Selfliefde is ook belangrik
Ek voel Valentynsdag het vanjaar so stil-stil verbygegaan.
Niemand (rondom my) het werklik gelyk of hulle met blommetjies, hartjies en teddiebere oor die kop gebliksem is nie. Daarvoor is ek baie dankbaar.
Op skool was dit soos ’n kompetisie om te kyk wie teen die einde van die dag die meeste gemors huis toe kan piekel.
Die arme siele wat niks gekry het nie, begin al op 14 beplan aan ’n bittere, eensame kluisenaarslewe met 17 katte en twee budgies. Dít alles omdat jou crush nie vir jou een van daardie hartjievormige sjokolades gekoop het wat eintlik effens soos Sunlight Liquid proe nie.
Mens vergeet dikwels dat rose na ’n paar dae verlep, te veel tjoklits gee puisies en die teddiebere wat jy kry, pas gewoonlik by níks in jou kamer nie en beland meer as gereeld in ’n boks onder die bed.
Ek probeer nie soos ’n bitterbek enkellopende klink nie (al is ek dalk net éffens bitter). In ons huis is daar net nooit enigsins ’n ophef oor Valentynsdag, Vadersdag of Moedersdag gemaak nie.
Ek het nog altyd gedink dis bloot ’n geldmaakstorie. Natuurlik kan jy van my verskil. As iets jou gelukkig maak behoort my opinie nie te tel nie.
Ek dink tog daar steek iéts in die idee van ’n “dag van liefde”. Maar dalk nie wat jy dink nie. Met dié dat ek baie met kuns- en vermaakstories te doen kry, het daar onlangs ’n uitnodiging na ’n fotografie-uitstalling getiteld A State of Contentment op my tafel geland. Die jong fotograaf Geena Visagie was agter die lens, en die konsep van dié uitstalling is wat my belangstelling geprikkel het.
“Op Valentynsdag oorlaai ons die mense naaste aan ons met liefde en toegeneentheid, maar die een persoon aan wie ons dikwels vergeet om waardering en liefde te betoon, is onsself. Hoe dikwels kan ons sê ons is tevrede met dít wat ons in die spieël sien? As jy bloot jou vingers kon klap om een ding aan jou voorkoms te verander, sou jy?”
Só word die konsep van die uitstalling verduidelik. As die skoen pas. . . Ek dink dis baie makliker om liefde aan ander te betoon as aan jouself. Veral as jy heeldag soos ’n afkophoender rondhardloop, is daar nie altyd tyd om ’n oomblik te neem om jouself te waardeer nie.
Dis ook dikwels makliker om ander se belange bo jou eie te stel (vir my, in elk geval). Ek dink ook nie daar is iets verkeerd daarmee nie. Maar dalk is dit oukei om een of twee dae per jaar te neem om bietjie selfsugtig te wees en jouself te bederf – hoe ook al jy wil!
Gaan vir ’n haarbehandeling, massering, eet ’n hele pizza alleen op of koop vir jou ’n bottel wyn en kyk The Great British Bake Off. Laasgenoemde was my plan vir gisteraand.
Ons is dikwels meer krities teenoor onsself as teenoor ander. Ek dink dit word baie goed gestel in die opsomming oor die konsep van A State of Contentment: “Ons leef in ’n era waar ons in ’n konstante stryd met onsself gewikkel is.”
Ware woorde. As jy nie vir jouself lief is nie, hoe kan jy vir ander mense lief wees, of glo dat ander vir jou lief is? Ons almal het dit al gehoor. Dit klink al soos ’n cliché, maar iets word seker ’n cliché vir ’n rede.
As ons vir ander lief kan wees ondanks hulle gebreke en onvolmaakthede, moet ons onsself dalk dieselfde gun.
Moenie soos Narcissus aan jou eie weerkaatsing verknog raak nie, maar pleks daarvan om droëbek in selfbejammering op Valentynsdag te sit, bederf jouself. Net ’n idee vir volgende jaar. O, en jy kan nog tot 9 Maart na Geena se uitstalling gaan kyk, as jy bietjie inspirasie nodig het! – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie