Selfdoodpakt of moord? Familie praat
Selfdoodpakt of moord? Familie praat

Selfdoodpakt of moord? Familie praat

Die oorsaak van die Suid-Afrikaner, mnr. Barry Vorster, se dood is steeds onbekend.
Jessica Botes
Jessica Botes - Die familie van 'n Suid-Afrikaanse man wat in 'n vlak graf noord van Swakopmund begrawe is, is steeds erg geskok en verward oor die vreemde omstandighede rondom sy dood.

Die oorledene, mnr. Barry Vorster, het Namibië na bewering verlede maand saam met sy lewensmaat besoek met die doel om saam selfdood te pleeg.

Die lewensmaat het Vorster glo in die omgewing van Kaap Kruis begrawe, sy dood aan die polisie gerapporteer en ook sy liggaam aan die polisie uitgewys.

Adj. komm. Erastus Iikuyu, streekskoördineerder van misdaadondersoeke in die Erongostreek, het gesê geen vuilspel word vermoed nie.

Vorster se liggaam is op 19 November weer opgegrawe en na die polisielykshuis op Walvisbaai geneem waar 'n nadoodse ondersoek gedoen is. Volgens Iikuyu is monsters geneem en vir verdere ontleding gestuur en is die oorsaak van Vorster se dood nog nie bepaal nie.

Vorster se broer, Alan, wat in die Brittanje woon, sê egter hy en sy suster is oortuig daarvan dat 'n misdaad gepleeg is.

In 'n brief aan Alan het Vorster se lewensmaat geskryf sy en Vorster het op 4 November Namibië toe gekom.

Nadat hulle volgens haar 'n motor in Windhoek vir N$55 000 gekoop het, het hulle na 'n afgeleë gebied aan die kus gery en N$60 000 verbrand. Dit was byna al die oorblywende geld van dit wat hulle saamgebring het.

Hulle het dit glo gedoen omdat “mense glo hierdie bestaan is die enigste, en nadat ons hierdie lewe verlaat, is daar óf 'n hemel, 'n hel óf 'n terugkeer na hierdie bestaan. Dit is alles waar - afhangende van jou perspektief - maar daar is ook baie meer.” Vorster se maat het verder in haar brief verduidelik die egpaar het na Namibië gekom op soek na geestelike verryking en “om ander vorme van bestaan en ander werklikhede”te ervaar.

Hulle het na bewering die afgelope ses jaar in geestelike mediums ontwikkel en het dikwels “vir toestemming gevra om meer te ervaar”.

“Die enigste manier om dít moont­lik te maak, is natuurlik om hierdie bestaan te verlaat. Een manier om van een bestaan na 'n ander te reis, is om fisiek op te hou bestaan,” het sy geskryf.

“Die konsep van selfdood is oor tyd deur die kerk gemanipuleer. As mense se oë oopgaan oor hoe erg die mensdom aan slawerny onderwerp is en hoe hulle verder van die waarheid gestoot word, sal almal kies om hul eie lewens te neem.

“Daar was niks negatief aan hierdie ervaring nie. Trouens, ons was albei opgewonde. Ons het tot donker gewag en vir mekaar gesê 'sien jou later', 'n tuinslang aan die uitlaatpyp gekoppel, slaappille geneem en ons polse gesny.

“Ná 'n rukkie het ons wakker geword, die enjin het steeds geluier en die agterruit was nog oop en ek kon dit nie toemaak nie. Ons is later deur ons geestesgids vertel dat ons drie dae lank dood was en ons het twee dae lank in die woestyn deurgebring om te sterf,” het sy geskryf.

Volgens haar was Vorster baie swak en in 'n slegte toestand, maar nog nie naby aan dood nie. Hulle het glo nie genoeg brandstof gehad om terug te ry dorp toe nie, en na 'n lodge op Kaap Kruis gery.

“Ons het 'n week in die staatshospitaal op Swakopmund deurgebring en ons selfoon verkoop om geld te kry vir kos en brandstof. Gedurende hierdie week het ek na Barry omgesien, sy liggaam was verswak en ons is gesê die einde was naby. Ons was altwee baie teleurgestel dat ons steeds hier is.”

Daarna het hulle glo 'n paar nagte in hul motor geslaap voordat hulle besluit het om nóg 'n selfdoodpoging uit te voer.

Hulle het op 18 November na die strand noord van Swakopmund gery waar hulle gewag het dat die son sak. Hulle het toe glo weer 'n tuinslang aan die uitlaatpyp gekoppel en die enjin aangeskakel.

“Ná omtrent 15 minute het Barry gesê 'skakel dit af'. Ek het. Ek het al die deure oopgemaak. Sy asemhaling was baie vreemd. Ek het sy hand vasgehou. Toe hou hy op asemhaal. Ek het nie geweet of hy weg was of nie. Dit was donker. Ek het hom met 'n duvet bedek, die deure gesluit met die vensters effens oop en in die bestuurdersitplek geslaap.

“Toe ek die volgende oggend wakker word, het ek besef hy is dood.

“My eerste reaksie was vreugde. Ek is bly dat hy nou op 'n beter plek is, maar ook kwaad en teleurgesteld dat ek nie saam met hom kon gaan nie. Ek was hartseer omdat ek my beste vriend verloor het,” het sy geskryf.

Alan het aan Republikein gesê hy was nie bewus van Vorster en sy lewensmaat se betrokkenheid by enige godsdiens of kultusgroep nie en dat sy broer nooit voorheen probeer het om sy eie lewe te neem nie.

“Hoekom het sy aanvanklik vir ons vertel dat Barry rustig in sy slaap gesterf het op 19 November, maar dit het haar nog 11 dae geneem om sy familie daarvan in kennis te stel?

“Hoekom het sy albei selfmoordpogings oorleef? Hoekom het sy Barry in die woestyn begrawe? Sy het ons vertel Barry is op 8 Desember by die Walvisbaai-begraafplaas begrawe en die polisie sê hy is nog in die lykshuis? Hoekom het sy die oorblywende geld verbrand? Het sy in ag geneem dat iemand die stukke moet optel en vir Barry begrawe?

“Dit is vrae wat my en my suster se verstand te bowe gaan. Ek het nie antwoorde nie,” het Alan gesê.

Volgens Iikuyu is Vorster se liggaam nie meer by die polisielykshuis op Walvisbaai nie. 'n Begrafnisondernemer het die liggaam glo gaan haal.

“Ek is nie seker of Vorster se lewensmaat nog in die land is nie. Hoewel sy deur die polisie ondervra is, is sy nie 'n verdagte nie en word sy ook nie met betrekking tot die selfmoord ondersoek nie,” het Ikuyu gesê.

VREEMDE GELOWE

'n Ander familielid, wat nie sy naam genoem wil hê nie, het aan Republikein gesê Vorster en sy lewensmaat het nog altyd in vreemde gelowe belanggestel.

“Gedurende die agt jaar wat hulle in China gewoon het, het hulle na dinge soos ruimtewesens, die konsep van 'n hol aarde en kristalle gekyk. In die afgelope twee of drie jaar het hulle die geestelike wêreld meer begin ondersoek. Barry het vir my gesê hulle het elke Donderdagaand kontak met dooies gehad.

“Hy het my vertel hy het jare gelede finansieel baie swaargekry en in 'n stadium oorweeg om selfdood te pleeg sodat sy familie van sy lewensversekering kon leef.

“Hy het egter nooit voorheen selfdood probeer pleeg nie.”

Die familielid beweer Vorster en sy lewensmaat het die geld verbrand omdat hulle maar net “roekelose mense” was en omdat hulle vry wou wees van alle aardse besittings.

“Ek dink dit is baie verdag dat sy twee selfdoodpogings oorleef het. Dit is vir my baie vreemd dat sy hom ná die eerste selfdoodpoging weer gesond probeer maak het en hom dan weer gehelp het om selfdood te pleeg. Wie doen so iets?”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!