Seldsame pylinkvis wei naby strand

Des Erasmus
Des Erasmus - Namibiese hengelaars spog met die onlangse vangs van 'n pylinkvis van meer as 4 kg van die kant af.
Dit was hul antwoord op die Suid-Afrikaanse hengelaar wat 'n steenbras van 24,7 kg by Strand gevang het. Toe kom nog 'n Namibiër en vang 'n kabeljou van 23,5 kg by Popeye, net noord van Hentiesbaai.
Hier te lande het hengelaars nie veel erg gehad aan die ophef oor die steenbras wat onlangs by Strand in ­Suid-Afrika gevang is nie.
Langs die Namibiese kus haal steenbrasse kwalik 20 kg, maar daar is 'n spesieverskil tussen Suid-­Afrikaanse en Namibiese steenbrasse.
Langs die Kaapse kus staan steenbrasse soos die bielie van Strand bekend as 'n Weskussteenbras. Die Namibiese steenbrassoort staan in verwysings bekend as witsteenbrasse. Die Suid-Afrikaanse steenbras het 'n taamlike skerp bek terwyl die Namibiese spesie 'n ronder bek het.
Die pylinkvis, in hengelgeledere bekend as “tjokka” en ook “totta”, kom nie aldag naby die Namibiese strande voor nie, nog minder aan die hoek. Onder fynproewers staan dit ook bekend as “calamari”.
Pylinkvisse kom gewoonlik in dieper water voor met die ver­wante ­seekatte in die vlakker water. In dieper water vang boothengelaars wel soms ­pylinkvisse.
'n Bestaansvisser het hom verlede week met dié seldsame vangs by die visskoonmaakplek op Hentiesbaai aangemeld. 'n Vinnige transaksie is daar met Bertie Diedericks, een van die dorp se bekende hengelaars, beklink. Daarvandaan was dit vrieskas toe met Diedericks, wat blykbaar stukke van die pylinkvis vir aas wil gebruik. Met die res kan dit pan toe wees.
Die bestaansvisser het by die Skubbe­bar gesê hy het sy vangs op witmosselaas behaal. Vistermanne meen dis nie 'n geval van die pylinkvis wat die hoek gesluk het nie, maar waarskynlik van die tentakels wat met die hoek en aas verstrengel geraak het. Hennie du Toit is die hengelaar wat verlede week 'n kabeljou van 23,5 kg by Popeye gevang het. Dit is nie 'n Namibiese rekord nie, maar wel een van die grootste kabeljoue wat in maande langs die kus gevang is.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!