk 'n beseerde sleutelbeen gedokter, maar is terug by die Braves se huidige oefenkamp en sê hy is gesond om weer sy plek met oorgawe te vul.

“Die besering voel baie beter en die rus het my goed gedoen. Ongelukkig kon ek nie vir my span met die Debmarine-beker opdraf nie, maar ek is verheug om te weet ons gaan in die semifinaal teen Mighty Gunners speel.

“Ek sien uit daarna om weer vir die Warriors te speel en sal reg wees om Comore die stryd aan te sê. Die ouens se wedstrydfiksheid is baie beter, ons werk baie hard, want Mannetti en sy span duld geen laksheid nie. Ons waardeer die ondersteuning wat ons van die sokkergeesdriftiges ontvang,” het Shitembi vertel.

Kaptein Ketjijere en Oswaldo Xamseb is nog twee wat ietwat krank is. Beide sukkel met spierbeserings en sal 'n week kry om te rus. Die twee sal volgende week eers weer vir diens aanmeld.

Intussen het Mannetti twee onbekendes van Young African na sy oefengroep genooi. Himeezembi Hengombe en Ballack Katjiteo het die breier se oog die afgelope ruk gevang. - NFA.org.na

Kommentaar

Republikein 2025-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer