Semifinaliste oorleef spannende naweek
FNB Unam eindig boaan nóg 'n seisoen van die NRU premierliga, met FNB Wanderers tweede.
Tielman van Lill
Die vier semifinaliste wat mekaar komende naweek die stryd sal aansê in die Namibië Rugbyunie (NRU) se premierliga is bepaal ná afgelope Saterdag se vier spannende wedstryde wat almal nog ’n invloed op die samestelling kon hê.
FNB Unam se eerste span het by die Unam-stadion sy opwindende derby teen FNB Western Suburbs met 36-29 ingepalm en sodoende verseker dat hy nóg ’n ligaseisoen aan die toppunt van die punteleer afsluit.
Afrigter Johan Diergaardt se Unam-span sal in die semifinaal teen die vierde geplaaste FNB Rehoboth opgeweeg word, terwyl FNB Wanderers (tweede) en Suburbs die ander plek in die finaal moet uitklaar.
Die navrae wat gister aan die NRU se kompetisiekomitee gerig is, het laat blyk dat komende Saterdag se halfeindstryde by die twee gasheerklubs se veld aangebied word wat die hoogste op die puntelys geëindig het – met ander woorde by Unam en by Wanderers. Op 31 Oktober sal die eindstryde (premierliga en reserweliga) by die Hage Geingob-stadion aangebied word.
Voor Saterdag se kragmetings was Suburbs nog in die tweede posisie, maar is vanweë hul nederlaag by Unam deur die Wit Hingste verbygesteek. Nadat al die spanne sewe wedstryde gespeel het, word Suburbs se punteverskil (+132) net deur Unam (+133) oortref – ’n aanduiding van die twee klubs vir wie drieë en punte die maklikste gekom het.
Rehoboth-rugbyklub het Saterdag onder druk die wa deur die drif getrek om vyf ligapunte teen FNB Reho Falcon (34-24) in te oes en sodoende met ’n enkele ligapunt verskil (25 teen 24) vir FNB Grootfontein uit die semifinaal te hou – in die noordespan se eerste seisoen in die groot geselskap nadat hulle tevore die NRU eersteliga oorheers het.
By Wanders in Pionierspark was Wanderers soos verwag in sy derbybotsing met 33-15 baas teen die ontwrigte Trustco United 1.
Op Grootfontein het FNB Grootfontein die maksimum van twee bonuspunte bygevoeg deur FNB Kudus op ’n warm namiddag met 46-22 deurmekaar te hardloop.
Grootfontein, wat agt drieë gedruk het, se vloeiende patroon van ondersteunende hardlooprugby het vanjaar al sy opponente se respek afgedwing en het help verseker dat die ganse premierliga se vereiste vlak verhoog het en dat elke aanspraakmaker op die semifinale tot die einde voluit moes speel.
UNAM OORLEEF TEEN SUBURBS
Dié twee ysterspanne het tussen hulle ses drieë in die eerste helfte gedruk om rustyd met 19-21 in die guns van Suburbs af te sluit. Suburbs se losskakel Justin Nel se geoefende skopvoet met drie suksesvolle doelskoppe het hulle met ’n kortkop laat voorloop.
Nel het vroeg in die tweede helfte sy span se telling met ’n strafskop tot 19-24 laat aangroei, maar hulle kon net een vyfpunter vir hul totaal van 29 byvoeg.
Unam met rotsvaste voorspelerspel en ondeurdringbare verdediging, het egter in die 13de minuut ná die hervatting met ’n drie die voortou geneem (26-24), maar een Suburbs-drie later (26-29) het dit in die laaste halfuur ’n strafskop asook ’n verdoelde drie gekos om die Khomasdallers se lot te verseël.
Die puntemakers:
UNAM 36-29 SUBURBS
Unam (5 drieë): Camlo Martin, Delron Brandt, Jean Claude Winkler, Gilad Plaatjies, Sunday Haitembu. Brandt voeg vier doelskoppe en ’n strafdoel by.
Suburbs (4 drieë): Rowen Jansen, Gino Wilson, Dumarcho Hartung, Deveroux Jansen. Justin Nel slaag met 3 doelskop en ’n strafdoel.
WANDERERS 33-15 UNITED 15
Wanderers (5 drieë): Warren Ludwig, Christo van der Merwe (2), JC Rossouw, Jan Meyer. Doelskoppe: Ethan Beukes 2, Jan Meyer 2.
United (2 drieë): Hanreco van Zyl, Venoumba Kanguatjivi. Riaan van Zyl slaag met een doelskop, een strafdoel.
GROOTFONTEIN 46-22 KUDUS
Grootfontein (8 drieë): Johan Luttig, Irongwa Atshivudhi, Buruxa Geiseb, Ian Malan (2), Ronald Deck, Willem Enslin, Wikus Jacobs. Doelskoppe: Potgieter 2, Deck 1.
Kudus (4 drieë): Benito Bezuidenhout, Ernesto Bampton (2), Gino Isaacs. Doelskop: Bevin Koetzee 1.
REHOBOTH 34-24 REHO FALCON
Rehoboth (5 drieë): Cameron McNab (2), Samile Loubser, Hilian Beukes, Jeandré Loubser. Senter Henrique Olivier korrel raak met 3 doelskoppe en ’n strafdoel.
Falcon (3 drieë): Miguel Busch 2, strafdrie 1. Losskakel Franklin Busch plant beide doelskoppe en ’n strafdoel.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie