• Tuisblad
  • Sport
  • Selfvertroue groei ná 41-10 pak slae vir Zimbabwiërs
Selfvertroue groei nu00e1 41-10 pak slae vir Zimbabwiu00ebrs
Selfvertroue groei nu00e1 41-10 pak slae vir Zimbabwiu00ebrs

Selfvertroue groei ná 41-10 pak slae vir Zimbabwiërs

Die Namibiese span het Saterdag die trofee omhoog gehou as wenners van 'n vierhoekige toernooi.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Enersyds kom die Namibiese rugby­span se verowering van die eerste Wêreldrugby Stellenbosch-uitdaag­toernooi as 'n verligting.

Kaptein Johan Deysel en sy manne het die uitdagings in hul pad met groot oortuiging te bowe gekom en het teen Kenia (60-24) en Zimbabwe (41-10) gewys dat hulle hoegenaamd nie in 'n bui is om hul greep op die vasteland se Wêreldbeker-plek te verslap nie.

Dis inderdaad 'n verligting dat Namibië ondanks die gebrek aan speeltyd sedert Japan 2019 oënskynlik nie beduidende veld verloor het nie.

Afrigters Allister Coetzee en Pine Pienaar se groep lyk blakend gesond om in Julie volgende jaar in Frankryk teen Zimbabwe en Kenia wéér so te maak en hul deelname aan Frankryk 2023 te verseker.

Met afwesige name soos Tjiuee Uanivi, Torsten van Jaarsveld en ander kan 'n mens aanvoer die groep was straks nie eens 100 persent op volle sterkte nie – bloot 'n geval dat selfs die nuwelinge almal hul hand opgesteek en soomloos by die patroon ingeskakel het.

Selfs met die jeugdige en onervare stutte Herschell van Wyk en Gerhard Opperman het is met tye strafskoppe met hul sterker skrumwerk afgedwing.

Andersyds is die minder wonderlike nuus dat hierdie Wêreldbeker-siklus oënskynlik weer sal verbygaan sonder dat Namibië sal weet hoe sy span sal vaar wanneer hy teen die topvlak lande sy standaarde moet lig. Onthou, die Sables is al 20 jaar wenloos teen Namibië.

Elke WB-toernooi se gewildste mantra – dat die “kleiner” lande beter blootstelling verdien – kom steeds nie verder as blote praatjies nie. Dít help min in die strewe om daai nulletjie uit te wis wat by WB's agter Namibië se naam staan.

Saterdag teen Zimbabwe, net soos teen Kenia, het dit eers 25 minute van sagmaakwerk gekos voordat Namibië uiteindelik die damwal gebreek het om die 0-0 te laat verdwyn.

Johann Tromp het van 'n los skop aan die hardloop geraak en Oderich Mouton is aan die regterkant gestuit, maar die bal was vinnig beskikbaar vir Louis van der Westhuizen se volgende stormloop. Cliven Loubser het in die volgende fase twee keer hanteer voor Janco Venter met 'n paar Zimbabwiërs gevorder het. Toe hy grond toe gaan, was linkervleuel JC Greyling die opportunis om eerste op te pik en sy 24ste drie in sy 37ste toets te druk. Damian Stevens kon nie oorskop nie.

Zimbabwe het teruggekap met 'n voorspelerdrie afgerond deur flank Biselele Tshamala, nadat hy eers tien minute met 'n geelkaart uitgedien het. Losskakel Dudley White-Sharpley het verdoel.

Wian Conradie het weer 'n fenomenale vertoning gelewer, ondanks sy tweede geelkaart in twee wedstryde, toe hy ná 32 minute as baldraer 'n voorarm gebruik het.

In sy afwesigheid was Namibië in die minute voor rustyd gelukkig dat Zimbabwe die derde keer toe hulle 'n strafskop kry en 'n skrum kies, gestraf is – nadat Namibië reeds gewaarsku is dat hy op die punt is om 'n strafdrie en/of nóg 'n kaart af te staan.

Gevolglik was Namibië rustyd net met 5-7 agter, maar White-Sharpley het met 'n strafdoel die eerste punte ná rustyd bygevoeg.



DIE OORNAME

Ná 45 minute is Renaldo Bothma ná 'n stewige vertoning afgehaal en Adriaan Booysen het sommer dadelik 'n drie afgerond ná 'n lynstaandryf. Stevens skop mis (10-10) en maak kort daarna ook 'n glips deur direk uit te skop.

'n Vloeiende beweging ná 'n teenaanval deur Loubser lei tot Max Katjijeko se tweede drie in 17 toetse. Helarius Kisting, plaasvervanger vir Stevens, kan ook nie verdoel nie.

Die truuk dat Van der Westhuizen bo-oor die lynstaan gooi vir binnesenter Danco Burger het saam met 'n dryf­lopie deur Adriaan Booysen tot by die doellyn gelei, waar Kisting na regs uitgegee het vir plaasvervanger Lorenzo Louis se drie. Louis mis die skop (20-10).

Van 'n skrumingooi ná 64 minute buite die kwartlyn het Deysel met 'n kort aangee vir Johann Tromp deurgejaag vir sy 21ste drie in 46 toetse. Eindelik slaag Kisting met die eerste doelskop (27-10).

Dit word 34-10 met Wian Conradie se volgende drie ná 'n sterk lopie deur Janco Venter, verdoel deur Kisting. Om mee af te sluit, betaal Conradie terug deur van 'n lynstaan weg te breek en met 'n 30-meterlopie talle verdedigers te klop voor Booysen sy aangee vat vir die drie langs die pale, wat Kisting verdoel.
[email protected]

FOTO’s
Die Namibiese span Saterdag tydens die vieringe van hul verowering van die Wêreldrugby Stellenbosch-uitdaagtoernooi. Foto’s verskaf
Zimbabwe se heelagter Tapira Mafura voer ’n ongelooflike brawe duikslag uit om PJ van Lill op volle vaart kort voor die doellyn die bal te laat verloor.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!