Selfs met tee draai verbruikers sente om
Die verhaal van kwaai mededinging vir verbruikers se sente is van toepassing op byna alle produkte.
Hanlie Stadler
Die skoenwinkel Spitz verkoop nou al drie jaar lank skoene teen dieselfde prys, maar sukkel om genoeg voete te lok om te tooi.
En selfs as dit by iets so betreklik billik soos tee kom, draai Suid-Afrikaners op die oomblik hul sente om.
AVI, die genoteerde maatskappy wat die meeste van sy inkomste uit tee en koffie en koekies verdien, sê mense het die afgelope jaar “afgegradeer” van Freshpak en Five Roses na goedkoper rooibos- en swarttee-handelsname. AVI is gelukkig dat hy self 'n goedkoper swarttee, Trinco, verkoop, maar as dit by rooibos kom, het hy geen goedkoper plaasvervanger nie.
Die verhaal van kwaai mededinging vir verbruikers se sente blyk ook uit AVI se afdeling vir koffie en versnaperinge. As dit by mode kom, kla AVI dat mense nie juis skoene koop nie en dat Green Cross homself misgis het met skoenmodes die afgelope jaar.
Dié inligting blyk uit AVI se resultate vir die boekjaar tot einde Junie, wat Maandag uitgereik is.
AVI doen in twee oorhoofse segmente verslag: kos en drank en modehandelsname. Elkeen het drie onderafdelings.
KOS EN DRANK
• Entyce Beverages
Dié afdeling sluit buiten Freshpak, Five Roses en Trinco ook Koffiehuis, Frisco, Douwe Egbert, House of Coffees en die verromer Ellis Brown in. AVI versprei ook Lavazza-koffie in Suid-Afrika.
In geheel het Entyce inkomste met 3,8% tot R3,98 miljard gestyg, maar sy bedryfswins met 5,5% tot R835,8 miljoen gedaal.
Daar was 'n 3,2%-daling in die volume tee wat AVI verkoop het. Sy inkomste uit tee het wel met 2,1% gestyg danksy prysstygings.
Die groep se inkomste uit koffie het met 5,7% gedaal weens prysdruk in 'n uiters mededingende mark. Volume verkope het met 2,2% gedaal. (Onlangs het Business Insider berig dat Koffiehuis en Frisco ingevolge nuwe konsepwetgewing nie meer as koffie geklassifiseer sal mag word nie – eersgenoemde omdat dit glukose bevat en laasgenoemde omdat dit nie 75% koffie bevat nie.)
AVI sê Ellis Brown het voordeel getrek uit verskaffingsprobleme by 'n “mededinger”. Dit kan net verwys na Nestlé se Cremora. Ellis Brown se verkope het volgens volume met 22,7% gestyg en inkomste met 22,5%.
• Snackworks
Dié afdeling sluit in Willards- en Bakers-produkte, insluitend koekies en skyfies soos Eet-Sum-Mor, Romany Creams, Iced Zoo, Provita, Salticrax, Cheese Curls en Flings.
Dié afdeling se inkomste het met 4% tot R4,12 miljard gestyg en bedryfswins met 2,4% tot R721,7 miljoen.
Die groep het 2,7% méér koekies verkoop en saam met prysstygings het dit die koekie-afdeling se inkomste met 4,4% laat styg.
Die groep het 1,5% meer soutbeskuitjies en skyfies verkoop en kon sy inkomste met 3% verhoog.
• I&J
Dié vissery se inkomste was basies onveranderd op R2,49 miljard en sy bedryfswins het met 7% tot R395,2 miljoen gedaal.
Min of meer dieselfde hoeveelheid vis van dieselfde grootte as in 2018 is gevang, maar duurder brandstof en instandhoudingskoste het die wins afgerem.
MODEHANDELSNAME
• Persoonlike sorg
AVI verkoop Yardley en Lenthéric in Suid-Afrika.
Ook hier eis mededinging in 'n stram mark sy tol, met verkope van veral lyfsproei en grimering wat gedaal het weens afslagpryse deur mededingers.
Die afdeling se verkope was onveranderd op R1,19 miljard, maar die bedryfswins het met 5% tot R237,1 miljoen gedaal.
• Spitz
Dié skoenwinkel se inkomste met 4,7% tot R1,52 miljard gedaal, grootliks omdat skoenverkope met 6,9% geval het. Dis ondanks die feit dat pryse van sy kernreekse sedert April 2016 onveranderd is, sê AVI.
Die afdeling se bedryfswins het met 14,1% tot R333,9 miljoen gedaal.
• Green Cross
Green Cross se inkomste het met 19,4% tot R295 miljoen gedaal, grootliks weens 'n daling in verkoopsvolumes en hy het 'n bedryfsverlies van R36,1 miljoen gelyk teenoor 2018 se R6,2 miljoen wins.
AVI gee toe sy somer- en winterreekse het swak verkoop, maar sê ook mededinging in die middelste prysklas vir “gemaklike skoene” was baie kwaai.
AVI het vroeër vanjaar Green Cross se Epping-skoenfabriek gesluit en Green Cross verkoop nou slegs ingevoerde skoene. Green Cross is 'n eg Suid-Afrikaanse handelsnaam wat in 1975 sy ontstaan in Kaapstad gehad het uit 'n skoenmakery wat Karl en Hildegard Zeppel begin het. Die Epping-fabriek het 39 jaar lank bestaan.
Die aflegging van honderde mense het die maatskappy R21 miljoen gekos.
In syfers
Só lyk AVI se resultate vir die boekjaar tot einde Junie vergeleke met die vorige boekjaar. Soos alle maatskappye moes AVI vanjaar sekere aanpassings doen oor hoe hy verslag doen ingevolge nuwe internasionale regulasies (IFRS), wat beteken dat hy twee stelle syfers uitgereik het.
Die syfers hieronder is op 'n vergelykbare grondslag. Die nuwe IFRS het nie 'n beduidende invloed op die wesensverdienste per aandeel nie.
• Inkomste: Styg met 1,2% tot R13,15 miljard
• Bedryfswins: Daal met 3% tot R2,48 miljard
• Wesensverdienste per aandeel: Daal met 5,2% tot 516,6c
• Finale dividend: 250c per aandeel, wat die totale dividend vir die jaar op 415c te staan bring; 4,12% laer as 2018 se 435c– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie