Sertifiseer kudde vry van TB, u00f3f toets
Sertifiseer kudde vry van TB, u00f3f toets

Sertifiseer kudde vry van TB, óf toets

Die buurland aanvaar nie dat Namibië vry van tuberkulose is nie en het dit duidelik gemaak dat TB-toetse vir Namibiese beeste nie summier net opgeskort word nie.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Die Suid-Afrikaanse departement van landbou, water en visserye (DAFF) het verlede week ’n verklaring uitgereik waarin hy aankondig dat hy nié tuberkulosetoetse vir Namibiese vee gelig het nie.

Tog kán beeste tans onder sekere voorwaardes wel na Suid-Afrika uitgevoer word sonder om TB-toetsing te ondergaan, solank die kudde waaruit dit kom deur ’n veearts as TB-vry gesertifiseer is.

Ander voorwaardes sluit in dat die beeste nie enige tekens van TB mag toon op die dag waarop hulle gelaai word nie en nie deel van ’n elimineringsprogram vir TB mag uitmaak nie. Laastens behels dit dat die diere óf uit ’n kudde moet kom wat as vry van TB gesertifiseer is óf 30 dae voor hulle ingevoer word, negatief vir die siekte moet toets.

Uitvoerders sal dus steeds óf hul vee moet toets voor dit uitgevoer word of ’n veearts moet kry om hul beeskuddes as vry van TB te sertifiseer.

Dit volg nadat dr. Milton Maseke, die direktoraat veeartsenydienste (DVS) se hoof-veeartsenybeampte, verlede Maandag die versekering gegee het dat Namibiese speenkalfboere voorts hul diere na goedgekeurde Suid-Afrikaanse abattoirs en voerkrale sal kan uitvoer sonder om enige TB-toetse te doen.

Toe reeds het verwarring in landboukringe geheers oor ’n persverklaring wat vroeër die dag uitgereik is waarvolgens die ministerie van landbou, water en bosbou onlangs tot ’n ooreenkoms met DAFF kon kom dat Namibiese beeste nie meer binne 30 dae voor dit uitgevoer word, teen TB getoets hoef te word nie.

DAFF het verder gesê hoewel Namibië inligting ingedien het om te bewys dat sy kuddes vry van TB is, kon dit nie wetenskaplik deur hul veterinêre deskundige bevestig word nie.

“Indien veeartse in Namibië seker is dat die kuddes waaruit diere kom wat ingevoer word, vry van TB is, kan hulle dit sertifiseer,” het mnr. Steve Galane, die DAFF direkteur van kommunikasiedienste, in die persverklaring gesê.

Ander uitvoervereistes of standaard operasionele prosedures (SOP) geld egter steeds.

Altesaam 18 abattoirs en voerkrale het tot dusver goedkeuring verkry, met inbegrip van onder meer Mae West Feedlot, Braams Feedlot, Morgan Beef Feedlot, Cartol Abattoir, GWK Feedlot & Abattoir, Muller en Vermaas Feedlot, Mushlendow Feedlot, Karan Beef asook Sparta.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!